Het jy geweet? Die paradys?!

Het jy geweet? Die paradys?! – Jan van der Watt

Die Persiese (Iranse) konings in die Bybelse tyd het indrukwekkende paleise gebou. Deel van hierdie paleise was gewoonlik ’n pragtige tuin waarin die koning kon gaan stap of ontspan het.

Die interessante is dat van die konings die tuine ook as tipe “vertoonvensters” vir hulle mag gebruik het. In die tuine is daar bome en plante uit hulle hele ryk geplant. Al die vreemde en eksotiese plante moes wys hoe groot en magtig die koninkryk was. Die tuin is gewoonlik omhein en bewaak – en so ʼn tuin is “paradys” genoem.

Dit laat ons natuurlik dink aan Genesis en die “paradys”. Adam en Eva het daar gewoon en daar was diere en bome (ook spesiale bome soos die boom van kennis van goed en kwaad). Die tuin was omhein en bewaak. God het ook op sekere tye hier kom “wandel” (wat die ideë skep dat Hy uit die “paleis” in die “tuin” kom “wandel” het). Hierdie tuin is ook “paradys” genoem. Die ooreenkomste is meer as opvallend.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Het jy geweet? Jesus in doeke toegedraai

Het jy geweet? Jesus in doeke toegedraai – Jan van der Watt

Ons lees dat Jesus in doeke toegedraai is na sy geboorte.

Dit was die algemene ding om met ʼn baba te doen. Die baba is na geboorte gewas en dan met sout ingevryf. Dit moes die baba reinig en die velletjie ferm te kry. Die baba is dan ‘in doeke’ toegedraai. Die baba se gewrigte is eers met linne vasgedraai. Hulle het gedink dit is beter vir die baba tot die spiere sterker word. Dan is die baba met ʼn vierkantige doek toegemaak. Die doek is soos ʼn koevert om die baba gevou. Ander linnedoeke is dan rondom die baba gedraai sodat die baba byna soos ʼn kokon gelyk het. Die baba is gereeld skoongemaak en is gereeld met olyfolie ingevryf, wat selfs ʼn bietjie lekkerruikgoed in kon hê.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (2)

Het jy geweet? Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (2) – Jan van der Watt

Jy moes jou plek ken – dit is die plek wat die groep vir jou gee. Dit was belangrik dat elkeen in die groep sy rol en plek moes ken. In ʼn groepsituasie was dit belangrik, want as elkeen nie doen wat van hom verwag word nie, is dit soos ʼn enjin waarvan al die ratte nie mooi werk nie. Daardie enjin sal nie loop nie.

Die pa was die leier van die groep en moes sorg vir die goeie funksionering van die groep. Hy was as die Paterfamilias gesien, oftewel die een met die gesag in die gesin. In die Romeinse wêreld het die pa absolute mag oor sy gesin gehad en kon selfs sy kinders as slawe verkoop of doodmaak. Dit is egter sterk deur die gemeenskap veroordeel.

In die Joodse wêreld het die pa se mag nie so ver gestrek nie. Die pa moes veral vir twee dinge sorg:

  • Hy moes die tradisie van die groep bewaar en dus vir die dissipline sorg. Dit het beteken dat hy die kinders (veral die seuns) moes leer wie hulle is en wat van hulle verwag word. Hy moes ook sorg dat hulle reg optree en as hulle die familie skade aandoen, moes die pa sorg dat daar dissipline is. Die kinders moes luister na wat die pa sê. As die Bybel dus gelowiges die kinders van God noem, is dit verstaanbaar dat ons na ons hemelse Vader moet luister en sy wil moet doen. Dit is wat van kinders verwag is.
  • Die pa moes ook vir die gesin se voortbestaan sorg. Hy moes sorg vir geld, kos en klere. As die gesin beledig of bedreig is, moes die pa ook leiding neem om die gesin te beskerm. Daarom vra ons ook van ons hemelse Vader ons daaglikse brood (Matteus 6:11). Ons hemelse Vader weet immers wat ons nodig het en daarvoor sal Hy sorg (Matteus 6:31-32). Hy het die gesin ook in die openbare lewe verteenwoordig.

Wanneer die pa gesterf het, was die eersgebore of oudste seun die een wat die familie en familienaam moes voortdra. Daarom was dit so ʼn ramp en skande as die vrou van die leier van die familie nie ʼn seun kon voortbring nie. Dit het die groep se voortbestaan bedreig.

