Wat is die kerk? Maak dissipels (2)

There can be no dividing line between what we do for a living and whom we live to serve – Leonard Sweet en Frank Viola

Wat is die kerk?  Maak dissipels (2)

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Ons begin nou na die vyf geloofskataliste kyk.

Katalis #1: Praktiese Onderrig

Dit is nie die eerste blootstelling aan die Bybel wat mense se geloof versterk nie, maar die eerste keer as hulle verstaan wat die Bybel leer en toe hulle gehoor het wat gedoen moet word met wat hulle in die Bybel geleer het. Toe Jesus klaar was met sy bergrede lees ons: Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (Matteus 7:28 – 29).

 

Maar hoe het Jesus se onderrig van dié van ander leermeesters verskil? Ja, Hy het met gesag en passie gepraat, maar Hy het nie net gesê wat waar is nie, maar Hy wou ook gehad het dat die gehoor op sy onderrig moes reageer: Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het … En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het (Matteus 7:24, 26). Jesus het nie net inligting oorgedra nie – Hy leer mense sodat hulle iets kan doen en hulle lewens verander. Nooit lees ons dat Hy mense teregwys weens ‘n gebrek aan kennis nie, maar wel weens ‘n gebrek aan geloof.

Praktiese onderrig wat mense dinge laat doen, is een van die primêre maniere wat God gebruik om ons geloof te laat groei. Om die woord van God te onderrig gaan nie oor dinge weet nie, maar oor dinge doen. Predikers wat “dit is wat jy moet doen” aan die einde van hulle preke byvoeg, maak ‘n groot impak op kerklos, ongelowige mense – al verstaan hulle nie die onderliggende redes nie. Mense stel meer belang in wat werk as in wat waar is. As jy die waarheid uitdeel sonder om vir mense te sê watter verskil dit gaan maak, sal hulle jou as irrelevant beskou. Kyk weer na die bergrede. Watter woord gebruik Jesus oor en oor: Geseënd. Dit is wat mense graag wil hoor: wat moet ek doen om geseën te word?

Die inhoud van ons preke/gesprekke met kerklos mense moet nie net waar wees nie, maar moet hulle ook help. Die waarheid met “die volgende stappe” veroorsaak dat mense se geloof groei. Ons moet gedurig die volgende drie vrae vra:

  • Wat wil ek hê dat hulle moet weet?
  • Wat wil ek hê dat hulle moet doen?
  • Wat moet ek doen om verdere stappe vir hulle duidelik te maak?

Volgende keer kyk ons na die volgende katalis: Privaat dissiplines.