1 Korintiërs (7)

1 Korintiërs (7) – Francois Malan

 

11:2-14: 40 Misbruike van die Christelike vryheid in die erediens

1 Vroue misbruik hulle vryheid in Christus met hulle haardrag in die erediens (11:2-16)       

Teen die vroue wat die onderskeid tussen vroue en mans misken met hulle hare se drag en bedekking, wys Paulus op die algemene gebruik in Korinte, wat dié miskenning as ʼn skande beskou. Omdat die vrou uit die man se ribbebeen gemaak is as sy gelyke om hom te help, moet sy nie haar vryheid in Christus misbruik, asof gelowiges onsydige engele is, deur die andersheid van ʼn man en ʼn vrou op te hef nie. Die algemene opvatting in die Grieks-Romeinse wêreld was dat lang hare ʼn vrou se trots is, en in die gemeentes van destyds was dit fatsoenlik dat vroue in die erediens iets op hulle koppe gedra het. Voor God en die engele moet die vroue se haardrag en die bedekking daarvan wanneer hulle in die erediens bid of preek nie ʼn struikelblok in die gemeente wees nie.

 

2 Die ryk lidmate misbruik die nagmaal (11:17-34)

Die gemeente kom bymekaar in die huis van ʼn ryk lidmaat wat met sy mede-rykes in die kleiner eetkamer die kos eet wat hulle gebring het, en die res van die gemeente wat in die groter leefkamer sit en oorwegend slawe is, kry min of niks van dié kos nie. So word die gemeente verdeeld, die armes verneder, en teen die offer van die Here Jesus gesondig. Met die breek van die brood het Hy sy liggaam ‘vir julle’ toegesê, en met die beker die nuwe verbond wat die deelnemers as ʼn gemeenskap saamsluit, wat sy offer vir almal se sonde met hulle gemeenskaplike nagmaal verkondig totdat Hy kom. Siektes en sterftes is  God se tugtiging oor hulle miskenning van die betekenis van die nagmaal en van die eenheid van die kerk as liggaam van Christus, deur hulle onderlinge geskeidenheid. Daarom moet hulle vir mekaar wag, en saam die nagmaal te vier in die teenwoordigheid van die Here wat oordeel of dit pas by sy offer aan die kruis, sodat hulle nie saam met die wêreld veroordeel word nie.

 

3 Paulus verskil van die Korintiërs oor wat geestelik is (12:1-14:40)

12:1-31 Die gawes van die Gees

Toe die Korintiërs nog heidene was, was hulle gewoond om by hulle stom afgode in geestesverrukking te raak en deur die duiwels uitsprake te maak, selfs teen Jesus. Uit die agtergrond slaan die Korintiërs die spreek in tale so hoog aan, dat dit vir hulle die eintlike bewys is van ware geestelikheid. Vir Paulus is slegs dié mense deur die Gees van die lewende God deurdrenk wat lewe onder die gekruisigde Jesus as hulle Here, Hy wat opgewek is om oor die heelal te regeer. Die Heilige Gees ken aan elke gelowige spesifieke gawes toe soos Hy wil, om mekaar daarmee in liefde op te bou en te versorg as die een liggaam van Christus. Die een Gees deel ʼn verskeidenheid gawes mee om die een Here op verskeie maniere te dien, en dit is die een God wat die bekwaamheid aan elkeen vir sy/haar spesifieke taak gee om mekaar op te bou. Ons kan nie sonder mekaar lewe nie.

13:1-13 Liefde is die maatstaf vir ware geestelikheid

‘Geestelike’ lewe is nie om nou reeds soos engele te praat of met hoër kennis of wonderdade te spog nie, maar om mekaar in liefde te dien met die spesifieke gawes wat elkeen daarvoor ontvang het. Sonder liefde vir mekaar is spreek in tale soos die heidense lawaai voor ʼn afgod; is ek tot geen nut vir die gemeente, selfs met profesie, insig in geheime, en alle kennis en geloof; bereik ek niks deur my besittings uit te deel of myself op te offer nie. Hoe die vrug en werking van die liefde van Christus in die gelowige uitwerk om hom/haar in diens van ander toe te rus word in 15 kenmerke beskryf (4-7), en afgesluit met die grootheid en onverganklikheid van die liefde teenoor die verbygaande gawes (8-13). Liefde staan teenoor alle vorms van geestelike selfsugtigheid, soos ook deur die Korintiërs geopenbaar word.

