Wysheid (2)

 

“The person who knows only his side of the argument knows little of that.” Karl Barth

 

Wysheid (2)

In die vorige blog het ons gekyk na wat wysheid is. Nou die vraag: Hoe kry ons wysheid?

 

Hoe kry ons wysheid? Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid (Spreuke 11:2). Die Bybel leer vir ons dat ons wysheid by God moet soek (Jakobus 1:5). Ons moet ook die Skrif bestudeer om in wysheid te groei (Spreuke 7:1 – 5). Paulus sê dat die Skrif ons die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus (2 Timoteus 3:15).

 

Mense soek oral wysheid – Dr Phil en Oprah is bekende voorbeelde. Gaan na die Skrif: Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is (Psalm 19:8). Ons moet ook die geloofsgemeenskap opsoek om in wysheid te groei. Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg (Spreuke 13:20).

 

Wysheid word uiteindelik in en deur Christus gevind. Wysheid is nie net ‘n stel idees nie. Wysheid is in ‘n Persoon. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind (Kolossense 2:3). In Christus kom ons in ‘n verhouding met God wat ons in staat stel om God met eerbied te aanbid. In Christus kry ons insig en ‘n onderskeidingsvermoë. In Christus sien ons hoe ‘n wyse, goddelike lewe lyk. In Christus kry ons die krag om hierdie lewe uit te leef. In Christus kan ons regverdig oordeel. Om van Christus weg te loop, is om van wysheid weg te loop.

 

Waar kry ons wysheid? Net by Christus.