Wat sê die Bybel oor verassing?

Wat sê die Bybel oor verassing? – Francois Malan

Ben vra:

Ek wil graag weet of daar enige skrif verwysing is na die verassing van `n afgestorwene wat sê dit is verkeerd of geen probleem om iemand te veras nie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Nee, daar is nie spesifieke Skrifbewyse vir of teen verassing nie.

 Die Hebreeuse kultuur het nie ‘n skeiding tussen siel en gees geken nie, en dood is nie gesien as ‘n skeiding van die twee nie. ‘n Lewende was ‘n lewende siel en ‘n dooie ‘n ‘dooie siel(nefesj)’ (Num 6:6; Lev 21:11; die 1983-vertaling vertaal ‘dooie siel’ met ‘n ‘lyk’). Dood was vir hulle nie vernietiging nie. Solank die bene nog bestaan, het die bene ‘n siel, as ‘n skaduwee in die doderyk (sheool)  (Job 26:5-6; Jes 14:9-10; Esegiël 32:17-32).

            Daarom was die lyke van die dooies belangrik en moes hulle ‘n eerbare begrafnis gekry het, want die siel was volgens hulle bewus wat met die dooie liggaam gedoen word. Om onbegrawe te lê vir die roofdiere en voëls was die ergste van vervloekings (1 Kon 14:11; Jer 16:4; 22:19; Eseg. 29:5). Maar die graf en die lyk was onrein en mag nie aangeraak word nie (Lev 21:1-4; 22:4; Num 19:11-16; Eseg 43:7).

Verbranding van die lyke was slegs met erge kriminele gedoen (Gen 38:24; Lev 20:14; 21:9). Die mense van Jabes in Gilead het egter die liggame van Saul en sy seuns met eerbied verbrand voordat hulle hulle bene begrawe het (1 Sam 31:12) wat ‘n uitsondering was.

 

Die Nuwe Testament praat van ons aardse liggame wat vergaan en ‘n opstanding van ‘n verheerlikte onverganklike liggaam met Christus se wederkoms  (1 Korintiërsd 15:35-57). 2 Kor.5:1-5 sê ons liggaam word afgebreek en ons het ‘n ewige woning in die hemel wat deur God gebou is. Paulus sê om te sterwe is vir hom ‘n wins en hy verlang om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is die allerbeste (Filippense 1:21-24). Met ons dood is ons reeds by Christus wat uit die dood opgestaan het en ons deur geloof aan Hom verbind het vir die ewige lewe.

 

Daar is egter geen etiese argumente waarom verassing verwerp of aanvaar moet word nie:

 1 Piëteit en eerbied vir die liggaam van die dooie hoef nie noodwendig te ontbreek by verassing nie en is nie vanselfsprekend teenwoordig by ‘n begrafnis nie.

 2 Die uiteindelike resultaat van verassing en begrawe is presies dieselfde. Die liggaam los in sy grondbestanddele op.

 3 Die liggaam word reeds geskend deur die dood wat ingetree het, voordat die proses van ontbinding in die graf verder voortgaan, selfs deur wurms verteer word,  of die verbranding begin.

 4 Verassing is nie ‘n onnatuurlike proses en begrawe ‘n natuurlik proses nie. Albei is kultuurhandelinge wat ons met die liggaam doen.

 5 Ons weet dat God, wat oral teenwoordig is (Ps 139:8), ook in die graf en in die oond teenwoordig is, en Hy kan ‘n mens daaruit opwek, selfs vir hulle wat op see deur visse opgevreet is (Openb 20:13), solank ons maar in Hom is, ons name opgeskrywe is in die boek van die lewe (Openb 20:15), deurdat ons in Jesus Christus glo en aan Hom gehoorsaam is (Johannes 3:36).  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan