Wat het van Adam en Eva geword

Adam en Eva – Marius Nel

Danie vra:

Wat het van Adam en Eva geword nadat hulle die tuin van Eden verlaat het. Ek het die boekie genaamd “boek van Eden” gelees – maar dis nie n boek in die Bybel nie. Help asb.

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Die Bybel vertel niks verder van Adam en Eva nie, en daarom is die antwoord: ons weet nie.

Dat mense soms gewonder het, kan gesien word uit die spekulasies wat eeue later op skrif gestel is.

Calvijn het by geleentheid geskryf dat die Bybel die antwoorde gee wat nuttig vir ons heil is, en dat dit nie antwoorde gee om ons nuuskierigheid te bevredig nie, want God stel nie belang om ons slim te maak nie, maar te red.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 3

Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 3 – Retha Pretorius

Job se vriend Elifas en sy “wysheid”

Nadat Job se vriende die regte ding gedoen het om vir sewe dae en sewe nagte, sonder om te praat, by Job gesit het, het Job sy geboortedag vervloek, soos ons vroeër gesien het.

Daarna het sy een vriend, Elifas, begin praat en Job geantwoord: “Dink daaraan, het onskuldige mense ooit vergaan? Wanneer is die mens wat God getrou dien, al ooit vernietig?” (4:7)

So subtiel val hy vir Job aan, dat dit voorkom of hy hom werklik wil help: ” Gaan na God toe en stel jou saak aan Hom…..” (5:8) Sy filosofie is: omdat Job soveel leed ervaar, moes hy iets verskrikliks verkeerd gedoen het om God so kwaad te maak!

Op die oog af lyk hierdie redenasies van Elifas na die waarheid, maar wat hy en die ander vriende verkondig is vergeldingsdogma. Hulle wou ook vir God in hierdie soort optrede vasvang, maar God werk nie só nie!

Hoeveel keer is ek en jy ook ‘n “jobstrooster” wat vir iemand in smart wil laat verstaan dat lyding as straf deur God gestuur is?

 

Job praat ‘n tweede keer

Job sê weer hoe intens hy sy lyding ervaar, en hoe intens hy sy toestand beleef. Hy stort sy pyn uit.

Hy antwoord sy vriend: “Eerlike kritiek maak nie seer nie, maar julle argumente bewys niks! Dink julle dat julle woorde oorreed as julle nie eers my wanhoop kan hoor nie?” (6:25,26)

Hierdie wanhoop neem Job na God, en my hart wil breek oor soveel on-eindige diepe leed:

O God, onthou tog

My lewe is maar ‘n asempie…….(7:7)

Daarom kan ek nie stilbly nie.

Ek moet kla oor my lyding.

Ek moet praat, want ek is bitter. (7:11)

Wie van ons kan nie identifiseer met Job se wanhoopskrete nie? Het elke mens nie al deur sy of haar lewe só gevoel, wanneer die lewe se géselhoue ons platslaan, en ons God daarvoor verantwoordelik hou nie?

 

Bildad se beurt

Nou praat Bildad met Job, en weereens gee hy voor dat Job en sy kinders gróót moes gesondig het om soveel straf te verdien. Hy kom baie vroom voor, en moedig Job aan om God om genade te vra.

Job se reaksie is ‘n erkenning van die beginsels wat Bildad vir hom voorhou, maar……. hy voel dit is nie reg om met God te redeneer nie, of hy wat Job is nou skuldig of onskuldig is!

Hy sou graag ‘n middelaar wou hê, sodat hy nie vir sy straf bang hoef te wees nie: “Maar in my eie krag kan ek dit nie doen nie” (9:35b)

Is dit nie merkwaardig nie – ‘n verwysing na ‘n middelaar, soos Jesus in die Nuwe Testament was. So is alles in God se woord in ‘n perfekte patroon en harmonie, en al die legkaartstukke pas presies inmekaar.

Job is vir my ‘n intens emosionele en poëtiese werk, wat my deurentyd aan die hart gryp.

In deel 4 sal verder na die vriende se “wyshede” gekyk word, en Job se gesprekke met God onder oë geneem word.

