Wie is die hoer in Openbaring – Francois Malan

Michele vra:

Wie is die hoer in openbaring?

Openbaring 17:1,15,16; 19:2

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die naam wat op die voorkop van die hoer in Openbaring 17 geskryf staan, word in vers 5 in Grieks beskryf as ’n mustêrion, ’n geheim, iets waarvan die inhoud voorheen nie bekend was nie, maar aan sekere persone bekendgemaak is, ’n geheim wat net aan daardie persone bekend is. Haar naam word dan aangegee as ‘Babilon die Grote.’ Die engel verduidelik in verse 7-18 die geheim aan Johannes. In vers 18 word gesê dat die hoer die groot stad is, wat heerskappy oor die konings van die aarde het.

Toe Openbaring geskryf is het Babilon vir baie lank nie meer bestaan nie. Maar in Openbaring word die naam Babilon veral gebruik vir die stad Rome, wat op sewe heuwels gebou is (17:9), dit is die sewe koppe waarop die vrou sit, waarvan vers 7 praat. Daar is ook sewe konings wat die keisers van Rome voorstel. Vyf van hulle het al tot ’n val gekom en die sesde heers op die oomblik toe Johannes die gesig op Patmos gesien het. Keiser Domitianus het vir Johannes na die eiland Patmos verban. Hy is moontlik die sesde koning waarvan die teks praat. Die sewende het nog nie gekom nie (17:9-10). Die getal sewe stel in Openbaring volledigheid  of volkomenheid voor. Dit verwys na die volle tydperk van die heerskappy van die keisers van Rome.

Rome was die hoofstad en setel van die regering van die Romeinse ryk wat die hele ryk met geweld beheer en onderdruk het. Die verskillende lande wat aan Rome belasting moes betaal en die goewerneurs wat die lande namens Rome regeer word gesimboliseer deur vers 7 se tien horings van die dier wat die stad dra, soos vers 12 die goewerneurs ook konings noem.

Eintlik stel Rome alle goddelose magte voor. Rome is skuldig aan lasterlike afgodery, verleidelike immoraliteit en uitspattige luuksheid waarmee sy die nasies verlei (17:3-4). Volgens 17:6 vervolg en vermoor die goddelose magte ook die christene, die getuies van Jesus, soos Domitianus en sy voorganger Nero gedoen het. 

Die dier waarop die hoer ry wil die hele wêreld beheer en die tien goewerneurs wat genoem word konings wat nog nie die koningskap ontvang het nie, help die dier om die hele wêreld te beheer (vgl. 17:12-13). Hoofstuk 18 vertel van die val van die bose regerings van die wêreld en dat God uiteindelik die enigste oorwinnaar sal wees. Hy bly in beheer. Die ontugtige vrou is die hoer. Sy is die bose regerings en goddelose magte wat deur die vuurrooi draak, die Satan (Openb 12:9) gebruik word. Sy sal vernietig word deur dieselfde magte wat sy so wellustig gedien het (Openb 18:2-23).   

Skrywer: Prof Francois Malan