Wat is die kerk? Maak ons dit moeilik vir mense om deel van die kerk te wees?

image_pdfimage_print

Pray as if everything depended upon God and work as if everything depended upon man. Francis Cardinal Spellman

Wat is die kerk?  Maak ons dit moeilik vir mense om deel van die kerk te wees?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Ons kan baie by die vroeë kerk leer. Baie vroeg in die geskiedenis van die kerk hoor heidene die evangelie en glo. Hulle wou by hierdie vergadering van Christene aansluit. Maar hierdie vergadering bestaan veral uit Jode. Nou was die Joodse Christene nie gereed hiervoor nie – Jesus Christus was immers hulle Messias. Mettertyd ontstaan daar gemeentes wat grotendeels uit nie-Jode bestaan. Nou die vraag: Moet jy eers ‘n Jood word voordat jy ‘n Christen kan word?

Dit gaan veral oor wat jy mag eet en die besnydenis. Om hierdie probleem op te los word ‘n groot vergadering in Jerusalem bymekaar geroep (Handelinge 15).

Nadat na al die argumente geluister is, sê Jakobus: Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. Kerke moet dit nie onnodig moeilik maak vir mense wat hulle na God wend nie. Jakobus besef die Jode se gebondenheid aan hulle tradisies – baie van hulle is deur God ingestel en word al ‘n duisend jaar gevolg. Maar hulle kon ook nie hierdie nuwe neiging – heidene wat in God glo – ignoreer nie. Hulle moes ruimte skep hiervoor – aanpas. Daarna formuleer Jakobus die besluit en dan hierdie stelling: Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie. Die vergadering besluit dat deelname aan die kerk tot net twee dinge beperk sal word:  wees versigtig met wat julle eet as julle Joodse broers teenwoordig is en vermy onsedelikheid.

Maar swaartekrag trek die kerk gedurig terug na ‘n godsdiens sonder genade en van wettisisme. Die boodskap is elke keer duidelik: die kerk is vir kerkmense. Kerkleiers moet seker maak dat die kerk steeds ‘n plek bly waar die nuuskieriges, die skeptici, die onoortuigdes en gebrokenes welkom voel – saam met diegene wat toegewy, ingelig en oortuig is. Maar wat bind hierdie twee groepe aan mekaar? Petrus se belydenis: U is die  Christus, die Seun van die lewende God (Matteus 16:16).`

Die les vir die kerk van vandag is duidelik:  volg Jakobus se raad – raak ontslae van alles wat dit moeilik maak vir mense om na God te draai; verkondig God se waarheid wat mense vry maak; skep gemeenskappe gekenmerk deur genade. Wees ware kerk.

Volgende keer gaan ons kyk na die opdrag van die kerk: Maak dissipels.

image_pdfimage_print

You may also like...