Watter faktore dra by tot ons verstaan van God?

Watter faktore dra by tot ons verstaan van God? – Francois Malan

Jaco vra:

Wil net weet water faktore dra by tot ons verstaan van God?

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

In Efesiërs 3:14-21 bid Paulus dat die gelowiges in staat sal wees om iets van die liefde van God te begryp, ‘n liefde wat ons verstand te bowe gaan. In dié verse word verwys na ‘n hele aantal ‘faktore’ wat bydra tot ons verstaan van God, die God van wie 1 Johannes 4:7-9 sê ‘…elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God, en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.’


In Efesiërs 3 word ‘n aantal ‘faktore’ genoem in die proses om God te ‘verstaan’:


1.   Dit is iets wat ons van God die Vader in nederige gebed vra (Ef.3:14). In Ef.2:18 het hy reeds gesê: deur Christus Jesus se kruisdood ‘het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees, vrye toegang tot die Vader.

God die Vader het elke familie en familie-groep gemaak, ons bestaan en ons rol in die lewe is van Hom afhanklik (3:15). Hy sorg vir ons, en ons staan onder sy beheer as die Vader van elke familie (3:9 noem Hom reeds die Skepper van alle dinge).


2.   Die inhoud van die gebed is eerstens dat God ons innerlik sal versterk deur sy Gees (3:16). In 1:17 is reeds gesê dat God deur sy Gees aan ons wysheid gee en Hom so aan ons openbaar dat ons Hom werklik kan ken. Ons ‘innerlike mens’ is die setel van ons bewussyn, 3:17 noem dit ons hart, ons morele wese, waarmee ons verstaan en keuses maak. Ons verstaan iets van God deur sy openbaring van Homself aan ons deur sy Gees, wat in ons kom woon, om ons dag vir dag te vernuwe (2 Kor.4:16). God kan alles wat ons nodig het voorsien uit die onuitputlike rykdom van sy heerlikheid.

Die innerlike versterking beteken dat Christus self permanent in ons woon om in liefde te heers oor alles wat ons is en doen (3:17a). Sy inwoning is deur geloof, en geloof is ook ‘n gawe van God (2:8). Soos wat ons Hom vertrou, so maak Hy ons hart sy woning. Die Gees is besig om ons al meer te verander om soos Christus te wees in ons denke en optrede (vgl. 2 Kor.3:18).


3.   Die gevolg van ons versterking, deur die Gees deur Christus in ons te laat woon, is dat ons in die liefde sal wortelskiet – dat alles wat ons is en doen deur Christus se liefde gevoed word, soos ‘n plant deur sy wortels gevoed word om te groei; en dat ons op die liefde gegrond sal wees, as die fondament van ons lewe en lewensuitkyk, soos ‘n gebou stewig op sy fondamente staan (17b).

1 Joh.4:7-21 sê: slégs as ons in liefde teenoor mekaar lewe, kan ons God ken, want die liefde kom van God, elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde – dit het Hy geopenbaar deur sy Seun na die wêreld te stuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.


4.   Die tweede versoek in Paulus se voorbidding is dat God aan ons die krag sal gee om te begryp hoe onmeetlik Christus se allesomvattende liefde is (3:18). Dit is ‘n gebed dat God aan al die gelowiges egte insig sal gee in die liefde van Christus.

Die begrip van die liefde van Christus impliseer ‘n persoonlike kennis daarvan, om die afmetings wat die liefde van Christus aanneem persoonlik te ervaar en uit te leef. Die ‘verstaan van God’ is nie iets wat ons met ons verstand kan begryp soos boekkennis wat ons kan gebruik of nie gebruik nie. Die ‘verstaan van God’ gebeur in ‘n persoonlike verhouding met God as ons Vader aan wie ons ons lewe toevertrou, en vir wie ons uit liefde gehoorsaam in alles wat ons doen, soos Jesus sy Vader op aarde gehoorsaam het.


5.   Maar ons kan nooit die volle omvang en diepte van Christus se onmeetlike liefde verstaan nie (3:19a).

Dit is God wat ons vol maak met die volheid van God. Sy doel is dat ons die volheid van God sal beleef (3:19b). In 4:13-16 spel Paulus dit uit: dat ons almal uiteindelik sal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en ons kennis van God, dat ons, as sy kerk, soos ‘n volwasse mens sal wees, so volwasse en volmaak soos Christus, wat in liefde by die waarheid bly en in alle opsigte groei na Christus ons hoof toe, waar elke gelowige sy funksie in die liggaam van Christus vervul.


6.   In dit alles gaan dit nie om ons eer nie, maar om die eer van God, wat magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink; Hy werk in ons deur sy Gees. Maar ons kan Hom nie uit ons eie prys nie. Christus is die middelaar van God se werk in ons. Hy is ook die middelaar van ons reaksie om die Vader te prys (3:20-21).

Die ‘faktore’ (liewers die beweging) waardeur ons God ‘verstaan’ (in Romeine 11:33-36 besing Paulus God se wysheid in sy handelinge met die wêreld om die mens te verlos, en sy kennis van ons en van wat gebeur; sy oordele is ondeurgrondelik – dit is moeilik om sy optrede te verstaan maar ons weet dit is reg soos Job 5:9 en 9:10 sê, en sy weë is onnaspeurlik – hoe Hy werk om sy doel te bereik) eintlik kan ons God nie verstaan nie, maar Hom wel in sy liefde ken.

Maar die beweging om Hom te ken begin by Hom. Hy openbaar Homself aan ons, Hy maak Homself kenbaar. Dit het Hy gedoen deur Christus te stuur om ons deur sy kruisdood en opstanding van ons sonde te verlos, sodat ons die Skepper ons Vader kan noem. Die Heilige Gees het in ons kom woon om ons aan Christus te verbind om saam met die Seun van God te lewe vir ons Vader. En die hele beweging is een van liefde, want die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees is liefde. In daardie liefdesverhouding kry ons deel deurdat die Heilige Gees ons daarin opneem om die genade van Jesus Christus ons Here te ken, en die liefde van God ons Vader, deur die gemeenskap van die Heilige Gees (2 Kor.13:13). Die Heilige Gees gebruik veral die woord van God om ons te leer, deur die Bybel te bestudeer, daaroor in gebed na te dink en toe te pas, ook deur die prediking, mense, boeke, gebeure, ens. Slegs so kry ons iets verstaan van God, Hom ook in sy skepping as Skepper herken, en Hom as die Herskepper van mens en skepping begin ken, sodat ons Hom kan loof en eer met ons denke, woorde, lied en optrede.

 

Skrywer: Prof Francois Malan