Vertrou ek die evangelie?

image_pdfimage_print

 

It is from God that parents receive their children, and it is to God that they in turn ought to lead them (Dietrich Bonhoeffer)

 

Vertrou ek die evangelie?

Ek skaan my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo (Romeine 1:16)

Wat is die grootste hindernis vir die verspreiding van die evangelie? Daar is ‘n hele reeks antwoorde wat ons kan gee. Is ‘n belangrike oorsaak nie dalk Christene se gebrek aan vertroue in die evangelie nie? Kan mense sien dat ek vertroue in die evangelie het? Vertrou ons dat die evangelie mense se lewens kan verander? Is daar nie mense waar jy dink dat die evangelie alleen nie genoeg is om mense te verander nie – ek het nog iets nodig? Kom ons kyk na 1 Timoteus 1:12 – 17 om ons te help.

 

  1. Die groot verandering in een terroris se lewe

In vers 11 verwys Paulus na die evangelie van die heerlikheid van die goeie God. Hy sê dat hierdie evangelie aan hom toevertrou is en dat hierdie evangelie hom beïnvloed het. Hy onthou die persoon wat hy was. In vers 12 – 14 gee Paulus vir ons ‘n dramatiese voor en na prentjie van sy lewe. Voor sy bekering het hy Christus Jesus  belaster, vervolg en beledig. Hy het ‘n slegte verlede gehad. Hy was teenwoordig toe die skare vir Stefanus gestenig het. Hy was ‘n ywerige vervolger van die kerk. Later besef hy dat God genadig was omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. Wat het hom die krag gegee om te verander? Hy (Christus Jesus) het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel. In vers 14 sê hy: Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

 

  1. Die groot oorsaak vir Paulus se verandering

Die antwoord is die evangelie. Hy word ‘n apostel as gevolg van die goeie nuus. Die evangelie het aan sy grootste behoeftes voorsien. Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde. Hy kry baie meer as wat hy verdien het. Paulus sê dat die evangelie  ‘n betroubare woord is wat sonder voorbehoud aanvaar kan word. Ons kan die evangelie vertrou, want dit het in al Paulus se behoeftes voorsien. Maar wat is hierdie betroubare woord? Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Paulus sê ook dat die evangelie die grootste sondaars – van hulle is ek die grootste – kan verlos. Hierdie geld nie net vir Paulus nie – dit was net ‘n voorbeeld om ander te bemoedig om te glo. Verkondig ons die evangelie met soveel vertroue?

 

Hoe sal vertroue in die evangelie lyk?

  • Ons sal tyd met die grootste sondaars spandeer op soek na evangelie-geleenthede.
  • Ons sal die evangelie stadig en duidelik met ander deel – ons moet dit net loslaat.
  • Ons moet vrees dat ons dalk ontrou sal wees. Getrouheid lê in ons hande; vrugbaarheid lê in God se hande.
  • Ons sal by elke moontlike geleentheid die evangelie verkondig.
  • Ons sal versigtig wees met nuwe bekeerlinge en met ons metodes vir evangelisasie. Nie almal kom so dramaties soos Paulus tot bekering nie. Ons vertroue moet nie in ons metodes wees nie, maar in die evangelie.
  • Ons sal die evangelie in diepte bestudeer.
  • Ons verkondig die evangelie om oë oop te maak en nie om inligting oor te dra nie.
  • Ek sal gereeld vra: Is my vertroue in myself of in die krag van die evangelie?

 

  1. Die groot feesviering

Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. Paulus skryf hierdie vers as iemand wat onthou wat God hom in Christus gemaak het. Hy kan maar net juig. As ons sien hoe die Goeie Nuus in die lewens van mense werk, moet ons bly wees en feesvier.

 

Mag ons groot veranderinge in mense sien deur die evangelie.

 

 

 

 

image_pdfimage_print