14:1-40 Profesie teenoor spreek in tale

Die erediens vereis verstaanbare taal om gelowiges en buitestaanders op te bou, en orde om elkeen ʼn geleentheid te gee om deel te neem. Spreek in tale sonder uitleg, is onverstaanbaar, en bou nie die gemeente op nie, maar net die spreker self. Daarom moet die mense wat sonder uitleg daarvan in tale spreek in die gemeente swyg en alleen met hulleself en met God praat. Soos die profete van die Ou Testament wens Paulus dat alle gelowiges profete word, wat met ʼn boodskap van God die gemeente in liefde opbou deur hulle te vermaan en te troos.

 

Outeur: Dr Francois Malan




Jona en die vis

Jona en die vis – Marius Nel

Dolf Dreyer vra:

Ek wil net graag die volgende weet: “Jona en die vis”, is dit feit of fiksie? Moet die leser dit as ‘n tipe gelykenis beskou of moet dit gesien word dat God selfs die natuur gebruik om Sy plan tot uitvoering te bring?

Antwoord – Dr Marius Nel

Jona is die enigste profeteboek wat die genre van vertelling voluit benut. Dit lyk of dit gewortel kan wees in 2 Kon 14: 25Jerobeam II het die gebiede van Israel tussen Lebo-Hamat en die see in die Jordaanvallei herower. Dit was net soos die Here, die God van Israel, deur die profeet Jona seun van Amittai uit Gat-Gefer gesê het.

Ons beskryf dit as ‘n profetiese boek omdat die hoofkarakter met ‘n boodskap van JHWH gestuur word. Lidmate aanvaar dat die verhaal handel oor ‘n profeet wat deur JHWH geroep word maar weier om aan die opdrag en roeping gehoor te gee omdat die boodskap gerig is aan die adres van dié profeet se volk se vyande. En alhoewel die boodskap een van oordeel en gerig is, wil Jona nie gaan nie. 1: 2“Maak klaar en gaan na die groot stad Nineve toe! Praat ernstig met hulle, want Ek het hulle slegte lewenswyse raakgesien.” Die einde van die boek bevat sy rede: 4: Hierdie verandering het Jona ontstel. Hy het baie kwaad geword. 2Hy het by die Here daaroor gekla: “Het ek nie voor ek by die huis weg is, gesê dit is wat U sou doen nie, Here? Dit is die rede hoekom ek na Tarsis gevlug het! Ek het geweet U is ‘n genadige God, ‘n God van medelye. U word stadig kwaad en is liefdevol en getrou. Ek het geweet U kry maklik berou en dat U van plan sou verander en hulle nie straf nie. 3Here, vat nou maar my lewe! Ek wil liewer dood wees as om te lewe.”

Ek het U as ‘n genadige God leer ken en ek is bevrees dat U ook genade aan die inwoners van Nineve gaan bewys!

Om te aanvaar dat die boek ‘n historiese vertelling is, stel vrae aan die gelowige: is dit moontlik om vir drie dae in ‘n vis se maag te oorleef? En kan die vis jou dan uitspoeg en jy normaal funksioneer?

Kritiese navorsing het lankal aanvaar die boek is nie histories begrond nie en is nie bedoel om histories gelees te word nie. Dit is eerder ‘n kunstige verhaal om ‘n teologiese boodskap aan die volk (Juda) oor te dra en daarom moet die vertelling in eie terme geïnterpreteer word.

 

Die boek stel twee belangrike vrae:

  • Wat is die identiteit en betekenis van die groot vis? – 1: 17Toe stuur die Here ‘n groot vis om Jona in te sluk. Jona was vir drie dae en drie nagte in die vis. Dit hoef nie allegories verklaar te word as Israel wat in ballingskap gaan nie, soos Joose rabbi’s vir baie lank doen. Die vis is eerder ‘n instrument wat Jona aan wanorde en chaos blootstel as vrug van sy ongehoorsaamheid;
  • Is die psalm in 2:2-9 van die begin af deel van die boek of is dit agterna bygevoeg? Die boek bestaan in oorgelewerde manuskripte sonder die psalm maar tog is die psalm baie goed ingewerk sodat dit heel funksioneel in die konteks voorkom, en die psalm speel ook ‘n kernbelangrike rol om die teologiese doel van die boek te dien. 2: “In my groot nood het ek die Here aangeroep en Hy het my geantwoord. Ek het uit die doderyk geroep en U het my gehoor! 3In die diepte van die oseaan het U my gegooi. Ek het tot in die hart van die see gesink. Strome het rondom my gekolk. U het golf na golf oor my laat spoel. 4Ek het gesê: ‘Uit u teenwoordigheid het U my verdryf. Hoe sal ek ooit weer u heilige tempel sien?’5“Water het my verswelg, die diepwaters het my omring. Seegras was om my kop gedraai. 6Ek het afgesak tot waar die berge begin. Ek was afgesluit van die lewe, vasgevang in die land van die dooies. Maar U, Here my God, het my gered uit die oop kake van die dood! 7“Toe ek alle hoop verloor het, het ek weer aan die Here gedink. In u heilige tempel het U my gebed gehoor. 8Wie vals gode aanbid, minag God se goedheid. 9Ek sal met lofliedere vir U ‘n offer bring. Ek sal doen wat ek beloof het. Net die Here bring verlossing!”

