Hoekom is Jesus nie na sy opstanding herken nie?

Hoekom is Jesus nie na sy opstanding herken nie? – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoekom het niemand Jesus herken nadat Hy opgestaan het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hier word waarskynlik onder andere verwys na die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24:13 en verder, waar die volgelinge van Jesus hom aanvanklik nie herken nie. Laat ons eers by die ander punt begin. Daar is baie verhale in die Bybel waar Jesus dadelik herken is. Lees maar Johannes 20 waar daar vertel word hoe Jesus aan die dissipels verskyn en hulle hom dadelik herken. Tomas twyfel glad nie dat dit die Here is as hy Hom sien nie. In Lukas 24:13vv word Jesus aanvanklik nie herken nie, hoewel ‘n paar verse verder (Luk 24:36vv) Hy aan meer van sy dissipels verskyn en hulle herken hom dadelik, hoewel hulle dink dit is ‘n gees – hulle het nie besef Jesus het opgestaan nie. As ons oor Jesus na sy opstanding praat, moet ons een ding onthou: Jesus het nie meer sy gewone menslike liggaam nie – Hy het opgestaan met ‘n verheerlikte liggaam. Daarom kon Hy deur deure loop (Johannes 20:19) en onverwags aan mense verskyn. Tog het sy liggaam ook nog die gewone kwaliteite van ‘n mens gehad, want Hy kon eet en ander mense kon nog aan Hom vat. Dus: sy verheerlikte liggaam was wel nog ‘n liggaam met die kwaliteite van ons liggaam, maar dit was ook anders, soos die buitengewone dinge wat Jesus gedoen het wys. Wat die manne van Emmaus betref wat Hom nie herken het nie – die teks sê dat God hulle vir ‘n tyd weerhou het om Jesus te herken (Luk 24:16).

 

Outeur: Prof Jan Van der Watt




Adam en Eva

Adam en Eva – Marius Nel

ʼn Leser vra:

Ek wil net graag weet: Eva het vir Adam mislei met die appel. Nou hoor ek dat daar nie fisies ‘n boom was nie, maar dat hulle gemeenskap gehad het. Ons moet die wyer prentjie sien, maar ek glo nie dit nie. Wil net weet voordat ek hulle konfronteer.

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Wanneer ʼn mens besluit watter dele van die Bybel vir jou stories is en watter letterlik geïnterpreteer moet word, loop jy op dun ys, want dan besluit jy arbitrêr oor God se Woord.

Daar is geen aanduiding in die verhaal self dat dit oor seksualiteit gaan nie. Dit gaan oor die oorsprong van sonde, wat duidelik is: ongehoorsaamheid aan God.

Lees dus die verhaal soos dit daar staan, en laat ander maar hulle opinies oor die Bybel vir hulleself hou.

Outeur: Dr Marius Nel

 




Aborsie: Etiese argumente vir en teen aborsie

 

Aborsie is moreel verkeerd

Aborsie is moreel geregverdig

  • Om onskuldige mense (soos ʼn fetus) dood te maak, is verkeerd/sonde/moord.
  • Die fetus is ʼn unieke persoon met ʼn unieke genetiese kode en mag dus nie doodgemaak word nie.
  • Potensiële lewe mag nie doodgemaak word nie – die fetus is vanaf bevrugting ʼn potensiële lewe.
  • Ek mag nie mense (soos ʼn fetus) met ʼn toekoms soortgelyk aan myne, doodmaak nie
  • Jy mag nie onnodig pyn veroorsaak nie. Die fetus kan reeds op ten minste 18 weke pyn voel.
  • Die toenemende verdraagsaamheid teenoor die doodmaak van mense, verminder mense se respek vir lewe.
  • Om onskuldige mense dood te maak, is nie altyd verkeerd nie. Voorbeeld: In gevalle van ʼn Siamese tweeling offer geneeshere dikwels die een baba op sodat die ander kan oorleef.
  • Die fetus is nie ʼn persoon met die reg om te lewe nie. Hierdie reg word eers by geboorte verkry
  • Potensiële lewe/mense het nog geen regte nie.
  • Die regte van die baba word oorbeklemtoon terwyl die regte van die swanger vrou totaal geïgnoreer word:

o   Die reg om oor haar eie toekoms te besluit.

o   Die reg om besluite te neem sonder enige morele of wetlike ingryping van ander.

Die kernverskil tussen die twee groepe is:

(a)    Die status van die fetus. Is die fetus ʼn volwaardige persoon met sekere regte of is die fetus slegs ʼn potensiële persoon sonder enige regte?

(b)   Die regte van die vrou teenoor die regte van die fetus. Weeg die regte van die vrou swaarder as die regte van die fetus? Kanselleer haar regte enige moontlike regte wat die fetus mag hê, uit?

;Die probleem is dat hierdie ʼn emosionele debat is en dat die twee kante nie na mekaar luister nie. Daarom is dit belangrik om te hoor wat die verskillende godsdienste oor aborsie te sê het. Dit gaan ons in die volgende artikel bespreek.

 

Outeur: Dr Coen Slabber




Blaas van die basuin in die kerk

Blaas van die basuin in die kerk – Marius Nel

ʼn Leser vra:

Wat sê die Bybel van die blaas van die basuin in die kerk?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Die basuin is in Ou Testamentiese tye geblaas om die volk vir oorlog op te roep en om die Jubeljaar (elke 50ste jaar) aan te kondig. In die tempel het die basuin ook by feesgeleenthede gedien om aan te dui wanneer die belangrike offer gebring is sodat die volk, wat in die onderskeie voorhowe staan, sou weet wanneer om dankie te sê vir vergifnis. Geen voorbeelde bestaan, na my wete, wat aantoon dat die basuin in die vroeë Christelike kerk enige rol gespeel het. Ons weet dat die basuin nie in die sinagogediens enige rol vervul het nie en die vroeë Christene se erediens is hierop gebaseer. Die moderne gebruik daarvan in die kerk is ʼn teruggrype na die Ou Testament.

 

Outeur: Dr Marius Nel