Wat beteken geseënd?

We allow in our minds what we would not allow in our actions, because other people cannot see our thoughts. —Jerry Bridges

Wat beteken geseënd?

Die bergrede begin met ‘n aantal seënuitsprake. Elkeen begin met: Geseënd is die … Die oorspronklike Griekse woord wat hier met geseënd vertaal word, is moeilik om te vertaal. In die OAV word van salig is die …gepraat. Die Interliniêre Bybel praat van gelukkig is dié. Op hierdie een woord staan hierdie hele gedeelte. Daarom is dit belangrik om dit reg te kry. Ek moet hierdie woord verstaan in die lig van die storie van die Bybel: wie is geseënd en wie nie? Kry ek hierdie storie  reg, kry ek grense en inhoud om die woord in konteks te verstaan. Nou kan ek die geskiedenis van die soeke na “’n goeie lewe” en geluk ondersoek. Daar is ten minste vyf temas aan die werk in hierdie woord:

 

  • Die een wat geseënd is, word deur die God van Israel geseën. Die hele storie van die Bybel gaan oor God wat oor sy verkose mense waak – kom hulle hulle verbondsverpligtings na?
  • Daar is ‘n eindtyd fokus in die woord geseënd. Dit verwys, veral in die Nuwe Testament, na die toekomstige seën van God wat alles gaan regstel. Jesus se fokus in hierdie seënuitsprake is ook op die toekoms. Let op: Hulle sal … Jesus voorsien hier iets wat nog nie vantevore gebeur het nie: die bose van die huidige sal ongedaan gemaak word en die regverdiges sal beloon word. Hierdie seëninge, al is hulle fokus op die toekoms, begin nou reeds.
  • Hierdie uitsprake is voorwaardelik. Diegene wat geseën gaan word het sekere eienskappe; in diegene wat nie geseën gaan word nie is hierdie eienskappe afwesig. Hierdie is egter nie ‘n lys waarmee ek my vooruitgang kan meet nie. Hierdie seëninge is gerig aan groepe wat andersins deur die gemeenskap verwerp word. Ek moet dus nie uitgaan en arm word of seker maak dat ek vervolg word  om geseën te word nie. Jesus beskryf hier ‘n visie sodat sy gehoor sal besef dat dinge nie is wat hulle dink dit is nie. Die luisteraar moet sy siening van wie in die koninkryk is, uitbrei en aanpas.
  • Die seënuitsprake hou verband met verhoudings. Die geseëndes se verhouding met God is reg, maar ook hulle verhouding met hulleself en ander.
  • Hierdie seënuitsprake keer dinge om. Lukas (6:20 – 26) noem nie net dié wat geseënd is nie, maar ook diegene wat vervloek is. Wat Jesus seën, druis teen ons kultuur in.

Die geseënde persoon is iemand wat as gevolg van God se genade, God se guns geniet maak nie saak wat daardie persoon se status is nie. Jesus is die een wat sê wie geseënd is en wie is nie.