 

Skrywer: Retha Pretorius




Die Groot Geloofswoordeboek: Selfliefde

Die Groot Geloofswoordeboek: Selfliefde

Selfliefde

Selfliefde is ‘n omstrede begrip. Daar is gelowiges wat dit hoog aanprys en ander wat meen dit is sonde. Sulke uiterste verskille berus dikwels op misverstande. Dit kan in hierdie geval ook so wees. (*Liefde)

Selfliefde: ‘n bevel van Jesus

Daar word ‘n sterk saak uitgemaak vir selfliefde as ‘n goeie saak, selfs ‘n moet. Jesus som die wet in twee gebooie op. Die twee­de een lui: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die argument is nou dat dit beteken jy moet jouself liefhê, en dan moet jy jou naaste ook net soveel liefhê. Dit sou beteken dat selfliefde nie net “mag” is nie, maar selfs ‘n “moet”. Dis ‘n bevel van Jesus. Jy moet jouself liefhê, en jou naaste dan net soveel. Jou liefde vir jouself is die maatstaf van jou liefde vir jou naaste. Dit is die basis van ‘n uitbalanseringsetiek: Ek en my naaste moet ewe veel kry, maar ek is die maatstaf.

Dit word dan verbind aan die goue reël: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” (Matt 7:12). As ons onsself liefhet, sal ons goed weet wat ons graag wil hê, en dit help ons om te weet wat ons aan ons naaste moet doen.

En daarby kom nog die vermaning van Paulus: “Julle moet nie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil 2:4).

Dit lyk so met die eerste oogopslag na ‘n sterk argument ten gunste van selfliefde. Sommige formuleer dit só: Gun ander wat jy self het. En ook: “Charity begins at home.”

 

Selfliefde: sonde

Maar daar is ook negatiewe oortuigings hieroor. Kom ‘n mens ooit by die naaste uit as jy by jouself begin? Kry jy ooit die an­der een in sig as jyself die wêreld volstaan? Augustinus het gesê: Sonde is incurvatus in se, opgekrul in jouself, soos ‘n luislang. En dié moet homself eers uitrol, reguit draai en na buite kyk om te kan beweeg. Is Jesus se opdrag regtig dat ons by onsself moet begin? Is dit wat Hy gedoen het?

Kom ons begin by Jesus se opsomming van die wet. Die self­liefde-argument eindig met drie gebooie: liefde vir God, liefde vir jouself en liefde vir jou naaste. Maar Jesus sê uitdruklik Hy som die wet in twee gebooie op. Skynbaar het Hy nie bedoel “soos jouself” is ‘n gebod nie. Wat dan?

Die goue reël lui natuurlik nie dat ons aan ander moet doen wat ons aan onsself doen nie, maar dat ons aan ander moet doen wat ons wil hê dat hulle aan ons moet doen. Dit beteken dat ek my moet indink wat vir my lekker sal wees en dit dan aan ander doen. Dit is heeltemal anders as om eers alles aan jouself te doen en dan aan ander. In die goue reël word jy net ‘n teoretie­se maatstaf vir wat jy aan ander moet doen, nie een wat dit eers daadwerklik aan jouself doen nie.

En dan die vermaning van Paulus. Soos dit daar staan, skep dit al die ruimte om by jouself te begin en daarna na die ander oor te beweeg: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” Dit vra selfs baie minder as die “driegebooie-etiek” waar ‘n mens darem net soveel aan ander moet doen as aan jouself. Hier moet jy nou net darem ook ietsie vir ander doen.

Snaaks dat Paulus dit elders “effens” anders skryf, of liewer ra­di­kaal anders, met weglating van die “net” en “ook”. Ons lees: “‘n Mens moet nie jou eie voordeel soek nie, maar dié van an­der. Maak soos ek: Ek soek nie my eie belang nie, maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word. Volg my voorbeeld, soos ek die voor­beeld van Christus volg” (1 Kor 10:24, 33; 11:1).

As die “net” en die “ook” uit Filippense 2:4 weggelaat word, is dit ‘n totaal an­der etiek. Dan word dit Jesus se voorbeeld wat Pau­lus dan ook in die Korintiërbrief voorhou. Jesus het mos nie eers aan Homself genoeg gedoen en daarna darem ook ‘n ietsie vir ons nie. Hy het Homself mos radikaal verneder en tekort gedoen om ons te red. “Hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword” (2 Kor 8:9). Dis ‘n gee-etiek, nie ‘n uitbalanseringsetiek nie.

Maar is dit nie dieselfde voorbeeld waarna Paulus in Filippen­se 2 verwys nie? Gaan hy nie ná die vermaning direk oor om ons op Jesus te wys wat aan God gelyk was, maar dit prysgegee het en aan ‘n slaaf gelyk geword het, en selfs nie die vernederende kruisdood ontsien het om ons te red nie? (Fil 2:5 ev) Hoe pas die “net” en die “ook” van 2:4 in dié verband?