 

In die Semitiese mitologie het dit drie dae en drie nagte geneem om na die onderwêreld van die dood te reis. Volgens dié opvatting moes Jona, ná drie dae en nagte in die maag van die vis, reeds dood gewees het. Maar hy is nog springlewendig en bid die mooiste gebed in die vis se maag.

Die rol wat God se beskikking in die boek stuur, is opvallend. Hy bestuur alle sake.

Hierteenoor staan die rol wat Jona speel. Hy tree direk téén God se bevele op. In 1:2 gee God die bevel dat Jona moet opgaan na Nineve. Jona reageer deur af te gaan na Joppe met die doel om na Tarsis te vlug, weg van JHWH af, in presies die teenoorgestelde rigting as Nineve (meeste vertalings laat dié teenspraak ongelukkig uit). Nineve lê aan die oostelike uithoek van die bekende wêreld, Taris aan die westelike uithoek. Jona gaan af na Joppe, maar dis nie genoeg nie. Hy gaan ook na die maag van die skip. Ook nie genoeg nie, gaan hy af na die dieptes van die see, en na die maag van ‘n vis, en so tot in die maag van die onderwêreld, waar die fondasies van die aarde gegrond is. 2: Ek het uit die doderyk geroep en U het my gehoor! 3In die diepte van die oseaan het U my gegooi. Ek het tot in die hart van die see gesink. Strome het rondom my gekolk. U het golf na golf oor my laat spoel.

Die vraag in 4: 4Die Here het geantwoord: “Is dit reg van jou om hieroor kwaad te wees?” is bedoel om Jona/luisteraars tot die insig te bring dat JHWH se genade nie tot Israel beperk is nie. Wanneer Jona buite onder die skerm gaan sit, is dit met die doel dat hy kan sien wanneer JHWH die stad vernietig sodat hy hom daarin kan verlekker. Want Nineve is Assirië, die vyand wat die Noordryk of Israel vernietig het!

Hierteenoor staan JHWH wat wil sien dat Nineve hom bekeer sodat Hy die stad en sy mense (en diere!) kan red – 4: 10Toe sê die Here: “Jy is ontsteld oor die plant en dit terwyl jy niks gedoen het om die plant te versorg of te laat groei nie. Die plant het oornag opgekom en is weer oornag vernietig. 11Nineve het meer as 120 000 mense wat nie weet wat reg of verkeerd is nie en ook baie diere. Sal Ek dan nie medelye hê oor die groot stad Nineve nie?”

Nineve is die vir Israeliet simbool van die gehate Assiriese wêreldmoondheid wat Israel se einde beteken, en word simbool vir alle nasies wat Israel skade aanrig en wil vernietig. Vgl ook Nahum se haatlied teen Nineve. Die Assiriërs was vanaf 883 vC. die magtigste wêreldmoondheid en hulle verwoes Samaria in 722 vC.  Nineve lê aan die wesoewer van die Tigrisrivier, ongeveer 670 km noordoos van Israel geleë. Dit was vroeg reeds ‘n Assiriese koninklike stad, maar word eers onder Sanherib (705-681 vC.) die hoofstad van die ryk. Die biblioteek in die stad maak die stad wêreldbekend. Die Mediërs en hulle bondgenote verwoes die stad in 612 vC.

In dié verhaal speel Nineve die rol van die baie groot stad wat teenoor JHWH en sy volk staan. Die stad is baie groot – 3: 3Jona het gereedgemaak en na Nineve toe gegaan soos die Here hom beveel het. Nineve was so groot dat dit drie dae vat om alles te sien.

Jona dien as ‘n gelykenis om Jona/Israel as ontvanger van JHWH se genade te ontmasker as dat dit selfsugtig is en genade vir ander volke wil ontsê.

