Voorkomende Geneeskunde in die Bybel (2)

Voorkomende Geneeskunde in die Bybel (2) – Coen Slabber

1. Isolasie en kwarantyn

Vir die antieke mense was die oorsake van aansteeklike siektes onbekend. So byvoorbeeld is geglo dat malaria die gevolg van gasse was wat uit mere en damme ontsnap het. [Mala aria = slegte lug.] Hulle het wel die verband tussen malaria en water besef, maar niks meer nie.

Moses se wet maak voorsiening vir die afsondering van mense met sekere siektes. Aangaande velsiektes lees ons in Levitikus 12:2 – 8):

2“Wanneer iemand êrens aan sy lyf ‘n swelsel of ‘n uitslag of ‘n seer het wat dalk kan ontwikkel in ‘n velsiekte wat hom onrein kan maak, moet hy na Aäron of een van die Aäronitiese priesters toe gebring word. 3Die priester moet dan die seerplek ondersoek. As die hare daarop wit geword het en dit lyk of die ontsteking dieper is as die vel, is dit ‘n velsiekte waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester wat dit ondersoek het, moet dan die persoon onrein verklaar. 4Maar as die seer ‘n ligte kleur het en dit lyk of dit nie dieper as die vel is nie en die hare daarop het nie wit geword nie, moet die priester die persoon ‘n week lank afsonder. 5Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As daar na die priester se mening geen verandering ingetree het nie en die ontsteking het nie versprei in die vel nie, moet hy die persoon nog ‘n week afsonder. 6Op die sewende dag moet die priester die persoon dan weer ondersoek. As die ontsteking opgeklaar het en nie verder versprei het in die vel nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Dit is dan ‘n onskadelike uitslag. Nadat hy sy klere gewas het, sal hy rein wees. 7As die uitslag egter verder versprei nadat die priester hom ondersoek en rein verklaar het, moet hy weer na die priester toe gaan vir ‘n ondersoek. 8As die priester merk dat die uitslag versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar. Dit is dan ‘n velsiekte waardeur hy onrein gemaak word.

In vs 46 lees ons:

46Hy bly onrein solank hy die siekte het. Hy moet dan ook in afsondering lewe en buite die kampplek bly.”

Die woord kwarantyn se oorsprong is Italiaans. [Quarantina = 40 dae. Die oorsprong is moontlik die aantal dae wat ʼn skip buite die hawe moes wag indien daar siek matrose aan boord was. Na 40 dae was hulle of gesond of dood.] Vandag is isolasie steeds nodig in sommige gevalle. Tans word die veral gebruik in pasiënte met weerstandige tuberkulose.

Daar was ook baie streng reëls vir die hertoelating van hierdie persone tot die gemeenskap:

8Die persoon wat gereinig word, moet sy klere was, al sy hare afskeer en bad. Dan is hy rein en mag hy in die kampplek ingaan, maar hy moet nog ‘n week buite sy tent bly. 9“Op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer. Hy moet sy hare, sy baard, sy wenkbroue en al sy liggaamshare afskeer. As hy dan sy klere gewas en hom gebad het, is hy rein en mag hy in sy tent ingaan (Levitikus 14:8 – 9).

Die priester kontroleer of die persoon wel genees is. Daarna word die nodige offers gebring.

 

2. Melaatsheid

Ons lees baie van melaatsheid in die Bybel. Vandag is melaatsheid ʼn spesifieke siekte veroorsaak deur ʼn spesifieke organisme. Destyds het dit waarskynlik ʼn hele aantal verskillende velsiektes ingesluit. Vandag is melaatsheid nie baie aansteeklik nie – lang en intieme kontak is nodig voordat die siekte oorgedra word. Die hantering is soos dié van mense met velsiektes.

 

3. Sanitasie

Siektes oorgedra deur water bly steeds ʼn groot probleem. Dink maar net aan cholera. Hierdie siektes is gewoonlik die gevolg van swak sanitasie. As gevolg van die swak sanitasie word die drinkwater – stroompies en putte – gekontamineer.

Moses se wet maak hiervoor voorsiening (Deuteronomium 23:12 – 13):

12Jy moet ‘n plek buite jou kamp hê waarheen jy kan uitgaan. 13By jou uitrusting moet daar ‘n stok wees en as jy jou buite wil gaan ontlas, moet jy ‘n gat grawe met die stok en as jy klaar is, moet jy alles toekrap.

 

4. Seksueel-oordraagbare siektes

Hierdie is steeds baie algemene siektes – veral as gevolg van die losbandige lewe van baie mense. Die Bybel is baie duidelik oor egbreuk en seksuele losbandigheid (Deuteronomium 22:22):

“Wanneer ‘n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met ‘n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, al twee doodgemaak word. So moet jy hierdie soort kwaad tussen die Israeliete uitroei.

Levitikus 18:1ev hanteer seksuele verhoudings. Voor die dae van antibiotika was veneriese siektes baie algemeen. Vandag is dit VIGS.

Hierdie wette teen onwettige seksuele verhoudings het veral twee positiewe gevolge gehad:

  • Dit verhoed die verspreiding van seksueel-oordraagbare siektes; en
  • Dit dra by tot die stabiliteit van die huwelik en gesinslewe.

 

5. Behuising

Swakbehuising is dikwels die oorsaak van siektes. Swak ventilasie en verhitting kan aanleiding tot swamme in die huis gee. In Levitikus 14:35 – 45 word reinigingsvoorskrifte vir huise gegee.

 

6. Rus en aansterking

In Egipte het ons ʼn 30 dae maand gehad – drie weke van tien dae elk. Geen voorsiening word vir ʼn rusdag gemaak nie. Die Babiloniërs het ʼn vyf dae week gehad – met geen voorsiening vir ʼn rusdag nie. Vir die Israeliete was dit anders (Deuteronomium 5:12 – 15):

12‘Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het. 13Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 14maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy.

Daar was ook feeste soos die paasfees, die fees van die weke, die nuwejaarsfees, die huttefees en die groot versoendag. Hierdie feeste was primêr godsdienstig, maar dit was ook geleenthede om te rus en te herstel. Vir die Leviete word daar voorsiening vir aftrede gemaak ( Numeri 8:23 – 26).

 

Wat sê die Bybel hiervan

5Kyk, ek het julle die voorskrifte en die bepalings geleer soos die Here my God my beveel het. Julle moet daarvolgens lewe wanneer julle in die land kom en dit in besit neem. 6Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: ‘Net hierdie groot nasie het wysheid en insig.’7Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? 8Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?

9“Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp (Deuteronomium 4:5 – 9).

Gevolgtrekking .

Die Bybel is ʼn ou boek, maar baie op datum. Ons moet onthou dat baie van ons huidige gesondheids- en higiëniese prosedures maar betreklik onlangs ontwikkel is. [Daar word vertel dat Koningin Elizabeth I een maal per jaar gebad het – selfs al was dit nie nodig nie!] As ons die Wet van Moses en die Egiptiese mediese (veral Ebers-papirus) papirusse vergelyk, sien ons dat die Egiptenare meestal op toorkuns staatgemaak het. Israel se reinigingswette het beslis gesondheidsvoordele ingehou – al het hulle dit dalk nie besef nie.

Outeur: Dr Coen Slabber