1

Vrouwees (en manwees) in die Bybel – Enkele kantlyn aantekeninge

Vrouwees (en manwees) in die Bybel – Enkele kantlyn aantekeninge – Stephan Joubert

In die ou tyd was vroue tweedeklas-burgers. Aristoteles, die groot filosoof uit die vierde eeu voor Christus, het al gesê dat vroue eintlik maar misvormd-gebore mans is! Die Joodse filosoof, Filo van Aleksandrië, het verkondig dat slegs mans na die beeld van God geskape is. Vroue het net hier by die ribbebeen langs iets van die man se heerlikheid getref! G’n wonder nie dat ʼn bekende Joodse rabbi in die tyd van die Nuwe Testament kon sê daar is drie dinge aan ʼn vrou wat altyd bedek moet wees: haar mond, haar bene en haar hare. Met haar mond praat sy glo nonsens; met haar bene verlei sy ander mans, en met los hare daag sy haar man se gesag uit. Die stereotipe persepsie oor vroue was dat hulle dom, verleidelik en agterbaks was. Daarom dat hulle plek altyd binne die huis was.

 

Genesis vertel ʼn ander storie

Genesis 2 vertel dat God die vrou as die man se helper gemaak het, as sy gelyke. Binne die huwelik word man en vrou een in harmonie voor God. Genesis 2 is ongetwyfeld God se oorspronklike skeppingsdoel met die huwelik. Dit was voordat die sonde alles kom verwoes het. Genesis 2 sê onomwonde man en vrou is gelyk. Die vrou is selfs hier ʼn helper vir die man! En iemand kan net help as hy of sy iets beter kan doen as diegene wat daardie hulp nodig het!

Eers na die sondeval in Genesis 3 hoor ons dat die man oor die vrou sal heers. Nou is heerskappy egter straf. Heerskappy, baasskap van die kant van die man funksioneer van die sonde se dae af as straf op sonde binne man-vrou verhoudings en nie as die natuurlike stand van sake nie. Manlike baasskap is hoegenaamd NIE God se oorspronklike skeppingsdoel nie.

 

Jesus deurbreek die stereotipes van die Jode oor vroue

Blaai mens na Jesus se uitsprake oor die huwelik (Markus 10), dan neem Hy die oorspronklike doel van die huwelik haastig terug na Genesis 2 toe, nie na Moses se nood-uitspraak oor egskeiding in Deuteronomium 24 nie. Dus verander die Here Jesus sy kinders se huwelike weer in ʼn paradys. Hy maak gelowiges se huwelike van voor af Genesis. Netsoos wat Christene as sodanig van kop tot tone ʼn tweede skeppingswonder is (2 Korintiërs 4:1-6), net so is ons huwelike ook ʼn nuwe Genesis. Binne ons as Christene se huweliksverhoudings geld die oorspronklike skeppingsdoel nou weer – naamlik een vlees, een voor God waar man en vrou mekaar help, dien, liefhet, eer en beskerm.

Jesus het ʼn finale einde aan die Joodse stereotipe rolverdeling van baasskap en onderdrukking tussen mans en vroue gebring. Hy het byvoorbeeld nie gehuiwer om vroue deel te maak van sy volgelinge nie (Lukas 8:1-3), of om hulle ook in die openbaar te onderrig nie (Lukas 10:38vv). Mans het dus nie regtig ʼn hoër godsdienstige status voor God as vroue nie. Paulus skryf trouens in Galasiërs 3:28 dat daar in Christus nie meer Jode of Grieke, slawe of vrymanne, mans of vroue is nie. Alle grense is afgebreek. Nou tel mense se afkoms, sosiale status of geslag niks meer voor God nie.

 

Paulus: Die regte Christelike rolverdeling

Maar wat dan van daardie baasskap tekste in die Bybel; tekste soos 1 Korintiërs 11:3 en Efesiërs 5:22 met hulle verwysings na die onderdanigheid van die vrou? Wel, in ʼn neutedop gesê, bedoel Paulus nie hier dat man die koning is met die vrou as vloerlap nie. Wat die apostel wel sê, is dat daar rolverdelings tussen die geslagte bestaan (bv 1 Korintiërs 11). Hiermee saam wil hy ook sê dat beide man en vrou binne ʼn Christelike huwelik mekaar moet dien. Inderdaad het die man as die sterkste geslag sekere verantwoordelikhede rondom die versorging en beskerming van sy vrou. Eweneens het die vrou die verantwoordelikheid om haar man te dien en te ondersteun. Maar hierdie is wederkerige rolle wat gegrond is op Christus se voorbeeld. Christenmans en vroue moet altyd optree tot voordeel van mekaar. Die enigste gedagte in hulle harte behoort te wees wat hulle kan doen om hulle huweliksmaats nog meer beeld van God te laat wees.

 

Efesiërs 5 as voorbeeld

Paulus roep beide mans en vroue in die huwelik op tot onderdanigheid aan mekaar in Efesiërs 5:21vv. Die Griekse woord wat in Afrikaans vertaal word met onderdanigheid (hupotassein), beteken onder andere om diensbaar te wees aan iemand anders.

Paulus trek ook in Efesiërs 5:21vv die huwelik binne die raamwerk van God se oorspronklike doel in Genesis 2 in as hy oor vroulike onderdanigheid (soos die kerk aan die Here) en manlike liefde (soos die Here teenoor die kerk en ʼn man teenoor sy liggaam) praat. Let wel, nooit word in die NT oor vroue se rol gepraat in isolasie van die man s’n nie. Onderdanigheid en liefde is kop en stert, wedersyds aanvullend. Volgens Paulus is man en vrou nou een voor God; daarom dat hy in Galasiërs 3:28 die Here se bedoeling met man en vrou helder, kernagtig en ongekwalifiseerd uitstippel: In Christus is daar nie meer man of vrou, slaaf of vry, Jood of Griek nie.

Natuurlik moet vroue diensbaar aan hul mans wees (vgl ook 1 Petrus 3) – soos die gemeente aan die Here. Maar mans moet op hul beurt hul vroue weer liefhê soos Jesus sy kerk liefhet. En hoe het Jesus sy kerk lief? Markus 10:45 bied die antwoord hierop as Jesus sê dat Hy ons kom dien het. Jesus stel dit glashelder dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om  te dien. Tereg is dit edel dat vroue hul mans dien. Net so edel is dit egter ook wanneer mans hul vroue dienend liefhet en nie meer oor hulle wil baasspeel nie. Immers, in 1 Korintiërs 7 noem Paulus dat mans selfs die mag oor hul eie liggame afstaan aan hul vroue – ʼn gedagte wat totaal vreemd was aan ʼn hiërargiese samelewing destyds waar mans die vroue oorheers het.  Dus moet mans hul vroue ook dien, want liefde volgens die Woord sluit altyd dienslewering in.

 

Outeur: Dr Stephan Joubert