Waarom in die wêreld?

image_pdfimage_print

 

“The Gospel cannot be truly preached without offense and tumult.” ― Martin Luther

 

Waarom in die wêreld?

Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My (Johannes 14:1).

Andy Stanley (Why in the World: The Reason God became one of us) sê dat by almal van ons op een of ander stadium ‘n verband tussen God en vrees gemaak is. Dit kan wees dat ‘n kategeet vir jou gesê het dat God vir jou kwaad is as gevolg van jou sonde. Miskien is dit ‘n prediker. Miskien het iemand vir jou gesê dat as jy in die hemel wil kom, moet jy ‘n spesfieke gebed bid – doen jy dit nie, beland jy in die hel.

 

God is geheimsinnig. Hy is nie ‘n ou man met ‘n wit baard wat in die hemel sit nie. In Jesaja 55:8 – 9 sê God: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede is nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle  gedagtes.

 

Geen wonder mense sien God as ver weg – selfs skrikwekkend – nie. Ons vrees ons verstaan nie – en ons kan God nooit volledig verstaan nie. Baie mense word Christene omdat hulle ‘n gunstige ooreenkoms met God wil aangaan – hulle glo Hy is vol toorn en wraak. Hulle besluit het min met liefde en baie met vrees te make.

 

Jesus het nie gekom sodat God kan weet ek bestaan nie – dit is veel beter as dit. Jesus het nie gesê dat Hy die beste verduideliking van God het nie; Jesus het gesê dat Hy die beste verduideliking van God is.

 

Wat doen jy om nader aan God te kom? Wat is dit van hierdie gewoonte of praktyk of benadering wat jou God se teenwoordigheid laat voel.

 

image_pdfimage_print