Vyf gedeeltes wat gereeld buite konteks aangehaal word.

Vyf gedeeltes wat gereeld buite konteks aangehaal word.

  1. Jeremia 29:11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Ons kry hierdie vers op kerkmure en T-hemde. Meeste mense ignoreer die konteks van hierdie teks, want dit sê wat hulle vir hulle lewens verlang. Hierdie was ‘n belofte aan Israel. Eers nadat Hy beloof het dat Hy sy volk in ballingskap vir 70 sal laat bly, maak die Here hierdie belofte. Die onmiddellike konteks gaan nie oor individue nie. Daar is tog troos in hierdie vers en ons moet nooit vergeet dat God ‘n plan vir ons het. Ons moet onthou dat God se grootheid ‘n werklikheid is al sluit dit soms 70 jaar van swaarkry en onderdrukking in.

 

1 Korintiërs 13:4 – 7: Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik,; dit is nie afgunstig nie,  is nie grootpraterig nie,  is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie. Hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid, dit bedek alles. Glo alles, hoop alles, verdra alles.

Die begeerte om hierdie gedeelte te gebruik om trou, liefde en toewyding in die huwelik uit te druk, is groot, Die probleem is dat Paulus hier nie na romantiese liefde verwys nie. Ons moet Hoofstuk 12 en die groter storie van die gemeente in Korinte in ag neem voordat ons by hierdie verse kom. Paulus skryf in Hoofstuk 12 oor die misbruik van die geestelike gawes. Hulle moet in eenheid saamwerk. Geen mens is waardeloos nie.

Teen die tyd dat ons by Hoofstuk 13 kom is Paulus gereed om ‘n prentjie te skilder van liefde in ‘n gemeenskap van eenheid. Daarom begin hierdie hoofstuk met hierdie woorde: Nou wys ek julle wat die allerbeste is. Dit gaan hier oor ‘n wêreld veel wyer as ‘n huweliksverhouding

 

Romeine 13:1: Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.

Hierdie vers is ‘n hindernis vir elkeen wat oor die huidige regering ontsteld is. Daarom is ons bereid om hierdie teks te ignoreer of om verskonings te maak oor waaroor hierdie teks nie op ons van toepassing is nie. “We focus mostly on the exceptions—when should we not submit to a government—like Hitler and the Nazis.” (Haddon W. Robinson).  Onthou Paulus het hierdie aan die gelowiges in Rome geskryf. Op daardie stadium was Nero die keiser.

 

Paulus sê verder: Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen.” (1 Timoteus 2:1 – 2).Gelowiges moet ‘n voorbeeld stel deur respek en eer te betoon, en om dan binne die sisteem te werk vir konstruktiewe verandering en vrede; bid vir die regering. Moenie die sisteem omvêrwerp nie – dit is nie Bybels nie en is vir niemand goed nie.

 

Matteus 7:1:Moenie oordeel nie sodat oor julle nie geoordeel word nie.

Ons moet die teologie van genade binne die groter raamwerk van Goddelike geregtigheid verstaan Johannes se stellings oor God se liefde het implikasies vir die gedrag van gelowiges. Die fokus is diegene wat God se kinders deur Jesus Christus is. Dit is nie ‘n absolute verbod teen die evaluering van ander mense nie, maar ‘n waarskuwing dat ons dieselfde standaard in die beoordeling van ander moet gebruik as wat ons vir onsself gebruik.

Inteendeel Paulus  sê dat ons moet oordeel: Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel. Verwyder die slegte mense onder julle uit 1 Korintiërs 5:12 – 13). Ons moet genoeg omgee vir ons mede-gelowiges om in liefde die waarheid te praat en hulle te help om geestelik te groei

 

3 Johannes 2: Liewe Gaius, ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou gaan as wat dit geestelik met jou gaan

Hierdie vers word dikwels gebruik as teks om te wys dat God ons op ‘n spesifieke manier gaan seën ën  gewoonlik is dit materieel/finansieel. Christene verstaan nie meer die plek van lyding in ons geloof nie. Ons het van sukses ‘n afgod gemaak: “Ek is ‘n Christen en daarom is ek geregtig op sukses.”  Die Christelike lewe is vol oorwinnings en sukses, maar nie noodwendig gemeet aan ons eng idees van sukses nie. God se beloftes is geestelike beloftes en nie beloftes van onmiddellike voldoening nie. God seën ons op baie maniere, maar Hy het nie belowe dat nou ons beste lewe sal wees nie.

 

Meeste mense wat verse verkeerd aanpak is gewoonlik nie ver van koers af nie. ‘n Leraar se werk is soos ‘n vuurtoring – hulle moet dien as modelle vir gesonde Bybelse interpretasie. Maxwell sien elke vers as ‘n kamer. Ons moet nooit die ander kamers en die hele huis en die omgewing ignoreer nie.

<