Wat moet ek oor God se woord glo?

. —Thomas Brooks

Wat moet ek oor God se woord glo?

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

In Psalm 119 kry ons drie noodsaaklike kenmerke wat ons oor God se woord moet glo.

  • God se woord vertel die waarheid

Dan sal ek dié wat my vals beskuldig, kan antwoord, want ek vertrou op u woord (119:42).

U is altyd getrou en regverdig, u wet staan altyd vas (119:142)

Ons kan weet God se woord is waar en ons kan daarop vertrou. Dit is belangrik, want ons kan nie alles glo wat ons op die Internet lees, of in die klaskamer hoor of by politici hoor nie. Statistiek word gemanipuleer, foto’s word aangepas, maar God se woord kan nie aangepas of gemanipuleer word nie

. U woord, Here, staan altyd vas in die hemel (119:89); Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie (119:96); Op u woord kan ‘n mens hom geheel en al verlaat (119:160). Daar is geen perke op die volmaaktheid van God se woord nie. Luister net na Jesus se woorde: Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid (Johannes 17:17).

  • God se woord eis wat reg is

Die psalm erken God se reg om voorskrifte uit te vaardig. Dit weet ook dat God se voorskrifte regverdig is: Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry,  is ‘n teken van u trou (119:75).Dit is baie belangrik dat ons die goedheid en regverdigheid van God se gebooie insien. Ons moet liefhê wat Hy liefhet; ons moet ons verheug in alles wat Hy sê. God gee nie voorskrifte om ons aan bande te lê of om die vreugde uit ons lewens te neem nie. Sy voorskrifte is nie arbitrêr nie. Dit vereis nooit iets wat onwys of liefdeloos of onrein is nie.

  • God se woord voorsien wat goed is

God se woord is die pad na:

Geluk: Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here (119:1).

Wysheid: As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie (119:6).

Veiligheid: Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord (119:9).

Goeie raad: U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers (119:24)

Maar God se woord gee ook vir ons:

Krag: Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos u in u woord beloof het (119:28).

Hoop: In u bepalings stel ek my vertroue (119:43).

Insig: Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is (119:130).

Die pad: U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad (119:105).

God se woord is volmaak; ons kan dit vertrou. Dit vertel altyd die waarheid, dit eis wat reg is en voorsien wat goed is.

Volgende keer gaan ons kyk na wat ons oor God se woord moet voel.