Die Romeinse pa het selfs die reg gehad om te besluit of hy sy pasgebore kind wil hê of nie. Daar is interessante briewe uit die antieke tyd waarin die pa sê as dit ʼn dogter is, moet die ma die baba weggooi, maar as dit ʼn seun is, moet sy hom hou. Sulke babas wat weggegooi is, was ʼn belangrike bron van slawerny, want die persoon wat so ʼn baba opgetel het, kon die baba as slaaf grootmaak.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




ʼn Christen en pornografie

ʼn Christen en pornografie – Dirk Venter

ʼn Leser vra die volgende vraag: “Waar staan Christenskap en pornografiese materiaal met mekaar? Is ek as Christen verkeerd om daarna te kyk?”

Antwoord:

Ds. Dirk Venter antwoord:

Daar hoef by ons geen twyfel te bestaan daaroor dat God ʼn afkeur het aan pornografie nie. Die woord “pornografie” is afgelei vanuit twee Griekse woorde: “porneia”, wat verband hou met seksuele immoraliteit, en “grafo” wat te doen het met iets wat op skrif gestel word. Gewoonlik gaan “grafo” oor iets wat geskryf is, maar dit kan ook na sketse of prente verwys. Die woord porneia, en ander Griekse woorde wat daarvan afgelei is of daarmee verband hou, word meer as veertig keer in die Nuwe Testament gebruik (om nie eers die ander moontlike Griekse sinonieme daarvoor te noem nie), en telkens baie sterk afgekeur. Trouens, “porneia” (seksuele immoraliteit) kom dikwels voor in die lyste van algemene sondes wat vroeër deel van hul lewens was, maar waarmee die Christene nou gebreek het. Hoewel pornografie nie in sy moderne vorme in die antieke tyd voorgekom het nie, kan ons dit met reg beskou as maar net ʼn hedendaagse vertakking van ʼn baie ou lyn van die mens se sondige natuur – dié van seksuele immoraliteit.  Daarom is “pornografie” as beskrywing eintlik baie gepas: seksuele immoraliteit [porneia] op skrif [grafo] (en deesdae natuurlik ook op die skerm).

 

Om maar net enkele voorbeelde uit te lig van God se afkeur aan porneia:

Julle moet niks met seksuele losbandigheid [porneia] te doen hê nie. Elke ander sonde wat ‘n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam“. (1 Korintiërs 6:18)

Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug [porneia], onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie“. (Efesiërs 5:3)

Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid [porneia]. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (1 Tessalonisense 4:3-8)

 

ʼn Mens sou seker kon redeneer dat die meeste van hierdie verwysings gaan oor seksuele dade wat saam met ʼn ander persoon gedoen word, terwyl mans meestal alleen na pornografie kyk. Iemand sou selfs kon vra “as dit niks meer is as kyk nie, is dit seker nie so erg nie?” Sulke selfregverdigende redenasies mis egter die punt. Jesus sê duidelik in Matteus 5:28 “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” Is dit nie presies waaroor pornografie gaan nie?

God het die seksuele gemaak en vir die mens gegee as iets moois, heiligs, eerbaars, iets wat goed is en geniet kan word wanneer dit op die regte tyd en in die regte ruimte geskied, volgens die plan wat God van die begin af daarmee gehad het.  Daardie plan was dat dit ʼn uitdrukking sal wees van die intimiteit wat bestaan tussen ʼn man en vrou wat ʼn ewige verbintenis (“commitment”) met mekaar gesluit het. Waar die seksuele in hierdie ruimte geniet word, en huweliksmaats mekaar dien (motief van diens), ook met hulle liggame, is dit lewe-gewend en kosbaar. Waar iemand die seksuele egter gebruik as ʼn weg tot self-bevrediging (motief van selfsug), word God se doel daarmee heeltemal gemis. Dan word iets wat mooi is eintlik misbruik, en loop dit uit op allerlei hartseer vir die een wat daardeur verstrik word én vir die mense die heel naaste aan hom.

Wanneer God sy kinders dus waarsku om van alle vorme van seksuele immoraliteit af weg te bly, is dit nie om hulle ʼn wet op te lê wat swaar is om te hou, of om hul pret te bederf nie. Dit is wel omdat Hy weet watter vernietigende gevolge dit het wanneer hierdie diep dimensie van menswees misbruik word, maar ook hoe pragtig dit is wanneer die seksuele op die regte tyd en in die gepaste ruimte (die huwelik) geniet word! God wil vir jou die beste hê. Moet dus nie toelaat dat jy gevang word in die strik van ʼn bederfde, minderwaardige namaaksel nie.

 

Outeur: Ds Dirk Venter