Wat kan ek doen om jou te dien?

“Our chief want is someone who will inspire us to be what we know we could be.” ~Ralph Waldo Emerson

Wat kan ek doen om jou te dien?

Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig (Efesiërs 5:21)

As ons onderdanig reg verstaan, sal dit elke verhouding wat ons het, verander. Om dit meer prakties te maak, kan ons dit wat Paulus sê in een vraag vasvat: Wat kan ek doen om jou te dien?  Wat sal gebeur as dit die basis van elke verhouding van my is?  Hoe sou dit die verhouding met my vrou/ kinders/vriende/medewerkers beïnvloed?

 

J. D. Greear sê dat alles sal verander. Die evangelie sal jou huwelik, jou huis, jou werkplek versadig. As die evangelie ‘n gebied versadig, maak dit alles nuut. Dit herstel en herskep alles wat stukkend was. Maar as dit so eenvoudig is, hoekom doen ons dit nie? Die antwoord is baie eenvoudig: vrees. Ons is bang vir wat die ander persoon mag sê. Sê nou net hulle vra te veel van ons? Sê nou net hulle misbruik my? Wat word van my eie behoeftes as ek ander dien? Dit maak ons bang.

Jy is te bang om te gehoorsaam. Geloof gaan altyd met so ‘n bietjie vrees gepaard. Die troos is dat die meeste van die dinge wat jy vrees nooit sal gebeur nie. Is jy bang dat as jy mense so hanteer hulle nie gaan verander nie? Meestal is die teenoorgestelde waar: om mense terug te betaal vir wat hulle aan jou gedoen het, gaan hulle beslis nie verander nie. Al wat gebeur,  is dat jy ‘n heksekringloop aan die gang sit.

Die geheim van die evangelie is dat genade die kragtigste veranderingsagent op aarde is. Dit is hoe God ons verander het – nie deur dreigemente nie, maar deur my sonde in genade te vergewe. Dit is hoe my vrou en my vriende my verander het – nie deur my terug te betaal nie, maar deur genade te bewys toe ek dit nie verdien het nie.

Is jy bang dat so ‘n lewe van diens gaan verhoed dat jy blydskap ondervind? Jesus het blydskap ondervind en Hy het ander se voete gewas en vir sondaars gesterf. Daar is blydskap daarin om soos Jesus te wees, maar jy sal dit nooit ondervind as jy gedurig jou klein selfgesentreerde koninkrykie verdedig nie.

Die groot vraag: Waar kry ek die krag vandaan om dit te doen? Dit is natuurlike ‘n wonderlike idee om ander te dien, maar ons het nie die krag om dit te doen in onsself nie. Dit is ‘n krag wat die Heilige Gees vir ons moet gee. Paulus sê ons moet onderdanig aan mekaar wees uit eerbied vir Christus. As ons mekaar dien, reageer ons op Jesus se genade vir ons.  Mense mag dit dalk nie verdien nie, maar Jesus verdien dit.