Werk: Werk saam met God se versoeningsending (1)

Unless there is an element of risk in our exploits for God, there is no need for faith. —Hudson Taylor

Werk: Werk saam met God se versoeningsending (1)

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Werk is ‘n ingewikkelde, belangrike, selfs intieme deel van wat dit beteken om mens te wees. Dit is verbasend hoe min die kerk oor werk te sê het. Die kerk kan mos nie relevant wees as dit niks hieroor sê nie. As ons vir gemak of doeltreffendheid kortpaaie neem, verwater ons die vreugde van die evangelie. In ‘n kultuur wat deur gemak gedefinieer word, moet die kerk weer die betekenis van goeie werk ontdek. Ons moet ‘n balans ontwikkel tussen werk te ernstig opneem en dit glad nie ernstig opneem nie. Deur goeie werk te doen is een manier om as volgelinge van Jesus te reageer op die werk wat God reeds besig is om om ons te doen.

 

Die beginpunt van die Stadige Kerk se benadering tot werk is dat ons nie in beheer is nie. Alles, hemel en aarde, is God se huishouding. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here (Psalm 24:1). Hierdie begrip van die huishouding is ‘n belangrike een in die Skrif. Vir die vroeë Christus beweging was dit die beginpunt van alle sosiale, politieke, godsdienstige en ekonomiese aktiwiteit. Die wet van God se huishouding is nie op skaarste nie maar op oorvloed gebou; nie op dood nie maar op lewe; nie op opgaar maar vrygewigheid. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God (Efesiërs 4:19).

Goeie werk behoort fundamenteel te beteken samewerking met God. Dit is gewortel in die werk wat God reeds gedoen het en steeds besig is om te doen in ons samelewing en die wêreld en ook in die kerk. Die normale definisie vir werk sluit gewoonlik daardie dinge uit wat ons doen sonder om daarvoor betaal te word – ouerskap, vrywillige werk, versorging van die tuin, ens. As ons die woord werk beperk tot dit waarvoor ons betaal word, bepaal ons baie gou die waarde van werk volgens die salaris wat betaal word. Moet ons nie eerder die belang van die werk bepaal deur die mate waartoe dit die samelewing baat nie.

Mense is na die beeld van God gemaak. Hy het vir ses dae gewerk en op die sewende dag gerus. God se opdrag aan die eerste mense was om vrugbaar te wees, en die aarde te bewoon en bewerk. Hy moet ook oor die diere heers. Al hierdie dinge behels werk. In Genesis 2:15 lees ons dat God die mens in die tuin laat bly het om dit te bewerk en op te pas.

Dwarsdeur die Skrif lees ons dat God mense vir sy werk toerus.Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen … Aan elke vakman het Ek die vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het (Eksodus 31:3 – 6). In 1 Korintiërs 12:4 – 7 lees ons van die verskeidenheid van geestelike gawes wat die Gees gee – tot voordeel van almal. Werk wat die hele persoon betrek, dikwels in samewerking met ander, tot voordeel van die hele gemeenskap is die ideaal.

Hoekom word werk dan dikwels as betekenisloos gesien? Adam Smith (1723 – 1790) plaas werk sentraal in die lewe van die individu en die samelewing. Hy beskou werk slegs in terme van bruikbaarheid – nie menswaardigheid nie. Die doel van werk is produksie; die doel van produksie is verbruik. Mense werk dus, want dit gee aan hulle die mag om dinge te koop en vir dienste te betaal. Die belangrikste bron van ‘n land se rykdom is menslike arbeid. Hierdie skep probleme op die vlak van die individu – werk is iets wat ons moet vermy as ons dit kan bekostig.

Smith het in die verdeling van arbeid geglo – sekere beperkte dele van die vervaardigingsproses word aan verskillende mense gegee om sodoende doeltreffendheid te verbeter en produktiwiteit te verhoog. Werkers word uitgebuit; hulle take is dikwels herhalend, vervelig en onbevredigend – dehumaniserend. Daar is geen ruimte vir kreatiwiteit nie.

Frederick W. Taylor (1856 – 1915) verdeel  die werkplek in komponente wat gestandardiseer, gekwantifiseer, evalueer en beheer kan word. Hy vertrou nie werkers om hulle eie inisiatief te neem nie. Absolure uniformiteit is die kern. Werkers is meer produktief as hulle soos robotte ‘n vaste roetine volg. Saam met Henry Ford ontwikkel Taylor die eerste monteerbaan. Hier het ons die voorloper van McDonaldifikasie.

McDonalds  het ‘n opleidingshandboek wat alles presies voorskryf en dikteer elke aspek van werk in die restaurant – dit weeg amper twee kilogram! Dit is net reëls en regulasies – dit is tegnologie wat mense beheer. “In die verlede was die mens eerste; in die toekoms moet die sisteem eerste wees” (Frederick Taylor). Daar is selfs ‘n gemeente in Florida in die VSA wat ‘n werkboek vir hulle aanbiddingspan het – almal moet swart dra, hulle mag nie oorgewig wees nie, moet op ‘n spesifieke plek op die verhoog staan en mag niks dra wat die aandag op hulle sal verstig nie. Hulle mag selfs nie hulle hande oplig nie. Dit is beheer.

Die McDonalds handboek sê vir werkers hoe om op te tree onder elke situasie. Benader ons nie soms die Bybel op dieselfde wyse nie? Ons sien die Bybel as ‘n omvattende kaart wat ons deur die lewe moet lei – seker en doeltreffend. Gebruik ons nie dan die Bybel op ‘n manier wat dit nie bedoel is om te gebruik nie? Vir die Jode in die tyd van die Ou Testament was die Skrif die beginpunt van ‘n lewenslange gesprek met God wat in die konteks van ‘n groter gemeenskap plaasgevind het. Die Skrif is ‘n kompas en nie ‘n padkaart nie. Die kompas wys na Jesus – die ware noord. Dit is waar die reis – die gesprek, die verhouding – begin.

Volgende keer gaan ons kyk na die implikasies hiervan vir die kerk.