Asarja se gebed en die lied van die 3 jong manne

Asarja se gebed en die lied van die 3 jong manne

Wat het met Daniël se drie vriende gebeur toe hulle binne-in die warm vuur gegooi is? Die Ou-Testamentiese apokrief, Asárja se gebed en die lied van die drie jong manne vertel wat gebeur het:

 

1 Ganánja, Asárja en Mísael het in die middel van die vuur rondgeloop. Hulle het liedere vir God gesing en die Here geprys.

2 Toe het Asárja in die vuur gaan stilstaan en hardop gebid:

3 “Ons prys U, Here, God van ons voorouers. Ja, ons loof en eer U vir altyd en altyd, 4 want dit wat U gedoen het, was regverdig. Ja, alles wat U doen, is waar en reg! U oordeel altyd reg! 5 U het reg geoordeel: alles wat U met ons laat gebeur het en met Jerusalem, die heilige stad van ons voorouers, was reg! Ja, U het reg geoordeel en ons gestraf vir ons sondes toe U dit alles laat gebeur het.

6 Ja, ons het sonde gedoen en u wet oortree toe ons van U weggedraai het. Ons het sonde gedoen en was nie gehoorsaam aan u gebooie nie. 7 Ons het hulle nie nagekom nie; nie gedoen wat U ons beveel het sodat dit met ons kon goedgaan nie. 8 Alles wat met ons gebeur het en alles wat U ons aangedoen het, was reg; U het reg geoordeel! 9 U het ons uitgelewer aan ons vyande, aan wettelose mense, goddelose vyande, aan ‘n onregverdige koning, die heel slegste een in die wêreld!

10 Nou kan ons niks sê nie. Ons wat U dien en aanbid, is nou in skande en oneer.”

11 “Maar ter wille van U eer vra ons: moet ons tog nie vir altyd weggooi nie! Moenie u verbond ophef nie! 12 Moenie u goedheid van ons wegneem nie! Luister na ons ter wille van Abraham vir wie U lief was, Isak wat vir U gedien het en Israel wat aan U behoort het!

13 U het aan hulle belowe dat U hulle nageslag so baie soos die sterre aan die hemel en so baie soos die sand op die strand sou maak. 14 Maar, Here, ons volk het kleiner geword as enige ander volk; ons is nou orals in die wêreld verneder as gevolg van ons sondes! 15 Ons het nou geen koning of profeet of leier of brandoffer of slagoffer of offers of wierook of ‘n plek om aan U te offer en U goedheid te ervaar nie!”

16 “Maar ons kom na U, stukkend en verneder, asof ons brandoffers van ramme en bulle en tienduisende vet lammers vir U bring. 17 Aanvaar dit tog vandag as ons offer aan U! Laat ons vir U end-uit volg, want ons weet U laat nie mense wat U vertrou, in die steek nie! 18 Ons wil U voluit volg, U respekteer en naby U bly sodat U ons nie in die steek laat nie!

19 Wees geduldig met ons en baie goed vir ons! 20 Red ons met een van u wonderwerke; laat die mense sien hoe wonderlik U is! 21 Maar laat almal wat die mense wat vir U dien, kwaad aangedoen het, in die skande kom! Bring hulle in oneer en vat al hulle krag en mag weg; breek hulle sterkte! 22 Laat hulle uitvind dat U alleen die Here God is; dat ‘n mens oral in die wêreld kan sien hoe wonderlik U is!”

23 Die koning se dienaars wat hulle in die oond gegooi het, het aangehou om die vuur te stook. Hulle het nafta-olie, teer, stukke tou en stukkies hout op die vuur gegooi.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie