Verstaan vryspraak (2)

God uses chronic pain and weakness, along with other afflictions, as his chisel for sculpting our lives. —J.I. Packer

Verstaan vryspraak (2)

Elke mens het ‘n ingebore sin van wat reg en wat verkeerd is. Daarom kom die vraag na vore: Hoe kan God mense vryspreek wat skuldig is en steeds ‘n regverdige regter wees? Omdat God ‘n regverdige regter is, moet Hy tog op een of ander manier sy sin vir geregtigheid bevredig as Hy ons vryspreek.

 

Maar daar is vir ons vryspraak betaal. Om dit te verstaan, is daar drie konsepte van belang:

 

  • Delging/verlossing. Dit is verlossing met ‘n prys. God het ons verlos, maar Hy het ‘n groot prys betaal daarvoor – die offer van sy eie Seun. Ons was slawe van die sonde, maar God betaal die losprys. Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde  sinnelose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is (1 Petrus 1:18 – 19).
  • Versoening. Jesus Christus se dood was die offer wat God se toorn verwyder het deur ‘n plaasvervangende offer. Maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien het, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo (Romeine 3:24 – 25). God gee self die offer – sy Seun; God gee self die losprys – Jesus Christus se bloed. God does not love us because Jesus Christ died for us; Christ died for us because God loves us (John Stott)
  • Toerekening.  Ons sonde word aan Jesus Christus toegereken; Jesus Christus se geregtigheid word aan ons toegereken. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21).

 

Nou kan ons verstaan hoekom God, as ons voor sy regbank staan, kan sê: Onskuldig. Vryspraak is nie ek en jy wat  goed genoeg is dat God ons kan vryspreek nie … dit is God wat vir ons intree en vir ons doen wat ons nooit self vir ons kan doen nie.

Volgende keer kyk ons vir oulaas na vryspraak.