Vertrou God vir die regte tyd – Kobus Kok

God se tyd is die regte tyd. Ons moet die proses vertrou al is dit somtyds swaar en onseker.

Toe ek en my broer Barry kinders was het ons sywurms gehad. Dit was nog in die goeie ou dae waar die kinders nog moerbeie en moerbeiblare by die bure kon “leen”. Dit was ook die tyd wat ons nog plekhouers vir die Bybel gemaak het deur jou sywurm op ʼn coke-bottel se prop te laat spin rondom ʼn hartjie of ʼn vierkant of een of ander vormpie wat jy dan vir jou ouma as ʼn geskenk gegee het. Ons twee boeties het behoorlik kompetisie gehou en die een het sy wurms beet gevoer om rooi en pienk vormpies te weef en die ander selfs groen of geel blare gevoer. Dit was gróót besigheid. So gebeur dit toe die een dag dat ek en Barry ongeduldig word vir die motte wat nie uit die kokonne wil kom nie. Ons het toe geoordeel dat ons hulle moes “help”. Ons besluit om my ma se kombuisskêr nader te trek en sny toe netjies die kokonne oop om die wurmpies te help uitkom. In ons naïewe verbasing het ons op ʼn stadium die sterwende en kwynende wurmpies na ons ma toe gevat om te hoor wat aan die gang is. “Kyk mamma, ons het die wurmpie uitgehaal om hom te help, maar iets is fout met almal wat ons oopgemaak het.” Haar woorde daardie dag het die wysheid van haar jare getransendeer: “Seuns, die Here het ʼn tyd vir alles, en wat julle nou gedoen het was om die tyd vir die wurmpies ryp te druk. Nou is die wurmpies nie sterk genoeg vir die nuwe fase nie. Eintlik het julle nie die wurmpies “gehelp” nie, maar juis die wurmpies skade aangedoen. Hulle sal nooit kan eiertjies lê of ooit kan spin nie. Die wurmpie moes self deur die kokon veg en sy vlertjies en lyfie sterk maak sodat hy sterk kon word vir die nuwe fase”. My moeder se woorde bly my vandag nog by. Ek en my broer het so sleg gevoel, maar tog so diep verstaan. Sommige dinge in die lewe kan mens gewoon nie ryp drúk nie. Het jy al ooit probeer om ʼn avokadopeer ryp te druk? Sommige dinge vra tyd. Sommige dinge kan alleen “reg” wees vir die nuwe of volgende fase, indien dit deur die stryd van die vorige gegaan het. Soms het ons “woestyn” nodig voordat ons die beloofde land kan beleef. Soms gaan ons deur moeilike tye waarin ons die diepte moet ontwikkel wat nodig is vir die spesiale plek waarheen die Here ons wil neem. Soms moet ons die proses vertrou en wag vir God se tyd en God se seisoen. Die vraag is dus, in watter seisoen is ons nou en watter karakter-ontwikkeling wil God ons nou laat beleef? Ons is almal in ʼn seisoen. Word stil en luister wat God in hierdie seisoen vir jou wil leer. Laat jou hart rustig word in Hom. Augustinus het eenmaal gesê: “Die mens se hart is onrustig, totdat dit rus vind in God”. Dawid, in ʼn tyd wat Saul hom gejaag het en hy met die dood gedreig was, het hy midde-in die konteks, midde die vervolging en swaarkry, ʼn beeld van God ontvang: God het vir hom in Psalm 57 gewys dat hy hom beskerm deur sy vlerke oor hom te span. Nadat hy daardie beeld sy eie gemaak het, bid hy tot die Here in Psalm 57:8 “My hart is standvastig, O God, my hart is standvastig” [letterlike vertaling]. In die oorspronklike Hebreeus sê hy: “Nagon [standvastig/rustig] Libi [my hart], Elohim [O, God], Nagon Libi”. Mag God jou in hierdie tyd, in voorbereiding vir Paasfees waar ons in die seisoen van Lent geestelik vas in voorbereiding vir Paasfees, net weer herinner aan Sy beloftes en Sy trou. Hy is op weg met jou en jou lewe. Vertrou Hom, ook in jou swaarkry of in jou kokon-tyd. Jy word nou voorberei vir die nuwe seisoen, en jy moet sterk word sodat jou vlerke waarlik kan sprei as die kairos tyd van die nuwe seisoen aanbreek. Wag getrou op die Here – Hy is getrou.

Skrywer:  Prof Kobus Kok