Wat hou mense uit die kerk?

The Bible is alive, it speaks to me; it has feet, it runs after me; it has hands, it lays hold of me.” Martin Luther

 

Wat hou mense uit die kerk?

Geen gemeente gaan tog doelbewus sy deur sluit om mense buite te hou nie. Tog, as ons kyk na die min nuwe besoekers en hoeveel van hulle nooit weer terugkom nie, lyk dit asof dit die geval is. ‘n Gesonde gemeente wat groei, moet elke week nuwe besoekers sien. Dit lyk asof daar iets aan die gang is wat besoekers uit die kerk weghou.

 

Bill Tenny-Brittian sê dat daar vier dinge is wat die kerkdeure vir potensiële besoekers toemaak.

  1. Niemand weet of gee om dat jy bestaan nie

Meeste lidmate glo dat hulle gemeente baie bekend is in die gemeenskap en dat die gemeente veral vir sy vriendelikheid bekend is. Dit is nie die geval nie. Baie mense in die gemeenskap weet nie eers van die bestaan van die gemeente nie. As mense nie weet dat jy bestaan nie, gaan hulle nie juis ‘n voetpad na die kerkdeur uittrap nie. Wat kan jy hieraan doen?

  • Fokus daarop om een ding buitengewoon goed te doen – doen dit so goed dat jy jou reputasie daarop kan bou. Om geld aan verskeie organisasies in die gemeenskap te gee, is duur en werk baie selde.
  • Doen iets uniek in die gemeenskap. Hou jou basaar in die gemeenskap en nie op die kerkterrein nie.

 

  1. Jou gasvryheid is swak (hy noem dit lousy).

Dit is waarskynlik die belangrikste rede waarom besoekers nooit weer terugkom nie. Jy kry die reputasie van ‘n onvriendelike gemeente. Vir die gemeenskap verdwyn die gemeente – dit speel geen rol nie. Onthou dat omtrent alles wat die gemeente doen met gasvryheid verband hou – die aanwysings, die mense wat besoekers verwelkom, parkering, ens. Onthou as jou gasvryheid mense weggejaag het, verloor jy nie net vir hulle nie, maar hulle versprei die nuus in die gemeenskap. Nou staan jy  as daardie vervelige, irrelevante gemeente bekend.

 

  1. Jy het konflik wat nie opgelos is nie

Swak gasvryheid is die #1 rede waarom besoekers nie terugkom nie; konflik wat nie opgelos word nie, is die #1 rede waarom gemeentes doodgaan. Dit skrik mense af. Dit jaag nie net mense weg nie, maar dit belemmer alles wat die gemeente is en doen. Die deure vir nuwe mense word gesluit.

 

  1. Jou bedienings verander nie lewens nie

Gemeentes wat nie by ernstige, lewensveranderende bedienings betrokke is nie, kan net so wel onsigbaar wees. Hulle vervul nie die Groot Opdrag nie. Hoekom hou dit mense uit die kerk?

  • Mense kyk deur die vernislagie van godsdiens – hulle sien die “gelowiges” dra ‘n masker.
  • Sonder verandering van lewens is die kerk maar net ‘n klub wat net sy lidmate dien. Wie wil nou aan nog ‘n klub behoort?
  • As lewens nie verander nie, gaan niemand van die gemeente praat nie

 

As jy ‘n gemeente wil wees waarvan mense praat, moet jy die hindernisse verwyder en lewens moet verander word. Wat het jou gemeente gedoen om die hindernisse wat kerklos mense buite hou, te verwyder?