Wat is evangelisasie nie?

image_pdfimage_print

 

It is not what you believe that counts; it’s what you believe enough to do – Gary Gulbranson

 

Wat is evangelisasie nie?

Daar is ‘n paar dinge wat gereken word as evangelisasie wat nie waar is nie.

  1. Opleg van iets aan ander

Dit is verkeeerd om dit wat jy glo op ander op te lê – ‘n belangrike beswaar teen evangelisasie vandag. Dit is nie wat die Bybel met evangelisasie bedoel nie. Die boodskap wat jy deel, is nie ‘n mening nie, maar ‘n feit. Die waarhede van die Bybel word ook nie deur jou perspektief en ondervindings bepaal nie – jy het hulle nie uitgedink nie. Jy het dit nie uitgevind nie; jy het geen gesag om dit te verander nie. Al wat gebeur, is dat jy die goeie nuus vertel. Dit is net God wat dinge verder laat groei. Verkondig die goeie nuus akkuraat; leef ‘n lewe van liefde teenoor ongelowiges; bid dat God hulle van hulle sonde sal oortuig en aan hulle die gawes van bekering en geloof sal gee. Ons kan die evangelie verkondig, maar ons kan nie iemand manipuleer om dit te aanvaar nie.

 

  1. Persoonlike getuienis

Persoonlike getuienis is wonderlik. Die waarheid van die evangelie word deur ons daaglikse lewe bewys, Ons moet van hierdie gebeurtenis getuig. Dit kan sekerlik tot evangelisasie bydra. Getuienisse is kragtig. Getuienisse is inspirerend, maar dit is die evangelie wat verduidelik waaroor dit gaan en hoe dit gebeur het.

 

  1. Sosiale optrede en openbare betrokkenheid

Die begeerte om dit wat in ons samelewing verkeerd is, reg te stel is bewonderenswaardig, maar dit is nie die evangelie van Jesus Christus  nie. Dit mag die evangelie aanbeveel. Deur God se goedheid en deernis in ons optrede te weerspieël, is goed en reg. Hierdie optrede beveel die evangelie aan, maar deel dit met niemand nie. Om te evangeliseer moet die evangelie duidelik gekommunikeer word.

 

  1. Apologetika

Dit is ‘n goeie ding – dit antwoord die vrae en besware  wat mense oor God of Christus of oor die Bybel en sy boodskap het. Om vrae te antwoord en dele van die evangelie te verdedig, is dikwels deel van ons gesprekke met nie-Christene. Dit kan wel wonderlike geleenthede vir evangelisasie skep. Ons moet egter onthou dat sekere vrae onmoontlik is om te antwoord. Dit mag ‘n negatiewe effek hê. Dit mag ons aandag van die hoofboodskap aftrek. Ons reageer op ander se vrae. Evangelisasie volg God se agenda – die goeie nuus oor Jesus Christus en die pad van verlossing deur Hom.

 

  1. Die resultate van evangelisasie

Evangelisasie moet nie met sy vrugte verwar word nie. Om mense te bekeer, is nie in ons mag nie. Evangelisasie kan nie in terme van resultate, maar net in terme van trou gedefinieer word. Evangelisasie gaan oor die verspreiding van die goeie nuus. In die gelykenis van die saaier word dieselfde saad op verskillende plekke met verskillende resultate gesaai. As evangelisasie nie onmiddellik vrugte dra nie voel sommige Christene skuldig.

 

Baie evangelisasie vandag is emosionele manipulasie – neem dadelik ‘n besluit. Maar ons vergeet dat bekering die gevolg van ‘n bonatuurlike genadige optrede van God teenoor die sondaar is. As ons betrokke is in ‘n program wat bekeerlinge vinnig tel, waar besluite afgedwing word en evangelisasie volgens die onmiddelike sigbare effek beoordeel word, ondermyn ons ware evangelisasie. Mense kan selfs jare nadat die evangelie aan hulle verkondig is tot bekering kom.

 

Die Chrstelike oproep vir evangelisasie is nie net om mense te oortuig om besluite te neem nie, maar om aan hulle die goeie nuus van verlossing in Jesus Christus te vertel, om hulle tot bekering op te roep en om aan God die eer te gee. Ons misluk nie as ons getrou die evangelie verkondig aan mense wat nie bekeer word nie. Ons misluk as ons nie die evangelie verkondig nie.

 

 

image_pdfimage_print