Wysheid se vooruitgang

Wysheid se vooruitgang

wie iemand so opvoed dat hy ‘n ligsinnige mens word, moet die verwyt daarvoor dra; wie iemand so leer dat hy ‘n goddelose word, doen dit tot sy eie skande. Moenie ‘n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ‘n wyse op, en hy sal lief wees vir jou. Gee jou aandag aan ‘n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ‘n regverdige, en sy kennis vermeerder (Spreuke 9:7 – 9)

Die lewe wys ons tereg deur harde slae van beproewings en probleme, wat vir ons ons swakhede en dwaasheid uitwys. Vriende help ons groei deur die liefde van regstelling.

Hoe verder jy op die pad van dwaasheid loop, hoe meer interpreteer jy alle gebeure as ondersteunend tot dit wat jy nog altyd geglo het. As dinge skeef loop, blameer jy ander of omstandighede vir jou probleme. Dit verhard jou hart en maak jou minder toeganklik vir raad, Gee jou aandag aan ‘n wyse mens en hy kry meer wysheid, maar probeer die dwaas iets vertel en hy word erger as wat hy was voor jy probeer het. In die Nuwe testament lê Jesus die beginsel neer: Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook nog die bietjie wat hy het, weggevat word (Matteus 13;12 – 16). Hoe meer wysheid jy het, hoe meer wysheid gaan jy op jou lewenspad kry. Hoe minder wysheid jy het, hoe minder gaan jy uit enigiets leer. Leer uit jou foute en uit kritiek.

As dinge verkeerd loop of as ek iets verkeerd doen, help my Here om my nie te verdedig of om myself te probeer regverdig nie of om die blaam na ander te verskuif nie. Hierdie is die instrumente wat dwase gebruik. Laat my leer wat ek moet leer. Laat ek begin by wat gister gebeur het.