Waar staan dit in die Bybel?

 

When you have been sinned against you have two options: to either lovingly cover or lovingly confront.” (Jim Newcomer)

 

Waar staan dit in die Bybel?

Die Bybel is letterlik God wat Hom aan die mensdom openbaar. Ortodokse Christene glo dat die Bybel deur die Heilige Gees geïnspireer is en dat menslike instrumente in die proses gebruik is. Tog hoor ons gereeld dat Christene dinge sê wat nie in die Bybel staan nie. Hulle haal ‘n stelling aan wat vir ons baie goed klink en ons herhaal dit as ‘n Bybelse waarheid – sonder om seker te maak dat dit uit die Bybel kom.

 

Kom ons kyk na ‘n paar gewilde stellings wat Christene glo.

 

  1. God help diegene wat hulleself help

God het aan ons gawes en talente gegee wat ons moet gebruik, maar vertroue op jouself en selfgeregtigheid belemmer eintlik God se werk. Hierdie gesindheid om harder te probeer en beter te doen kom in die pad van God se werk. Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.´(Matteus 16:24)

 

  1. God wil hê dat ek gelukkig moet wees

Geluk word aan gevoelens en emosies gekoppel wat dikwels deur omstandighede bepaal word. Dit mag met tyd verander. God wil hê dat ons Hom moet gehoorsaam, vertrou en besef dat alles wat Hy doen vir ons beswil is – al maak dit ons op daardie stadium nie gelukkig nie. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28).

 

  1. Ons is almal God se kinders

God het almal gemaak, maar nie almal is in ‘n verhouding met Hom nie. Slegs diegene wat hulle geloof in Jesus Christus as hulle Here en Verlosser geplaas het en dié in wie die Heilige Gees is, kan daarop aansprak maak dat God hulle Vader is. Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Romeine 8:15 – 16).

  1. God sal jou nooit meer gee as wat jy kan hanteer nie

In die lewe moet ons besef dat ons nie alleen ons las kan dra nie. Ons moet besef ons kan dit nie doen nie en dit aan God oorgee. Dit is immers wat geloof is. As Paulus oor sy moeilikhede in die provinsie Asië praat sê hy: Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het … maar dit het gebeur sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe (2 Korintiërs 1:8 – 9).

 

  1. Slegte dinge gebeur met goeie mense

Ten eerste is die idee van ‘n goeie persoon baie subjektief. Dikwels besluit ons self wat goed en wat sleg is, maar ook wie goed en wie sleg is. Die gewildste manier vir ons om te oordeel, is deur te vergelyk. Maar volgens die Bybel staan ons almal op dieselfde vlak, want niemand is inherent goed nie. Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10).

 

  1. As jy doodgaan, kry God nog ‘n engeltjie by

Mense is mense en engele is engele. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry (1 Petrus 1:12).

 

Die feit dat so baie Christene hierdie Bybelse onwaarhede glo, is ‘n teken van ons huidige Bybelse ongeletterdheid. Ons is nie meer soos die mense van Berea nie. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê (Handelinge 17:11).