Baie navorsers lees Jona in die lig van Esra en Nehemia se verbod op gemengde huwelike en hulle vyandigheid teen enigiets wat nie-Joods is nie: Esra 9: Toe het die leiers na my toe gekom en gesê: “Baie van die mense van die land, selfs ook van die priesters en die Leviete, het hulle nie van die ander volke in die land afgesonder nie. Hulle het van die afstootlike praktyke van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en die Amoriete begin beoefen. 2Van die mans en hulle seuns het met van die vroue van die land getrou. Deur dit te doen, het hulle die heilige volk van God met die bevolking van die land vermeng. Om die kroon te span, was die amptenare en die leiers die eerstes om dit te doen; Neh 13: 23Min of meer in dieselfde tyd het ek besef dat sommige Judese mans met vroue uit Asdod, Ammon en Moab getroud was. 24Van hierdie mense se kinders kon omtrent die helfte nie die taal van Juda praat nie. Hulle het net die taal van Asdod of een van die ander tale van die omgewing gepraat. 25Ek het hulle aangespreek en hulle vervloek. Party van hulle het ek berispe, hulle vervloek, sommige geslaan en ander se hare uitgetrek. Ek het hulle ‘n belofte voor God laat aflê dat hulle nie sou toelaat dat hulle kinders met die heidense mense van die land ondertrou nie. 26“Was dit nie presies die rede hoekom koning Salomo in sonde beland het nie?” het ek gevra. “Daar was geen koning van enige nasie wat met hom vergelyk kan word nie. God het hom liefgehad en het hom koning oor die hele Israel gemaak. Die waarheid is dat dit sy heidense vroue was wat veroorsaak het dat hy sondig. 27Hoe kan julle ooit daaraan dink om so ‘n sonde te doen deur met heidense vroue te trou en so aan God ontrou te wees?” 28Selfs die hoëpriester Eljasib se seun Jojada was met die dogter van Sanballat, die Goroniet, getroud. Ek het hom voor my weggejaag.

Die boek handel oor xenofobie. Dit probeer om JHWH se karakter te reduseer om binne ons verwagtinge in te pas, sodat mense wat nie soos ons is nie, uitgesluit kan word van sy genade wat slegs tot ons beperk is.

Lees gerus die verhaal vir die kunstige vertelling wat daarin vervat is – dit word puik vertel!

In die NT tyd was daar verhale bekend as Vitae Prophetarum in omloop wat verhale oor verskeie profete bevat het, ook oor Jona. Wanneer die NT na die teken van Jona verwys, dui dit op ‘n teken in dié verhale wat na die eindtyd verwys. So gebruik Jesus dit dan ook in Markus 8:12 en Lukas 11:29-31, as teken van die eindtyd. Matteus 12:38-42 noem spesifiek dat dit op die verhaal van Jona betrekking het. Matt 12: 38Daarop het sommige van die skrifkenners en Fariseërs Hom geantwoord: “Leermeester, ons wil graag ‘n wonderteken van U sien om te bewys dat U van God af kom.” 39Jesus het egter geantwoord: “Dit is net slegte en goddelose mense soos julle wat ‘n wonderteken as bewys wil hê. Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona. 40Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees. 41Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie. 42Die koningin van Skeba sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van ‘n baie ver land gekom om na die wysheid van Salomo te kom luister. Iemand baie belangriker as Salomo is nou hier by julle; tog weier julle om na Hom te luister! Lukas 11: 29Terwyl die skare om Jesus saamdrom, het Hy gesê: “Dit is bose tye hierdie, en hierdie bose geslag hou aan om van My ‘n wonderteken te vra. Maar die enigste teken wat Ek hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona. 30Wat met hom gebeur het, was ‘n teken vir die mense van Nineve dat God hom gestuur het. Wat met My gebeur, sal ‘n teken wees dat God My, die Seun van die Mens, na hierdie mense gestuur het. 31“Die koningin van Skeba sal in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want sy het van ‘n ver land gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En nou is Iemand groter as Salomo hier – en julle weier om na Hom te luister. 32Die mense van Nineve sal ook in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want hulle het tot inkeer gekom deur die prediking van Jona. En nou is Iemand groter as Jona hier – en julle weier om tot inkeer te kom.”

