Veroorsaak tegnologie depressie?

What we hope ever to do with ease, we must learn first to do with diligence. -Samuel Johnson,  (1709-1784)

Veroorsaak tegnologie depressie?

Die sielkundige Daniel Coleman (skrywer van onder andere Social Intelligence, Emotional Intelligence en Focus) beskryf ons geslag wat op genot ingestel is as die geslag van melankolie (= swaarmoedigheid, swartgalligheid. Die woord is afkomstig uit die Grieks melas – swart en chole – gal.) Hy sê die oorsaak hiervan is tegnologie. Die oplossing sou dan die teorie van selfbepaling wees.  Hierdie teorie bestaan uit drie elemente:

 

  • Outonomie – die gevoel dat ons self ons aktiwiteite kies. As ons voel ons is in beheer kan ons self ons prioriteite organiseer en bepaal hoe doeltreffend ons dit moet uitvoer.
  • ‘n Gevoel van bekwaamheid – ons glo ons optrede is doeltreffend, ons weet watter aktiwiteite belangrik is en maak gebruik van tegnologie waar toepaslik.
  • Verhoudings – ons voel naby aan ander mense. Tegnologie bedreig hierdie element. Sielkundiges het bevind dat die verskil tussen gelukkige en ongelukkige mense die teenwoordigheid of afwesigheid van diep, bevredigende sosiale verhoudings is. As jy gelukkig wil wees, moet jy tyd met jou familie en vriende deurbring.

Dit is interessant dat die slim mense die fundamentele ongelukkigheid van die mense ontleed en met hulle eie “evangelie” na vore kom – outonomie, bekwaamheid en verhoudings. Dit mag sekerlik tot beperkte, tydelike geluk lei. Die ware evangelie van Jesus Christus se diagnose gaan veel dieper – nie tegnologie nie, maar sonde. Dit stel ook ander oplossings voor: nie outonomie nie, maar afhanklikheid van Christus; nie bekwaamheid nie, maar erkenning van ons swakhede – ons doen alles in Christus se krag; nie verhoudings met mense nie, maar primêr met God deur Jesus Christus.

Veroorsaak tegnologie depressie? In sekere gevalle mag dit ‘n bydraende faktor wees. Die menslike brein kan net nie al die stimulasie waaraan ons vandag blootgestel is, hanteer nie. Een of ander tyd gaan ons petrol opraak. Ons moet stil tye in ons lewens inbou – tye waartydens ons brein kan rus en herlaai word. Onthou net dat Elia die stem van God nie te midde van sensasionele stimulasie gehoor het nie, maar in die stilte.

[Daar is baie verkeerde sienings oor depressie. Daar is ‘n groot groep waar die oorsaak ‘n chemiese wanbalans in die brein is. Hierdie gevalle het medikasie nodig en pas nie hier in nie. Wees baie versigtig om nie alle gevalle van depressie oor dieselfde kam te skeer nie.]