Wysheid (1)

image_pdfimage_print

 

“The Christian Church does not exist in Heaven, but on earth and in time.” Karl Barth

 

Wysheid (1)

Wat is wysheid? Hoe kry ons wysheid? Ek gaan twee blogs aan hierdie vrae spandeer.

 

Om die belang van wysheid te verstaan, moet ons ‘n paar vrae antwoord. Watter tipe persoon kan ons bewonder? Hoe evalueer ek of iemand betekenisvol is? Volgens die wêreld is uiterlike voorkoms belangrik. Ons soek almal na die volmaakte voorkoms. Spreuke sien dinge anders. Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word (31:30). Spreuke gaan verder: Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig (9:10).

 

Adonia en Absalom was mooi, maar hulle was nie die moeite werd om te volg nie (1 Konings 1 – 2). Hoekom nie? Hulle het nie goddelike wysheid gehad nie. Moenie jou betekenis en waarde bepaal deur jou eksterne voorkoms nie, maar deur jou interne onderwerping aan God.

 

Hoe moet Christene geestelike groei bepaal? Om ‘n klomp bekende Christene te ken is nie ‘n teken van geestelike volwassenheid nie. Om baie boeke en artikels te lees, beteken ook nie geestelike groei nie. Geestelike groei is meer as emosies. Jy kan ‘n kop vol teologie hê, maar tog kan jou lewe ‘n mislukking wees. Paulus het verlang dat Christus se kerk in wysheid moet groei (Efesiërs 1:17; Kolossense 1:9). As ‘n persoon nie in wysheid groei nie, groei hy ook nie volwassenheid nie.

 

Wat is wysheid? Dit is ‘n ingewikkelde konsep. Kom ons kyk na ses dimensies van Bybelse wysheid wat met mekaar verband hou.

  • Die dimensie van aanbidding. Wysheid begin deur die Here te dien. As jy nie die ware God aanbid nie, is jy nie wys volgens die Skrif nie. Jy kan intellektueel wees, maar as jy nie vir God aanbid nie, is jy nie wys nie.
  • Die dimense van insig. Wyse mense het insig in geestelike waarhede. Hulle dors na insig in geestelike waarhede. In die Nuwe Testament lees ons dat die Heilige Gees ons oë oopmaak en vir ons wysheid en insig gee sodat ons God beter kan ken.
  • Die dimensie van onderskeiding. Die wyse mens kan ‘n situasie lees en die regte besluit neem. ‘n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem, en as hy sy woorde reg kies, kan hy ander ook leer (Spreuke 16:21). Paulus bid dat die Filippense in kennis en onderskeidingsvermoë sal groei (1:9).
  • Die morele dimensie. Dwarsdeur Spreuke gaan wysheid en reinheid saam. In Jakobus sluit wysheid deugde soos reinheid en vredeliewendheid in (3:17 – 18). Die wyse persoon is oop vir regstelling.
  • Die dimense van geregtigheid. So sal hulle ‘n behoorlike opvoeding ontvang en ‘n sin vir geregtigheid, reg en billikheid (Spreuke 1:3).
  • Die dimensie van vaardigheid. Die Here het die fondament van die aarde met wysheid gelê, en die hemel gebou met insig (Spreuke 3:19). So sien ons dat Salomo vaardighede gehad het op politieke gebied – ook in die bou van die tempel.

 

Volgende keer gaan ons kyk na hoe ons hierdie wysheid kry.

 

image_pdfimage_print