Outeur: Dr Marius Nel

 




1 Korintiërs (6)

1 Korintiërs (6) – Francois Malan

 

Trots op hulle kennis, verwerp sommige leiers Paulus se gesag en sy opdrag om nie om te gaan met afgodedienaars nie (8:1-11:1; vgl. 5:10-11). Dit gaan oor hulle gebruik van vleis wat aan die afgode geoffer is in heidense tempels tydens heidense feeste (8:1-10:22), en wat op die vleismark verkoop en in private wonings geëet word (10:23-11:1).

8:1-13 Christelike optrede is gebou op liefde, nie op kennis nie

Gelowiges weet dat die baie sogenaamde gode en here nie bestaan nie, want vir ons is daar maar een God, die Vader, die Skepper van alle dinge, wat ons as sy kinders aangeneem het om vir Hom te lewe en sy wil te doen; en daar is maar een Here wat oor ons regeer, Jesus Christus, deur wie God alles geskape het en ons kinders van God maak. Omdat hulle weet dat ʼn afgod niks is nie, en kos nie jou verhouding met God affekteer nie, is die gemeentelede trots op hulle kennis, vier fees saam met hulle heidense vriende en familie in die tempels van die afgode, en eet hulle ook vleis wat aan die afgode geoffer is. Omdat God ons liefhet word Christelike optrede nie deur kennis bepaal nie, maar deur liefde, wat nie mede-lidmate wat nog swakker in die geloof is, laat struikel nie. As die ‘swakkes’ sien dat die ‘sterkes’ afgodsoffers in die afgodstempel eet, word hulle verlei om dit ook te doen, en loop daarna met ʼn skuldige gewete voor God. Om ʼn ‘swakke’ te laat struikel is sonde teen ʼn medegelowige en teen Christus. Kennis maak hoogmoedig teenoor die ‘swakkes’. Liefde bou die ‘swakke’ op, lei hom nie in versoeking deur jou optrede nie.

 

9:1-27 Paulus verdedig sy optrede as apostel

Die ‘sterk’ lidmate betwyfel Paulus se gesag en vryheid as apostel, omdat hy nie van hulle geldelike ondersteuning gevra het nie, en slaghuis-vleis wat aan afgode geoffer is saam met hulle geëet het.

Volgens Christus se bepaling het dié wat die evangelie verkondig die volste reg op onderhoud soos deur die gemeente. Paulus het egter van sy reg afstand gedoen en die evangelie kosteloos aan die Korintiërs gebring om geen struikelblok vir hulle bekering te wees nie. Hy het ook saam met hulle geëet volgens Christus se liefdeswet, om soveel mense as moontlik vir Christus te wen, maar wanneer dit vir ʼn swakke ʼn struikelblok word, sit hy nie sy mond aan vleis nie, om geen hindernis in die pad van die evangelie deur die wêreld te wees nie. So is hy vir die gelowiges ʼn voorbeeld hoe om uit liefde op te tree, en nie uit kennis nie. Sy roem en sy loon is juis dat hy van sy regte afstand doen. Die evangelie maak vry om ander te dien.

Die evangelie maak jou egter ook vry van jouself. Soos atlete oefen Paulus hom in selfbeheer, om volgens die liefdesreël te lewe. Teenoor die ‘sterkes’, wat hulle vryheid ten koste van die ‘swakkes’ uitlewe, stel Paulus die voorbeeld, deur sy vryheid op eie koste uit te leef en vry te bly om vir ander te lewe en nie vir homself nie.

 

10:1-22 Deelname aan die etes in die afgodstempel is afgodediens

Met voorbeelde uit Israel se woestynreis na Kanaän waarsku Paulus die Korintiërs teen God se straf as hulle volhou om Christus se genade te beproef deur offermaaltye by die afgode by te woon. Hulle meen dat hulle doop en deelname aan die nagmaal hulle beskerm. Die Jode het egter in sonde geval en hulle lyke het orals in die woestyn bly lê, ten spyte daarvan dat hulle deur die water van die Rietsee gegaan het en daagliks manna van God ontvang het. Hulle het God nie behaag met hulle onsedelikheid en afgodery voor die goue bulkalf by Sinai, later by die afgod Baäl-Peor, en toe hulle teen God en Moses uitgevaar het oor hulle kos nie.

ʼn Afgod is niks, en vleis wat aan ʼn afgod geoffer is niks, maar offers aan afgode is werklik offers aan die duiwels. Die nagmaal is deelname aan die offer van Christus. As Nagmaalgangers ook aan die tafels van die duiwels gaan aansit, soek hulle die toorn van die Here wat Israel se afgodediens nie verdra het nie. Vlug vir afgodsdiens. Dit is in wese diens aan die duiwels.

