Wanneer is Jesus gekruisig?

Wanneer is Jesus gekruisig – Jan van der Watt

Tania vra:

Wanneer presies is Jesus gekruisig volgens ons jaarkalender? Ek verstaan dit was in Nissa 15, maar in watter maand is dit op ons gewonde kalender?

Sy gee die verdere bykomende inligting:

  • Op die veertiende dag van Nisan, die derde uur volgens Joodse tyd (9 uur in die oggend volgens ons tyd) is ons Pasgalam, Jesus Christus, aan die kruis vasgespyker. Dit was presies dieselfde tyd van die dag wat die pasgalammers by die tempel geslag is. Eenduisend-vyfhonderd jaar na die instelling van die Pasga in Eksodus 12, is ons Pasgalam, Jesus Christus, vir ons geslag (sien 1 Korintiërs 5: 7). Sy bloed bedek nie net ons sondes nie – dit wis ons sondes uit!
  • Die bloed van ʼn lam moes aan die deurposte en bodrumpel van die huise van die Israeliete gesmeer word – dan sou God hulle oorslaan (Eng: “pass over”) en sou sy oordeel hulle nie tref nie. Die Israeliete moes deur die met bloed bestrykte deur hul huise binnegaan en binne die beskerming van die bloed bly om hulle verlossing deelagtig te word. Daarom sê Jesus in Johannes 10: 9 “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word ..”
  • Nog ʼn vereiste met die oorspronklike instel van die Pasga in Eksodus 12 was dat geen uitlander of onbesnedene die Pasga kon gebruik nie (Eksodus 12: 43 & 48). Vandag is die wat in Christus is weens hulle geloof in Hom ” .. nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efesiërs 2: 19). Daarom kwalifiseer ons as wedergeborenes om aan te sit by die Pasgamaal!

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Nisan is die eerste maand van die Hebreeuse kalender wat met ons Maart-April ooreenstem (die maand op ons kalender kan dus wissel). In die antieke tyd was daar verskeie kalenders. Daar was ʼn kalender wat met die son gewerk het (die dag begin as die son opkom) en daar was kalenders wat op gelyke manier met die maan gewerk het. Die Jode se kalender het met die maan se verskynings gewerk terwyl die Romeine byvoorbeeld die son gebruik het as basis vir hulle berekenings.

Die Joodse maande het begin met die verskyning van die klein sekelmaantjie as die son sak (dag van die nuwe maan). Die maanmaand is ongeveer 29-30 dae en gevolglik is die maanjaar ongeveer 11 dae minder as die sonjaar. Dit lei daartoe dat die eerste maand van die Joodse jaar (dit is Nisan) soms in Maart en soms in April val, afhangende van die verskyning van die maan. “Maart-April” (Nisan) is natuurlik die begin van die lente en is die ‘terugkeer van die jaar” genoem – 1 Konings 20:26, 2 Kronieke 36:10 – met die gevolg dat Nisan die eerste maand van die jaar was. Die paasfees word 14 dae na die verskyning van die sekelmaan gehou, met ander woorde as dit volmaan gedurende die maand Nisan is (Eksodus 12:2-6).  Selfs in ons tyd word paasfees nie altyd op dieselfde kalendertyd gevier nie (soms is ons Paasfees vroeër en soms later), want ons pas ons viering van die paasfees  by die Joodse kalender aan.

Outeur: Prof Jan van der Watt