Verlossing en sending (1)

 

 “A soul without a body is a ghost; a body without a soul is a corpse. The Gospel is addressed to living persons, soul and body, in all of their broken humanity and need for wholeness.” E. Stanley Jones

 

Verlossing en sending (1)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

(Eksodus 1 en 2)

 

In Genesis 12:2 – 3 sluit God ‘n verbond met Abraham. Hy belowe om hom die vader van ‘n groot nasie te maak en deur hierdie nasie sal al die nasies van die wêreld geseën word. Maar nou is Israel slawe in Egipte. Dit is nodig dat Israel eers verlos moet word. Verlossing is ‘n baie belangrike tema is die Skrif. As Verlosser kom God tot Israel se redding – Hy beskerm hulle en herstel hulle.

 

In Eksodus 1:8 – 22 sien ons vier redes waarom Israel verlossing nodig gehad het.

  • Politieke slawerny (Eksodus 1:8 – 10)

In Egipte was die Israeliete immigrante/vreemdelinge. Tydens Josef se leeftyd was dinge nie te sleg nie. Maar: Toe ‘n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons?” Nou leef die Israeliete in vrees. Die koning sê vir sy mense dat hulle ‘n plan moet bedink sodat die Israeliete nie verder kan vermeerder nie. As gevolg van diskriminasie het God se mense geen politieke vryheid gehad nie – hulle is as ‘n bedreiging vir die Egiptenare gesien. Dit lei tot sterk optrede van Egipte se kant.

 

  • Ekonomiese slawerny (Eksodus 1:11 – 14)

Slawedrywers word aangestel en die Israeliete moes dwangarbeid doen – die Israeliete word onderdruk – die lewe word bitter swaar gemaak vir die Israeliete en hulle moes swaar met klei en bakstene werk. Hulle is gebruik vir bouwerk in Pitom en Rameses. Herinner dit nie vir ons aan vandag se situasie nie. Mense met mag buit steeds die swakkes vir hulle eie gewin uit. Menslike verkeer is vandag die tweede grootste georganiseerde misdaad in die wêreld. Hoekom? Seksuele afvalligheid en gierigheid. Maar ons glo God is ‘n God van geregtigheid en staan by die onderdruktes. Moet ons as sy kinders nie sy voorbeeld volg nie?

 

  • Sosiale slawerny (Eksodus 1:15 – 22)

Die Egiptenare tree toenemend brutaler op teen die Israeliete. Dit begin met die koning se besluit dat die Hebreeuse vroedvroue – Sifra en Pua – elke Hebreeuse seuntjie wat hulle verlos, moes doodmaak. Die vroedvroue voer nie die koning se bevel uit nie: Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe. Die koning wil weet waarom hulle dit gedoen het. Hulle antwoord: Die Hebreeuse vrouens … hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore. Hulle gehoorsaam God eerder as ‘n mens. Dan lees ons God se reaksie teenoor hierdie vroedvroue: God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee. Ons ken nie die koning se naam nie, maar die twee vroedvroue se name word genoem.

 

Nou is die farao briesend: Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi. Hy kies die Nyl, want almal het naby die Nyl gewoon. Die sterk stroom sou die kinderlykies vinnig wegvoer. Die Nyl was ook as ‘n god beskou – die Nyl gee en neem lewens. Dit lyk dus asof hulle die wil van die god doen. Hiermee wou die koning keer dat die Israeliete nie so vinnig sou vermeerder nie. God sou hulle uiteindelik verlos as Hy Egipte oordeel – die dood van al hulle eersgebore seuns (Eksodus 4:23). Die paasfees sou God se mense herinner aan God se verlossing.

 

Hier het ons ‘n Bybelse patroon: God neem ‘n plek van dood en verander dit in ‘n plek van lewe. Dink maar aan Noag en die sonvloed; Jona en die vis; God se mense en die Rooisee. Net so word Jesus se graf ‘n plek van lewe.

 

  • Geestelike slawerny (Eksodus 1:8 – 2:25, 9:1)

Die farao was die vyand van God; God moet Israel verlos sodat hulle Hom kan dien (Eksodus 9:1). Hier het ons dus ook ‘n geestelike stryd. God se doel was nie net om sy mense uit Egipte te bevry nie; Hy wou Egipte uit sy mense kry. Selfs nadat hulle Egipte verlaat het, het die Israeliete terug verlang na die land. In 4:23 lees ons: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. God wil hê dat Israel Hom moet ken en aanbid.

 

God bevry Israel van al die dimensies van slawerny. Hy bevry hulle nie om sommer enige god te aanbid nie; Hy bevry hulle nie net geestelik nie, maar ook uit hulle aaklige situasie. God is steeds oor fisiese vryheid en geestelike vryheid bekommerd. Is ons oor die vryheid van mense bekommerd?