Ware getuies van die evangelie

 —C.H. Spurgeon

Ware getuies van die evangelie

Lees weer hoe die apostels die evangelie in Handelinge verkondig. Vier elemente val dadelik op: durf, nederigheid, vasberadenheid en dringendheid. Sien ons hierdie vier elemente steeds in evangelieverkondiging vandag?

 

 Petrus en Johannes het gereeld vir die godsdienstige leiers van hulle dag beklemtoon dat hulle Jesus doodgemaak het. Hulle durf  het die godsdiensleiers verbaas: Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense (Handelinge 4:13). As vissermanne hulle man staan teen die magtigste manne in die stad is dit durf. Hulle durf gaan nie oor in arrogansie nie – hulle reageer met nederigheid. Lukas gaan uit sy pad om te wys dat hulle ongeleerde en eenvoudige mense was. Die apostels was baie reguit oor wie Jesus was. Hulle self is deur genade gered en diegene wat genade ontvang, besef  hulle het geen rede om trots te wees nie. Trotse Christene is trots, want hulle verstaan die boodskap glad nie.

 Nederigheid beteken nie ek deins terug nie. ‘n Nederige getuie kan steeds ‘n vasberade getuie wees. Petrus en Johannes ignoreer allerhande dreigemente van die Raad. Die Raad se opdrag om glad nie verder in die Naam van Jesus Christus iets te verkondig en te leer nie, lok by hulle die volgende reaksie uit: Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan julle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie. Waar kom hierdie vasberadenheid vandaan? Die opstanding – hulle het waarlik geglo dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy mense verlos wat hulleself nie kon verlos nie. Glo ons dit gaan ons met vasberadenheid aan ons getuienis vasklou – ten spyte van teenkanting.

 

Nie alleen het hulle vasgehou aan hulle getuienis nie, maar hulle het dit met dringendheid versprei. Hoekom? Want ons weet hierdie Naam is die enigste Naam wat verlossing bring. Nadat die gelowiges bymekaar gekom het om te bid, lees ons: Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig (4:31). Hulle het die implikasies van die evangelieboodskap ernstig opgeneem. As ons besef dat verlossing net deur Jesus Christus moontlik is, sal ons ook ernstig wees met ons getuienis.

 As ons besef dat meer as 2 biljoen mense op aarde nog nooit die evangelie gehoor het nie, sal ons ook met durf, nederigheid, vasberadenheid en dringendheid getuig. Hulle het by geleentheid vir Charles Spurgeon gevra of mense wat nog nooit die evangelie gehoor het nie ook gered kan word. Sy antwoord slaan diep: How can we, who know the Gospel, be truly saved if we don’t go to them?