Wyn of Druiwesap

Wyn of Druiwesap – Francois Malan

Jacobus vra: 

Watter gebruik: DRUIWESAP van die wingerd(wynstok) en of GEGISTE (alkoholiese) WYN word by die nagmaal gebruik?Ons het ‘n verskil omdat sekere lidmate geharde drinkers was voor hulle bekering en nou wil die kerkraad net druiwesap tydens die nagmaal bedien. Is dit verkeerd om nagmaalwyn te gebruik ?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesus se tyd was wyn ‘n algemeen bekende drank in Palestina omdat daar baie druiwe verbou is, soos bv. in die Boland waar wyn ‘n algemene drank is  (daar is gebiede waar druiwe en wyn heeltemal onbekend was – in Noord-Sotho is daar bv. geen woord vir druiwe of wyn nie en is die Afrikaanse woorde ‘druife’ en ‘beine’ in die ou Bybelvertalings gebruik).

Jesus het van die gebruiklike drank en die stapelvoedsel brood gebruik vir die instelling van die Nagmaal tydens die viering van die Joodse Paasfees wat in vreugde teruggedink het aan Israel se verlossing uit Egipte (Eksodus 12). Die Nasireërs het hulle vir ‘n tyd aan die Here gewy en het dan geen wyn of bier gedrink het nie (Numeri 6:2-4). So het Johannes die Doper gevas en geen wyn gedrink nie (Lukas 1:15). Hy word in Matteus 11:16-18 verbind met die treurlied tydens ‘n begrafnis, omdat Johannes die Doper vir Israel geroep het tot bekering van hulle sonde, ter voorbereiding vir die koms van God se Gesalfde (Messias, Christus). Maar die mense se nydige reaksie op Jesus se optrede is dat hy ‘n vraat en ‘n wynsuiper is, omdat Hy Hom met die vreugdelied van die huweliksdans vereenselwig het, die Vriend van tollenaars en sondaars deur met hulle saam te eet (Matt.11:16-19; 9:10-11). Hy is die bruidegom wat gekom het, en die bruilofsgaste kan nie vas terwyl Hy by hulle is nie (Matteus 9:14-15). So het Hy by die bruilof te Kana ‘n groot klomp wyn gemaak toe die wyn opraak (Johannes 2:6-11).

Markus 14:23-5 en Matteus 26:26-29 se weergawes van die instelling van die Nagmaal noem nie wyn nie, maar die beker, omdat daar by die Paasmaal vier keer wyn gedrink is wat die 1e,2e,3e,4,e beker genoem is. Jesus praat ook van die produk (vrug) van die wingerdstok wat Hy saam met sy dissipels sal drink in die koninkryk van sy Vader, letterlik staan daar: ‘ek sal nie drink van hierdie vrug van die wynstok nie tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink saam met julle in die koninkryk van my Vader’ (NAV het dit probeer verduidelik twee keer in die teks die woord  ‘wyn’ te gebruik). Die ‘produk van die wingerdstok’ verwys gewoonlik na wyn, maar kan ook na mos of druiwesap verwys.

Lukas 22:17-18 praat ook van die beker en die produk (vrug) van die wingerdstok; en 22:20 van die beker.

1 Korintiërs 11:25-26 praat ook net van die beker.

In Matteus 9:17, Markus 2:22 en Lukas 5:37 word gepraat van ‘nuwe wyn’ wat nie in ou leersakke gegooi moet word om te gis nie. Die term ‘nuwe wyn’ wys gewoonlik na mos of druiwesap, wat nie soos Monis se druiwesap gepreserveer is om nie te gis nie.

Ek vermoed dat die gedagte van die kerkraad om net druiwesap te gebruik, iets te doen het met Paulus se uitspraak in Romeine 14:21 dat dit goed is as ‘n mens nie wyn drink wat jou broer laat struikel nie. Die hele gedeelte 14:19-23 waarsku die sterkes in die geloof om nie hulle vryheid te misbruik as dit ‘n swak broer laat struikel nie; maar waarsku ook die swak broer om nie eise te stel wat die vryheid van die sterke aan bande lê nie.

Ek sou sê dat Nagmaal bedien kan word met wyn en druiwesap, sodat elkeen kan kies, as die houer verbykom, wat hy of sy wil gebruik om aan die bloedoffer van Jesus vir ons sonde te dink, en dit vir onsself in geloof toe te eien. Wat van belang is, is nie die simbole wyn of druiwesap nie, maar die bloed van ons Here, wat ook ‘n simbool is vir sy offer van sy lewe wat ons volkome vry maak van ons sonde deur in Hom te glo as God self wat vir ons die straf op ons sonde gedra het (vgl. Hebreërs 10:11-18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan