Wat is die evangelie? (5)

“The highest good, than which there is no higher, is God, and consequently He is unchangeable good, hence truly eternal and truly immortal. All other good things are only from Him.” – Augustinus

Wat is die evangelie? (5)

Tot dusver het ons uit 1 Korintiërs 15 gesien dat die evangelie waaraan Paulus die gelowiges herinner gefokus is op Christus en die kruis en gebou is op die fondament van die Ou Testament. Maar in verse 5 en 6 lees ons: Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd  broers tegelyk.

 

Hieruit sien ons dat die evangelie nie  ‘n beginsel is nie. Iets soos: dit maak nie saak hoe donker dit in die middel van die winter is nie, die lente is net om die draai. Nee, die evangelie is ‘n gebeurtenis wat op ‘n spesifieke tyd gebeur het en waarvan baie getuies kan getuig. Moses het geleer dat twee of drie getuies nodig is om oor die waarheid te getuig voordat dit aanvaar kan word. Hier is honderde getuies. Dit is voorwaar goeie nuus.

Daar is mense wat beweer dat ons die opstanding van Jesus Christus figuurlik moet sien en nie letterlik nie. Dit strook egter nie met die feite nie. Al die apostels vertel dieselfde verhaal. Die opstanding is nie ‘n simbool van iets wat in hulle harte aan die gang was nie; die opstanding was nie ‘n visie of hallusinasie nie. Luister na Johannes en Petrus:

  • Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe (1 Johannes 1:1)
  • Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien (2 Petrus 1:16). Petrus sê nie ons het ‘n warm gevoel gekry as ons aan Hom en sy onderrig gedink het nie – hulle het Hom in al sy majesteit met hulle eie oë gesien.

Volgens 1 Korintiërs 15 het Jesus vir ons sondes gesterf; Hy is begrawe; Hy is op die derde dag weer opgewek uit die dood.

Hierdie opgewek op die derde dag is nie ‘n gevoel in my hart nie, maar gebeur volgens die Skrifte en volgens ooggetuies: Sefas,  die twaalf en meer as 500 mense. Hier is twee soorte getuies hier ter sprake:

  • Die getuienis van die profete wat oor hierdie gebeure geskryf het lank voor dit gebeur het; en
  • Die apostels wat oor hierdie gebeure geskryf het nadat dit gebeur het.

Volgende keer gaan ons die aansprake  van die apostels kyk en die betekenis van hierdie aansprake evalueer.