Waarskuwings van God

image_pdfimage_print

Sin and the child of God are incompatable. They may occasionally meet; they cannot live together in harmony (John Stott).

Waarskuwings van God

God se waarskuwings is dikwels die manier waarop God verhoed dat sy kinders van die geloof afdwaal. In hulle briewe waarsku die apostels die gemeentes. Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy aan die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het (Hebreërs 3:12 – 14); Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie (Hebreërs 12:14).

 

As God sy kinders waarlik behou en hulle nie verlore kan gaan nie, hoekom word hierdie waarskuwings aan die gemeentes gegee om nie afvallig te word nie? Die waarskuwings is God se genade waardeur Hy verhoed dat sy kinders van Hom af wegdraai. Sy kinders sal sy waarskuwings ter harte neem. Hierdie waarskuwings laat ons selfondersoek doen en help ons om te volhard. God kan belowe dat ons status veilig en verseker is, maar terselfdertyd gebruik Hy waarskuwings as metode om hierdie status te behou. In Handelinge 27 is Paulus ‘n gevangene aan boord van ‘n skip in ‘n geweldige storm. Paulus vertel hulle van God se belofte dat almal wat aan boord van die skip bly gered sal word. Maar terselfdertyd rig hy aan hulle ‘n waarskuwing: As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie (27:31). In hierdie gedeelte kry ons ‘n duidelike belofte vir beskerming van God. Maar toe van die matrose die skip wou verlaat, waarsku Paulus die offisier. Hulle veiligheid en beskerming was verseker, maar die waarskuwing is die metode wat God gebruik om te verhoed dat hulle die skip verlaat.

God se waarskuwings is dikwels die manier van genade waardeur hy verhoed dat sy kinders van Hom wegdraai.

image_pdfimage_print