Wedergeboorte

Wedergeboorte – Francois Malan

‘n Leser vra:

Die Woord leer ons dat die enigste weg Christus is, dat jy jou moet bekeer en in Joh 3 sê Jesus vir Nikodemus dat hy weergebore moet word om die ewige lewe te beërwe. Wat gebeur met `n baba wat te sterwe hom en nog nie rasioneel kan dink nie, want daar staan ook dat ons in sonde gebore en ontvang is. Ek weet God is regverdig, ens en dat daar in Joh 8 verwys word na mense wat nie weet nie, maar as die vereiste vir die ewige lewe wedergeboorte is, hoe nou. Indien `n baba/kind dan hemel toe gaan omdat hy nie toerekenings vatbaar is nie, van watter ouderdom is hy/sy dan toerekenings vatbaar. Ek weet van kinders wat op 6-7jarige ouderdom tot bekering gekom het.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Wedergeboorte is die nuwe lewe wat God in die hart van ‘n mens begin. Kinders van God is dit nie van nature, nie deur die begeerte of besluit van ‘n mens nie. Om kind van God te word is geheel en al God se werk. Joh.1:13 sê letterlik: hulle is uit en deur God gebore (NAV: God is hulle Vader). Dit lei daartoe dat mense in Christus glo en dat mense Christus aanneem as God wat vir hulle sonde gesterf het aan die kruis (Joh.1:12,29). Geloof is ook ‘n gawe van God wat die Heilige Gees in ons werk. Ef.2:8: want uit (God se) genade is julle gered deur geloof, en dit (redding en geloof) kom nie uit julleself nie, dit is ‘n gawe van God.

Bekering is die mens se berou oor sy sonde en sy breuk daarmee om ‘n nuwe lewe te begin uit opregte liefde vir God. Twee Griekse woorde word daarvoor gebruik: metanoia is die verandering van denke oor Christus, en strefo of epistrefo wat beteken omdraai, weg van die sonde en van my self af, na Christus om saam met Hom te sterwe aan my self en saam met Hom op te staan tot ‘n nuwe lewe vir God en my medemense (Rom.6:1-14; Mat.2237-40). Bekering is eenmalig en ‘n daaglikse voortgesette daad (Ef 4:22-24).

Die nuwe geboorte kom van God af. Joh 3:3 praat van weergebore word, en die bywoord ‘weer’ beteken ook ‘van bo af’.  Nikodemus verstaan dit as ‘weer’gebore wat vir hom onmoontlik klink vir ‘n volwassene (3:4). Jesus verduidelik dit egter as gebore word uit die Gees (3:5-8), as ‘n nuwe skepping wat van Bo kom. 2 Kor.5:17 sê: ‘as iemand in Christus is, is hy/sy ‘n nuwe skepping; 5:18: ‘en dit is alles uit God wat ons, deur Christus, met Homself versoen het…’ Die wedergeboorte is die inplanting van die totale mens in Christus. Die woord wedergeboorte is ‘n metafoor wat die werking van God verduidelik na aanleiding van die geboorte van ‘n mens deur die inplanting van die saad van die man (Joh.1:13; 3:6). Dit word vergelyk met die saad van God se woord.

Wanneer wedergeboorte van ‘n mens plaasvind kan nie bepaal word nie. Joh.3:8: ‘Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore word’ – onverstaanbaar vir die wêreld.

Wat die wedergeboorte doen, word in Titus 3:4-7 beskryf: toe die goedheid en mensliewendheid van God ons Verlosser verskyn het, nie deur dade van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar volgens sy (God se) barmhartigheid, het Hy ons gered deur die afwassing (van ons sonde) deurdat ons  weergebore en vernuwe word deur die Heilige Gees. God het die Heilige Gees ryklik op ons uitgestort deur ons Verlosser Jesus Christus, sodat ons geregverdig mag wees (in die regte verhouding met God gestel kan wees) deur sy genade, en ons het erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.

Die wedergeboorte vind ‘onmiddellik’ en ‘middelik’ plaas. In die genadeverbond werk die Heilige Gees onmiddellik in die lewens van mense, sonder die middel van die verkondigde woord. Daarom hoef gelowige ouers nie te twyfel oor die saligheid van vroeggestorwe verbondskinders wat nog nie die prediking van die woord gehoor het of onderrig is in die woord van God nie. Dit is God wat werk soos Hy wil en wanneer Hy wil, wat ook gesê het dat die belofte vir ons en ons kinders bedoel is (Hand.2:38-39).

Maar vir hulle wat nie in die genadeverbond gebore is nie, werk die Gees middellik. Die Heilige Gees werk deur middel van die woord van God, wat verkondig word om mense te oortuig, en so word mense wat die woord kan hoor en verstaan weer gebore. 1 Petr.1:23: Julle is weergeborenes nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike en blywende woord van die lewende God. Jak.1:18: Volgens sy wil het Hy (die Vader van die ligte) ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons ‘n soort eerste vrugte van sy skepsels sou wees. Hiermee beklemtoon Jakobus God se vrye verlossingsinitiatief (Rom.3:21-22), die lewewekkende krag van die woord (Joh.5:24), en God se genadige herskepping van die mens (2 Kor.5:17) sodat ons met Hom en vir Hom sal lewe. Die Heilige Gees gebruik ook die woord van God om ons te laat groei as verloste kinders van God, soos babas wat met melk gevoed word om te groei (1 Petr.2:2; Rom.8:14-17). En die vrug van die werk van die Heilige Gees word gesien in ons liefde, vreugde, vrede, geduld, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing; en die kruisiging van ons sondige selfsugtige natuur met al sy hartstogte en begeertes (Gal.5:22-24).

 

Skrywer: Prof Francois Malan