Voed diegene wat honger het

“The riddles of God are more satisfying than the solutions of man.” – G. K. Chesterton

Voed diegene wat honger het

Mohandas Gandhi was die leier van Indië se onafhanklikheidstryd. (Hy het ‘n tyd lank in Suid-Afrika gewoon en gewerk.) Hy was baie bekommerd oor die lot van die armes. Hy sê: “There are people in the world so hungry, that God cannot appear to them except in the form of bread.”

Gandhi was natuurlik nie ‘n Christen nie, maar hier dra hy ‘n belangrike waarheid van God oor: God het sy teenwoordigheid aan armes bekend gemaak deur te voorsien. In die woestyn was dit manna, kwartels en water. In Johannes 6 gebruik Hy vyf garsbrode en twee vissies om duisende  honger mense te voed.

Hierdie gebeurtenis vind kort voor die Jode se paasfees plaas. Hierdie fees herdenk die verlossing van die Jode uit Egipte. Die fees herinner hulle aan God se trou toe Hy hulle uit slawerny gered het. Deur die honger skare te voed, openbaar Jesus hier ‘n geestelike werklikheid – die mense besef dat Hy die Een is wat na die wêreld toe moes kom.

Jesus het nie net gekom om brood en vis uit te deel nie. Aan dié wat honger is, stel Hy Homself bekend as die lewende brood uit die hemel – gestuur deur God om ‘n honger wêreld te voed.