Wie Jesus ken, ken die Vader (14:7-11)

image_pdfimage_print

Wie Jesus ken, ken die Vader (14:7-11) – Francois Malan

14:7 Omdat Jesus die weg is, die middelaar van die waarheid van God, en die lewe van God af, beteken dit as jy Jesus ken, ken jy ook die Vader. Dit is die positiewe kant van 14:6b se negatiewe stelling. Daarby verseker Jesus hulle: van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien! Na drie jaar saam met Jesus het hulle die Vader gesien in alles wat Jesus is en gedoen het (10:30,38); met Jesus aan die kruis en uit die graf sal hulle God sien in sy liefdesdiens aan die wêreld (8:28).                  

14:8 Filippus is verbaas deur Jesus se antwoord. Hulle het nog nie die Vader gesien nie. Soos alle mense (saam met  Moses, Eks 33:18) wil hulle graag die Vader sien. Dan sal hulle tevrede wees en hulle twyfel besweer wees. Filippus het nie begryp dat die volle heerlikheid, genade en waarheid van God geopenbaar is in Jesus nie (1:18). Deur geloof in Jesus sien ons die ‘onsienlike God’ (soos Moses, Hebr.11:27).

 

14:9  Jesus het ‘n sagte berisping vir Filippus: Ek is so lank al by julle, en ken jy My nie, Filippus?  Alle gemeenskap met Jesus is sonder betekenis as Hy nie erken word nie as die Een wie se enigste bedoeling was om God te openbaar; maar die moontlikheid om God te sien is deel van gemeenskap met Jesus. Die sagte verwyt lei tot ‘n volgende piek in die bergreeks van openbarings: Wie My sien, sien die Vader! Die mensdom soek daarna om God te sien, en Hy is ten volle geopenbaar in Jesus.  Maar na sy hele tyd by Jesus het Filippus nog nie die geloof om God in Jesus te sien nie. Reeds vir Moses het God gesê: niemand mag my gesig sien nie, maar Ek sal my voortreflikheid/goedheid (Hebr tob) voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon, en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie’ (Eks 33:19-20,23).  Soos by die braambos, openbaar God nie hoe Hy lyk nie, maar hoe Hy is – sy goedheid. Hy sal sy Naam  ‘Here’ uitroep, wat beteken ‘Ek is’ = Ek is regtig, die ware God. So openbaar Jesus die genade op genade van God (1:14,16).

 

14:10 Die vraag aan Filippus ‘glo jy nie…’ veronderstel ‘n positiewe antwoord ‘Ja ek glo…’ Die rede vir die openbaring van 14:9 (wie My sien het die Vader gesien) word hier bekend gemaak. Jesus is nie die Vader omdat Hy God se Gestuurde is nie – hoewel dit in die besonder waar is van Jesus se verhouding met die Vader. Die basis is ook nie dat God in die verlede baie keer en op baie maniere met Israel gepraat het en nou op ‘n  volmaakte manier nie (Hebr 1:1). Die grond vir die openbaring van 14:9 is dat Jesus in die Vader is en die Vader in Hom (vgl. 10:30,37-38: Ek en die Vader is een). Hierdie wedersydse inwoning beskryf die volmaakte eenheid tussen die Vader en die Seun – iets wat ons menslike taal en begrip te bowe gaan, maar wat duidelik aanwys dat daar in die diepte van God se wese ‘n gemeenskap tussen die Vader en die Seun is wat nie vergelyk kan word nie, ‘n eenheid waarin die woorde en optrede van die Seun die woorde en optrede van die Vader in Hom is, en waarin die Vader se woorde en optrede tot finaliteit kom in Jesus (5:19-27 ‘n liefdeseenheid). Die persoon wat glo dat Jesus waarlik God is, een met die Vader, ken die Vader, en het geen verdere openbaring van die Vader nodig nie (12:49-50).

 

14:11  As die uitspraak van Jesus, dat Hy in die Vader is en die Vader in Hom,  ons verstand te bowe gaan en moeilik is om in geloof te begryp, vra Hy dat ons sal kyk na die werke, die sewe wondertekens  wat in dié Evangelie beskryf en die betekenis daarvan deur Jesus verduidelik is. Dan sal ons Jesus se optrede en woorde sien as die redding van God in aksie, en sy woorde as woorde van ewige lewe (6:68; 1983-vertaling: wat ewige lewe gee). In die woorde en optrede van  Jesus is God se doel met die mens verduidelik en vervul. Vir dié wat glo word dit duidelik dat Jesus deur die woorde en werke besig is om die Vader ‘sigbaar’ en ‘kenbaar’ te maak (10:38). Dié wondertekens kan geen mens doen nie; dit is duidelik werke van God. Elkeen wat in Jesus glo, leer om deur Hom die Vader te ken en te ‘sien.’

 

Skrywer:  Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...