Wat sing ons?

 

God does not change — and neither does His love. He loved you before you were born… He loves you now… and He will love you forever. – Billy Graham

 

Wat sing ons?

Daar is honderde nuwe Christelike liedere wat elke jaar bykom. Tog vind ons dat die psalms op sekere plekke ‘n herlewing ondervind. Hoekom? Hulle is van terapeutiese waarde. Daar is vandag soveel deurmekaar emosies en mense vind dat die psalms hierdie verskillende emosies kragtig hanteer.

  • Die psalms balanseer Goddelike openbaring en menslike emosies.

Sommige Christelike liedere is emosioneel roerend, maar het maar min teologiese inhoud. Die hart, maar nie die denke nie, word betrek. Soms kry ons ook die teenoorgestelde: baie teologiese feite, maar dit raak nie die persoon se gevoelens nie. In die psalms kry ons ‘n balans – die objektiewe en subjektiewe word volmaak gabalanseer. Gereeld lees ons: “Loof die Here vir …” Daarna volg redes en motiverings vir die lof.

 

  • Psalms ondersoek die volle omvang van menslike emosies

In die psalms kry ons ‘n onvergelykbare mengsel van menslike emosies: hartseer en vreugde, twyfel en vertroue, eensaamheid en gemeenskap, wanhoop en hoop, vrees en moed, mislukking en oorwinning, klagtes en lof, ens. Calvyn sê dat die psalms “’n anatomie van al die dele van die siel is.” Hy sê dat daar nie ‘n emosie is wat nie daar verteenwoordig is nie.

 

  • Die psalms skilder ‘n realistiese beeld van Christelike emosies

Die psalms skilder nie die Christelike lewe as die een oorwinning na die ander nie. Baie van die hedendaagse musiek is net positief – dit verskil van dit wat Christene in die ware lewe ondervind. Uiteindelik mag dit tot sinisisme en twyfel lei. In die psalms, daarenteen, kry ons eerlikheid. Hierdie sterk uitdrukking van die mens se emosies mag ons aanvanklik ontstel, maar gou vind ons psalms wat uitdrukking gee aan wat ons dink, voel en ondervind in ons daaglikse lewens.

 

  • Die psalms is ‘n welkome uitlaat vir ons pynlike emosies

Het jy al ooit van sekerheid gesing terwyl jy vol twyfel is? Het jy al ooit van vreugde gesing terwyl jy terneergedruk is? Aaklig. Hoekom kan ek nie sing wat ek werklik voel nie? Met die psalms kan jy. Sommige laat ons toe om twyfel, selfs wanhoop, uit te druk (Psalm 88). Ander help ons om ons stryd met terneergedruktheid te verduidelik (Psalm 42). So kan ons aangaan. Die psalms stel ons in staat om uitdrukking aan ons pynlikste emosies te gee. Dit is nie meer nodig om hulle op te krop of te ontken nie. Die psalms reik in om hierdie emosies te kry en reik dan na bo, na God toe, met hulle.

 

  • Die psalms vra vir die transformasie van ons emosies.

Die psalms laat ons nie net toe om ons emosies te lug nie, maar vra ook vir die transformasie daarvan. Ons word nie toegelaat om in ons emosies voort te ploeter nie, maar word gewys hoe ons van vrees na moed, van hartseer na vreugde, van wanhoop na hoop kan beweeg. Die beginpunt is pynlik, maar die eindpunt is emosionele heling. Ons moet met die psalmis se leiding na hierdie eindpunt beweeg.

 

  • Die psalms roep ons op na simpatieke emosie

Soms wonder ons waarom ons van hartseer moet sing as ons bly is of sing van blydskap as ek terneergedruk is? Dit is die denke van ‘n selfgesentreerde persoon. As ek ‘n gelowige is, leer ek om verder as myself te kyk. Ek mag miskien nie hierdie dinge voel nie, maar daar is ander wat dit wel voel. Die psalms vra my om saam met dié wat huil te huil en bly te wees saam met dié wat bly is – al voel ek nie so nie. Die psalms herinner my aan die emosionele diversiteit in die gemeente en nooi my uit om in die lyding en suksesse van ander te deel.

 

  • Die psalms voorsien ‘n emosionele stimulus vir ‘n lewe van geregtigheid.

Die psalms gebruik die emosionele energie wat hulle genereer om praktiese gehoorsaamheid te stimuleer. Let net op hoeveel wysheidspsalms kry ons in die Psalms. In hulle word die pad van gehoorsaamheid uitgestippel. Emosionele transformasie moet lei na lewenstransformasie.