Dis interessant dat die Grieks van Filippense 2:4 dieselfde vorm het as 1 Korin­tiërs 10, maar dat die vertalers verkies het om hier ‘n “net” en ‘n “ook” in te voeg wat hulle nie in 1 Korintiërs ge­doen het nie. As hulle wou vertaal soos in 1 Korintiërs 10 en soos die voorbeeld van Jesus in Filippense direk na hierdie vers ons leer, sou hulle vertaal het: “Julle moenie elkeen aan sy eie be­lange dink nie, maar juis aan dié van ander.” Dit sou dan ook presies gepas het by die voorafgaande sin wat nie lees: “Julle moet julleself gelyk ag aan die ander een” nie, maar: “Julle moet die ander een hoër ag as julleself.” Daar was nie taalkundig of teologies rede om die “net” en “ook” in Filippense 2:4 te voeg nie. Dit spreek teen die hele ver-band en dit vloek teen Jesus se voor­beeld wat pertinent net daarna in beson­derhede behandel word.

Wanneer ons weer kyk na Jesus se opsomming van die wet, is dit duidelik dat dit teen sy hele lewe en voorbeeld spreek om “soos jouself” as ‘n aparte gebod te sien waaraan ons net so gehoor­saam moet wees as aan “jou naaste liefhê”. En dit is totaal onnodig om mense te beveel om hulself lief te hê. Die groot probleem is dat ons nie daarvan kan afsien nie. Dis ons heerlikste tydverdryf. Dis ‘n kwade dag as dit geïnterpreteer word as ‘n bevel van God. As dit iets is, is dit ‘n verbod van God. God sukkel ons lewe lank om ons te laat afsien van ons liefde vir onsself. Calvyn het gesê ons het nie ‘n gebod nodig om onsself lief te hê nie, dis ons sondige natuur wat ons aanvuur om dit vanself te doen.

 

“Soos jouself”

Wat beteken “soos jouself” dan? Dis inderdaad die norm vir ons naasteliefde. Soos ons onsself altyd in ons sondige selfsug liefhet en dit die uitgangspunt van ons lewe maak, net so moet ons nou ons naaste liefhê en hom of haar die uitgangspunt van ons doen en late maak. Dis presies wat die goue reël ook sê: Dink mooi wat vir jou lekker sou wees, en doen dit dan aan die ander, nie aan jou­self nie.

Maar waar kom die ernstige verdediging van ‘n positiewe self­liefde dan vandaan? Dalk uit ‘n misverstand.

Die misverstand is die betekenis van *liefde in die Bybel. As ons dit wil aflei uit Jesus se optrede, is liefde die bereidheid om vir ander te offer, selfs tot die dood toe. Ek kan my nie vir my­self opoffer nie. Liefde is ‘n beweging weg van jouself na die ander. Liefde kos iets, soms alles. Dit maak selfliefde per definisie onmoontlik.

Maar daar is ‘n kernwaarheid in die verdediging van selflief­de. Dit is dat ‘n mens ‘n positiewe selfbeeld moet hê om in staat te wees om lief te hê. Iemand met min selfvertroue kan min gee, en liefde het alles met gee te doen. ‘n Positiewe selfbeeld lei tot respek vir ‘n mens se eie lewe, om verantwoordelik met jou lewe om te gaan. Maar dit is nie liefde nie. Jesus se liefde was onherroeplik op ander gerig.

Waar kry ‘n mens ‘n positiewe selfbeeld? As jy glo wat die evan­gelie sê, dat God jou (as deel van die wêreld) so liefhet dat Hy sy enigste Seun vir jou gegee het tot in die allerdiepste vernedering, dan het jy waarde vir God; dan kan jy jou kop optel en uitbeweeg na mense in nood. Dít is liefde.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Sekte

Die Groot Geloofswoordeboek: Sekte

Sekte

Dit is ‘n negatiewe woord wat deur historiese kerke gebruik is, en soms nog gebruik word om groepe te beskryf wat van hul­le weg­gebreek het. Gedurende die laaste drie dekades het die ge­bruik van dié woord gelukkig afgeneem omdat daar meer kon­tak tussen denominasies gekom het en meer begrip dat daar baie meer ooreenkomste as verskille is tussen groepe wat mekaar in die ver­lede onnodig beveg het.

Dit beteken nie dat alles maar goed is nie. Daar is geloofsver­skil­le wat ingrypend is, soms so erg dat Christelike gemeen­skap nie regtig moontlik is nie. Maar selfs in hierdie gevalle hoef ons nie neerhalend van mekaar te praat nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König