Wat kan ons by die pous leer?

Calvary shows how far men will go in sin, and how far God will go for man’s salvation. –H.C. Trumball

 Wat kan ons by die pous leer?

Elke keer as die Rooms-Katolieke kerk ‘n nuwe pous kies, spekuleer mense oor watter soort pous hy gaan wees. Vir meeste van ons is dit maar ‘n bietjie geheimsinnig – niemand weet regtig wat om te verwag nie. Hierdie keer is dit anders – ons weet baie van die nuwe pous. Ons weet iets van hom as gevolg van al die mediadekking, maar ons hoef nie op die woorde van Pous Franciskus te vertrou om vir ons te sê wat hy dink belangrik is nie. Kyk net na hoe hy geleef het.

 

Die pous as aartsbiskop het verkies om in ‘n woonstel te bly – nie in sy amptelike woning in Buenos Aires nie. Hy gebruik die openbare busvervoer en nie sy amptelike motor nie. Hy kook sy eie maaltye – hy word nie deur ander bedien nie. Ons weet wat hy dink belangrik is, want sy optrede wys dit vir ons. As hy praat van eenvoudig leef, maak sy woorde ‘n impak.

Ek en jy is nie die pous nie, maar wat vir hom geld, geld ook vir ons. Ook ons optrede praat hard. Ek lees hierdie storie. ‘n Man word aangestel as hoof van ‘n kantoor. Reeds op die eerste dag sien hy dat die mense hulle persoonlike briewe in die possak gooi – die organisasie moet vir die seëls betaal. Wat doen jy in so ‘n geval?

  • Jy kan dit ignoreer – ons praat immers van klein bedraggies, maar as jy in die klein dingetjies oneerlik is, sal jy ook in die groot dinge oneerlik wees.
  • Jy kan ‘n memorandum uitstuur en mense waarsku dat daar teen mense opgetree gaan word. Ja, dit mag dalk werk.
  • Hierdie man tree anders op. Hy stap na iemand toe wat hy gesien het misbruik maak van die stelsel. “Het jy dalk vir my ‘n seël asseblief? Ek moet hierdie brief nog vandag in die pos kry.” Natuurlik het die man nie ‘n seël nie – hy gebruik immers nie sy eie seëls nie.  Toe vra hy hardop: “Sal iemand dalk vir my tydens sy etensuur seëls kan koop?” Toe hy die seëls kry, plak hy dit op sy brief en pos die brief. Dit was die einde van die onwettige gebruik van amptelike posgeld vir persoonlike seëls.

Die les is eenvoudig: As jy jou waardes uitleef, hoef jy nie baie oor hulle te praat nie. Jou voorbeeld praat baie harder as jou woorde. Dieselfde geld vir ons as Christene. Dit is belangrik dat mense ons getuienis hoor, maar nog belangriker is dat mense sien ons is Christene.