Wat is nuus?

 

“Without a heart transformed by the grace of Christ, we just continue to manage external and internal darkness.” —Matt Chandler

 

Wat is nuus?

[Ek maak veral van N. T. Wright se boek Simply Good News gebruik.]

In sy vroegste vorm is die Christelike geloof as goeie nuus aangebied – dit is immers die betekenis van die woord evangelie [Grieks: eu – goed + angelion – boodskap HAT]. Maar vandag sien mense nie meer die Christelike geloof as nuus nie – allermins nie goeie nuus nie. Ons verstaan nie meer die betekenis van hierdie feit nie.

 

Dit is tyd dat ons weer vir onsself afvra: Wat is die goeie nuus wat Jesus self aangekondig het – dit wat Hy vir sy volgelinge beveel het om verder te verkondig?

 

Ons aanvaar ons weet wat evangelie beteken en wat dit behels. Ons let nie meer op die betekenis van waarom die Christelike geloof na ons kom as die aankondiging van die beste moontlik nuus nie. Tog het Jesus Christus en die vroeë Christene die evangelie as sulke goeie nuus gesien dat dit so wyd as moontlik verkondig moes word.

 

Wat word met goeie nuus bedoel?

  • Dit is ‘n nuwe en onverwagte ontwikkeling in ‘n veel langer storie. Dit maak sin in daardie langer storie. As ons nie die agtergrondstorie ken nie, kan ons nie verstaan waarom die aankondiging goeie nuus is nie. In hierdie geval kry ons die agtergrondstorie in die Ou Testament.
  • Dit is nuus van wat gebeur het en alles nou anders maak. Dit is nuus wat betekenis het, impak maak en gevolge het wat lewens verander.
  • Daar is ‘n interim tydperk van wag tussen die aankondiging van die goeie nuus en die vervulling daarvan.

 

Hierdie nuwe gebeurtenis word in ‘n ou storie geplaas en wys na ‘n wonderlike toekoms wat tot dusver buite ons bereik was. Dit lei ‘n nuwe tydperk in – in plaas van ‘n uitsiglose lewe wag mense nou met afwagting op dit wat hulle weet op pad is. Dit is die Christelike goeie nuus. Die evangelie van Jesus Chrisus kom as nuus in ‘n groter storie; dit wys na ‘n wonderlike nuwe toekoms; dit lei ‘n tydperk van wag in waartydens ons verwagtings verander word.