1

Vreemdelinge en ontmandes (56:3-8) – Francois Malan

‘Laat die vreemdeling, wat ‘n aanbidder van die Here is (letterlik: wat homself aan die Here verbind het), nie sê: die Here sal my waarlik van sy volk uitsluit nie, of die ontmande sê: kyk ek is maar ‘n droë boom, nie’ – ‘n aanduiding van sy onvermoë om kinders te verwek. Die woord vir uitsluit of afskei is in die intensiewe vorm (deur herhaling van  die werkwoord) en was ‘n sleutelwoord in die opkomende Judaïsme wat alles wou reël, alle onenigheid, verwarring of onreinheid wou uitsuiwer uit die gemeenskap. Dieselfde woord badal word gebruik by die skeiding van lig en donker,  van die waters bo en op die aarde, dag en nag, om orde te skep in die skepping  (Gen 1:4,6,14). Beide vreemdeling en ontmande het verwerping deur die gemeenskap verwag.

’n Vreemdeling wat tot die Joodse geloof gekom het, is deur die Jode ‘proseliete’ genoem, ‘n lid van die sinagoge wat nie ‘n gebore Jood is nie. Daar was ‘n verskil van mening onder die Jode oor die posisie van die proseliet. Nie alle Jode wou aan hulle volle verbondsregte toeken nie (so het Serubbabel die Samaritane nie toegelaat om saam te werk aan die opbou van die tempel nie (Esra 4 :1-6) en Esra en Nehemia  het vereis dat die mans wat met vreemde vroue getrou het, hulle wegstuur (Esra 10; Neh 13:25).

Die ontmandes is deur die wet verbied om in die tempel te kom (Deutr 23:1-2; Lev 21:20). In die Oosterse paleise is baie ontmandes aangestel as amptenare en diensknegte, veral in die harems van die vroue, ook in Jerusalem en Samaria (vgl. 2 Kon 9:32; 20:18; Ester 2:3, Daniël 1 :3-7; Hand 8:27-37). Hulle het belangrike poste beklee in die hofhoudings en administrasie, maar mag nie in die tempel ingekom het nie.

Die ou torah het ‘n eksklusiewe gemeenskap van suiwerheid as visie gehad, en sommige, in die laat sesde eeu v.C, ná die ballingskap, het voorgestel om dié mandaat voort te sit.  Die verbod word hier deur die Here opgehef.  Die visie van hierdie digter-profeet gaan direk in teen die posisie van die ou torah.

56:4-5: Vir die ontmandes wat saam met die Jode die wet van die Here onderhou en op die Sabbat na die tempel/sinagoge toe wil gaan, word die gemeenskap oopgestel as lid van die Here se genadeverbond – ‘in my huis en in my geboue gee Ek aan hom ‘n plek en ‘n naam, ‘n ewige naam…wat nie uitgewis sal word nie (letterlik: nie afgesny sal word nie’- teenoor Deutr 23:1 wat ontmandes letterlik noem: wie se geslagsdele afgesny is). Die Joodse gemeente moet die naam van die ontmande, wat nie ‘n nageslag kan voortbring nie, bewaar en veral sy diens aan die Here en aan sy medemens, wat andersins verlore sou raak in ‘n wêreld wat nie omgee nie.

Die eerste deel van Jesaja het in 39:7 afgesluit met die voorspelling dat die seuns van Juda diens sou doen in die paleis van die koning van Babel  (as ontmandes, soos Daniël en sy vriende). Die derde deel begin hier met die ontmande amptenare, as hakies om die tweede deel (40-55). Daarmee word dié uitgeskuifde lidmate weer opgeneem in die verbondsgemeenskap, mense soos Nehemia, wat gereeld die Persiese koning en koningin moes bedien (Neh 2:6) en die mure van Jerusalem kom herbou het. Die ontmande Etiopiër van Handelinge 8:27-28, wat nie in die tempel toegelaat is nie, was juis besig om uit Jesaja te lees en is gedoop ná sy ontmoeting met Filippus se toepassing van Jesaja 53:7-8 op Jesus. En hy het sy reis met blydskap voortgesit (Hand 8:39). So het Jesus sy kerk vir die ontmandes oopgemaak.

56:6-8:  Deut 23:2-9 sluit die tempel vir ontmandes en Ammoniete en Moabiete wat uit bloedskande gebore is (Gen 19:31-38; Lev 18:6)), die deurtrekkende Israel nie wou ontvang nie, en hulle wou laat vervloek. Deuteronomium laat egter die tempel oop vir Edom, die afstammelinge van Esau, wat hulle deurgang deur hulle land geweier het (Num 20:18-21; Deutr 2:1-8) en Egipte waar hulle vreemdelinge was, hoewel hulle daar slawe gemaak is en hulle seuntjies vermoor is. Soos vir die ontmandes word vreemdelinge nie meer uitgesluit nie. Daarmee gaan die visioen in teen die maklike opsie om saam met die heersende siening in die samelewing te gaan. Dit geld ook, soos vir die ontmandes, slegs vir vreemdelinge wat hulle heelhartig aan die Here toewy.

Die twee vereistes vir ontmandes in vers 5 om die verbond met die Here en Sabbat te onderhou word herhaal in vers 6a. Maar voorop staan vier kenmerke wat ‘n effektiewe toewyding aan die Here veronderstel wat sterker is as enige politieke affiliasie: elkeen wat verbind is aan die Here om Hom te dien en lief is vir die Naam van die Here (sy Naam staan vir sy volle wese, sy mag en sy werk), om vir Hom ‘n dienskneg te wees. Dit gaan om vreemdelinge wat met hulle hele hart die Here in liefde wil dien.

Vir hulle belowe die Here self: Ek sal hulle na my heilige berg toe bring en hulle bly maak in my huis van gebed – Hy sal hulle vir Hom werf en Hy is self die verwelkomingskomitee wat hulle in die tempel op Sionsberg en in die sinagoge sal ontvang. Hulle sal welkom wees in die samekomste van die gemeente en hulle offers op die altaar sal deur die Here aanvaar word, want die Here wil sy huis ‘n huis van gebed maak vir al die nasies wat aan Hom  verbind is, Hom liefhet en Hom gehoorsaam (Mark 11:17; vgl. Gal 3:28; vgl. ook Jesus se gebed in Joh 17:21-23). Dit is die vervulling van die Here se belofte aan Abraham in Gen 12:3: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.

Skrywer:  Prof Francois Malan