Wat is ‘n dissipel?

Over-value not the manner of your own worship, and over-vilify not other men’s of a different mode. —Richard Baxter

Wat is ‘n dissipel?

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 Jesus se dissipels was gewone mense – net soos ons. Hulle het werke, families en sosiale lewens gehad. Jesus stap na hulle en sê vir hulle: Volg My. Nie een van hulle het verwag dat oor die volgende drie jaar hulle lewens so drasties sou verander nie. Hulle het nie geweet waarvoor hulle hulle inlaat toe hulle op Jesus se oproep geantwoord het nie. Dit sou elke aspek van hulle lewens vorm. Wat begin het as ‘n eenvoudige gehoorsaamheid aan die oproep van Jesus eindig met lewens wat totaal verander is – en uiteindelik is die wêreld ook verander.

 

Die woord dissipel word vertaal met leerling, vakleerling of volgeling. In die tyd van Jesus Christus het die dissipels hulle rabbi (= leermeester) gevolg. Waar hy gegaan het, het hulle gevolg. Hulle leer van sy onderrig, maar ook deur te sien wat hy doen – hulle doen wat hy doen. Jesus Christus het sy dissipels geroep om Hom te volg. Hulle het nie geweet waarheen Jesus hulle gaan neem nie. Hulle weet wel wat dit beteken om te volg – hulle gaan oral waar Hy gaan en sien wat Hy alles doen. ‘n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees (Lukas 6:40).

As Jesus Christus ons roep om sy dissipels te wees, moet ons Hom volg. Ons boots Hom na en volg sy bediening. In die proses word ons meer en meer soos Hy. Maar ons glo vandag dat ons ‘n Christen kan wees sonder om Jesus Christus te volg of soos Hy te wees. ‘n Volgeling wat nie volg nie, is tog ‘n onsinnige idee. Dit is glad nie wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie.

Die konsep van ‘n dissipel wees, is maklik om te verstaan, maar nie so maklik om uit te leef nie. Hoekom nie? Want as ek sê dat ek ‘n dissipel van Jesus Christus is, beïnvloed dit my hele lewe.

Nou dat ons weet wat ‘n dissipel is, is die volgende vraag: Hoe word ek ‘n dissipel?