Volg My (6)

 

We cannot all argue, but we can all pray; we cannot all be leaders, but we can all by pleaders; we cannot all be mighty in rhetoric, but we can all be prevalent in prayer –  Spurgeon

 

Volg My (6)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

In Johannes 6 het Jesus wonderbaarlik ‘n skare mense met die padkos van ‘n seuntjie gevoed. Jesus sê: Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. Jesus sê vir die skare dat Hy die voorsiening is wat God gestuur het vir ons siele. Hierdie het geweldige implikasies vir wat dit beteken om ‘n dissipel van Hom te word. In Hom kry jy die einde van al jou begeertes. In Hom kry jy ‘n ewige blydskap veel meer as die tydelike plesier van die wêreld.

 

Ons diepste verlange is nie vir iets nie, maar vir Iemand – die Gewer van ons goeie gawes. Ons het niks meer as Hy nodig nie. Hy verander ons smaak as ons in Hom glo en ons begin die dinge van God wat ons eens gehaat het, liefhê. Die trekpleister van sonde is steeds in die lewe van elke gelowige. Hoe oorwin ons dit?

  • Ons werk hard om ons optrede te verander. Ons kry ‘n lysie van moets en moenies. Dit gaan nie werk nie.
  • Ons kan op Christus vertrou om ons begeertes te verander.

Die manier om sonde te oorwin is nie deur harder te werk om ons dade te verander nie, maar om op God te vertrou om ons begeertes te verander.

 

Ons het gepraat oor die koste om Jesus te volg, maar dit is ook ‘n wonderlike geleentheid vir ons. Daarna gaan ons volgende kyk.