Waar kry Petrus die insig?

Waar kry Petrus die insig? – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor Petrus en ek vermoed die antwoord gaan maar net weer God se almag onderstreep . As ons 1 en 2 Petrus lees, is dit wonderlike teologie wat ons daar vind en wat vandag nog net so relevant is en dit getuig van ‘n persoon wat God se genade verstaan het . My vraag is waar en hoe het Petrus hierdie insig en kennis gekry? Ek vermoed hy het as visserman nooit enige skool van n Rabbi bygewoon nie en het heel waarskynlik nie die die Here Jesus altyd reg verstaan in die 3 jaar wat Hy op aarde gewerk het nie . Was dit n ook n wonderwerk wat gedurende Pinkster plaasgevind het , maw dat hy die insig en kennis daar en dan by God ontvang het as n wonderwerk?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

In 1 Petrus 1:1 noem Petrus homself slegs ‘’n apostel’ van Jesus Christus – ‘n gestuurde van Jesus, wat met die gesag van Jesus die goeie boodskap van Jesus en oor Jesus oordra aan ander. Dit nadat Petrus die besondere voorreg gehad het om omtrent drie jaar saam met Jesus te wandel, deur die Seun van God self geleer is deur sy voorbeeld en sy woorde, en sy regstelling van Petrus se verkeerde opvattings en ondeurdagte woorde. Na sy opstanding stel Jesus hom aan as herder van Jesus se volgelinge, die swakkes in die geloof (lammers) en sterkeres (skape), volgens Joh 21:15,16, 19. Al vereiste wat Jesus aan hom gestel het, is dat hy Jesus liefhet.

Toe Jesus, ná sy opstanding, sy dissipels uitgestuur het om dissipels van al die nasies te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Jesus hulle beveel het, het Hy gesê: ‘Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld’ (Matteus 28:19-20).

Volgens Johannes 14:26 het Jesus vir sy dissipels gesê: ‘wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.’ Johannes 16:13: ‘Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê sal nie van Homself kom nie. Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat kom, aan julle verkondig.’ In Matteus 10:16-20 sê Jesus dat as die mense julle aan geregshowe uitlewer, en voor goewerneurs en konings bring, ter wille van Hom, is dit ‘n geleentheid om van Hom te getuig. ‘Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle sal sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.’

 

Prof Francois Malan