Weet wat die wêreld aanbied, maar nie kan gee nie (1 Johannes 2:15 – 17).

image_pdfimage_print

 

Study the Bible to know about God. Obey the Bible to really know God – Adrian Rogers

Weet wat die wêreld aanbied, maar nie kan gee nie (1 Johannes 2:15 – 17).

In verse 12 – 14 het Johannes sy lesers bemoedig. In hierdie gedeelte waarsku hy hulle teen wat hy die wêreld noem. Hiermee verwys hy na ‘n wêreldse perspektief gelei deur Satan. Dit word gekenmerk deur die begeertes van die menslike natuur, sy oë en sy trots in sy besittings. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie (vs15). Ons gee ons oor aan dinge wat tydelik en verbygaande is – dinge sonder enige ewigheidswaarde.

 

Johannes sê dat ons nie van ons gedagtes, waardes en gedrag wat teenstrydig met God se woord is afgode moet maak nie. Johannes noem drie dinge wat die wêreld belowe, maar nie vir ons kan gee nie.

 

  • Die wêreld kan nie vir jou gee wat jy nodig het nie (1 Johannes 2:15)

Die verlange van die mens se hart is om ander lief te hê en om deur ander liefgehê te word. Hierdie liefde moet op die regte dinge gerig word. Daarom sê hy: Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. Hoekom?? As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Liefde vir die Vader is wat ons nodig het – dit is waarvoor jy gemaak is. Kies wie jy liefhet versigtig en wyslik. Ons moenie ons liefde aan iets minder gee nie, want die kan nooit vir ons gee wat ons werlik nodig het nie.

 

  • Die wêreld kan nie vir jou gee wat dit beloof nie (1 Johannes 2:16)

Hier lees ons duidelik van die wapens wat die wêreld gebruik om mense te mislei om by hom aan te sluit. Al hierdie dinge is in ons – die vyand is in ons. Dit is dieselfde drie wapens wat Adam en Eva mislei het: Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet (begeertes van die menslike natuur) en mooi om na te kyk (begeertes van die oë) en begeerlik omdat dit kennis kan gee (trots). Dit is hierdie selfde drie versoekings wat Jesus in die woestyn oorwin het (Lukas 4:1 – 13). Hierdie versoekings is algemeen en alhoewel hulle oud is, is hulle nog doeltreffend. Ons moet hulle herken en teenstaan deur die krag van die Heilige Gees en die woord van God.

 

  • Die wêreld kan nie vir ons gee wat ewig sal hou nie (1 Johannes 2:17)

Die wêreld en sy begeertes gaan verby. Die lig en dit wat ewig bly, het gekom in Jesus Christus. Wat bly? Die een wat die wil van God doen.

 

Een van die treurige verhale in die Bybel is dié van Demas. In Kolossense 4:14 hoor ons die eerste keer van hom. Hy word saam met ander genoem oor sy getroue diens aan Christus. Ons hoor weer van hom in 2 Timoteus 4:10: Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat.  Ons moet uit hierdie verhaal van Demas leer: moenie dat die liefde vir die teenswoordige wêreld jou liefde vir die Vader uitdoof nie.

 

 

image_pdfimage_print