Ware en aanvaarbare godsdiens (1)

 

False pride can never be sustained – Keith Ablow, psigiater

 

Ware en aanvaarbare godsdiens (1)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

 

Ware godsdiens moet insluit beheer van die tong, opofferende sorg vir die behoeftiges en ‘n duidelike skeiding van die wêreld. Hierdie dinge is ‘n manifestasie van geloof uitgedruk in liefde.

The Human race in the course of time has taken the liberty of softening and softening Christianity until we have contrived to make it exactly the opposite of what it is in the New Testament – Soren Kierkegaard.

Ons probeer die Christelike geloof in ons eie terme definieer in plaas van die terme wat God in die Nuwe Testament bepaal het. Ons glo dat die kerk en godsdiens by ons voorkeure en leefstyl moet inpas. Maar as ons van ware godsdiens praat wat vir God aanvaarbaar is, moet Hy definieer hoe dit moet lyk – en dit kan van ons definisie verskil.

A religion that gives nothing, costs nothing, and suffers nothing, is worth nothing – Martin Luther

 

Die tekens van ‘n ware en aanvaarbare godsdiens.

In baie kringe word die woord godsdiens vandag nie juis in ‘n positiewe lig gesien nie. In Jakobus 1:26 – 2:13 vertel Jakobus vir ons dat ware godsdiens deur ‘n leefstyl van gehoorsaamheid aan God gekenmerk word. In 1:26 – 27 gee Jakobus vir ons drie tekens van ‘n ware en aanvaarbare godsdiens.

 

  1. Beheerde spraak – ‘n teken van ‘n hart wat verander het

As iemand dink dat hy godsdienstig is terwyl hy nie sy tong in toom hou nie, maar sy hart hom mislei, is die godsdiens van hierdie mens nutteloos (Jakobus 1:26)

Jesus sê: Want die mond praat wat die hart van vol is (Matteus 12:34). Wat ons sê, is ‘n weerspieëling van wat binne in ons is. As ons nie beheer wat ons sê nie, sê Jesus, is ons godsdiens nutteloos. Wat jy sê, is ‘n indikator of jou geloof eg of vals is. As jy skinder, as jou woorde skerp is, as jy vloek – wees versigtig, want jy wys daarmee dat jou godsdiens nutteloos is.

 

Ons leef in ‘n tyd van e-posse, Facebook, Twitter, blogs, ens en daarom moet ons baie versitig wees. Ons glo dat as ‘n gedagte by ons opkom ons dit onmiddellik met die hele wêreld moet deel. Oppas. Beheer jou tong. Praat op so ‘n wyse dat dit wys jou geloof is eg en dat jou hart aan God behoort.

 

  1. Opofferende versorging van mense in nood

Rein en onbesmette godsdiens by die God en Vader is dit: om om te sien na wese en weduwees in hulle beproewing, om jouself onbevlek te hou van die wêreld (Jakobus 1:27).

Die tweede teken van ‘n aanvaarbare godsdiens is opofferende liefde vir mense in nood. Om om te sien, beteken dat ons na hulle toe gaan met die doel om hulle te versorg. Weduwees en wese het destyds swaar gekry – die regering het nie vir hulle gesorg nie. Jakobus sê dat ware godsdiens beteken dat ons die behoeftigste mense in ons samelewing versorg. Hy noem dit nie as ‘n moontlikheid nie – dit is ‘n verpligting. Doen jy dit nie, is jou godsdiens nie vir God aanvaarbaar nie.

 

God is die verdediger, onderhouer, krag en voorsiener van hierdie mense en Hy doen dit deur die harte en lewens van sy mense. Onthou dit gaan hier oor ‘n godsdiens wat die God en Vader aanvaar. Hy is die Vader van die vaderloses en Hy doen dit deur sy mense.

 

Volgende keer kyk ons na die derde teken van ware en aanvaarbare godsdiens: die duidelike skeiding van die paaie van die wêreld.