 

10:23-11:1 Vleis wat op die mark verkoop word

ʼn Christen is vry om vleis te eet wat in die slaghuis verkoop word, want alles behoort aan die Here. Maar as jy by ʼn ongelowige aan huis eet en iemand wys jou daarop dat die vleis aan die afgode geoffer is, los jy die vleis ter wille van die persoon se gewete. Doen alles tot eer van God, sonder om vir iemand ʼn struikelblok te wees, soos Paulus vir Christus navolg. (10:24-11:1).

Outeur: Dr Francois Malan




1 Korintiërs (5)

1 Korintiërs (5) – Francois Malan

 

Die huwelik en die ongehude staat (hoofstuk 7)

In die eerste gedeelte van die brief het Paulus gereageer op berigte oor verkeerdhede in die gemeente (1:10-6:21). In die tweede gedeelte (7:1-16:12) reageer hy op hulle brief met kritiek teen sy waarskuwings in sy vorige brief.

Uit hulle Griekse minagting van die liggaamlike het die Korintiese ‘geestelikes’ se opvatting oor geestelikheid gelei tot ʼn valse siening van vryheid om selfs met ʼn prostituut omgang te hê, want God gaan tog die liggaam vernietig (6:12-20). Die askete in die gemeente het weer gedink die liggaamlike benadeel hulle geestelike lewe, en om ‘geestelik’ te wees propageer party lidmate, veral vroue, of onthouding in die huwelik of egskeiding, en vir ongetroudes om ongetroud te bly (7:1-40). Hierop reageer Paulus met ʼn woord van die Here (7:10) en met sy mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is om as die Here se apostel/gesant die Here se woord oor te dra (7:25) en dink dat hy ook die Gees van God het wat sy mening vorm (7:40).

 

7:1-9 Geen onthouding in die huwelik nie

Paulus sê dat mans en vrouens, wat nie die gawe van onthouding ontvang het nie, kan nie in die huwelik met hulle eie liggame maak wat hulle wil nie, maar die man is uitsluitlik op sy vrou, en die vrou op haar man se liggaam vir seksuele gemeenskap aangewys, en hulle kan, slegs by uitsondering, met wedersydse toestemming, vir ʼn kort tydjie, daarsonder bly vir toewyding aan gebed. Wewenaars en weduwees kan ongetroud bly, maar vir almal wat nie die gawe van onthouding ontvang het nie, beveel hy ook aan dat hulle trou.

 

7:10-16 Geen egskeiding vir getroudes nie

Vir die getroudes gee hy die opdrag van die Here self, dat ʼn vrou nie van haar man moet skei nie. As sy van hom geskei het, moet sy ongetroud bly, of met hom versoen. Die huwelik bly ʼn permanente verbintenis selfs na egskeiding. ʼn Man mag ook nie van sy vrou skei nie (vgl. Markus 10:11-12).

Kinders uit ʼn huwelik tussen ʼn gelowige en ʼn ongelowige is deur die gelowige aan God gewy, en so ook die ongelowige. Daarom moet die gelowige nie skei nie, maar probeer om die ongelowige tot geloof te lei. As die ongelowige egter wil skei, is die gelowige nie gebind om in die huwelik te bly nie.

 

7:17-24 Bly in die staat waarin die Here jou geroep het

Dat jy getroud of ongetroud, ʼn besnede Jood of onbesnede Griek, ʼn slaaf of ʼn vrygeborene was toe God jou geroep het, is nie vir God belangrik nie, maar wel dat jy in jou omstandigheid vir Hom lewe en sy wil gehoorsaam. As ʼn slaaf egter die geleentheid kry om vry te word, moet hy dit aangryp.

 

7:25-38 Die ongetroude staat is

Die verloofdes in die gemeente vra of dit sonde is om te trou. In die lig van die komende verdrukking en van onverdeelde aandag aan die dinge van die Here, meen Paulus dat dit goed is om ongetroud te bly, as hulle die gawe daartoe het. Maar as die jongman of jongmeisie nie die gawe van onthouding het nie en graag wil trou, is dit geen sonde nie. Hulle hoef hulle nie te bekommer of hulle moet trou of nie, maar wel oor hoe hulle in hierdie verbygaande wêreld vir God lewe, as getroudes of ongetroudes, in vreugde en rou, en ook met hulle besittings.

 

7:39-40 Die huwelik is ʼn lewenslange band

ʼn Vrou is aan haar man verbind totdat hy sterf. Na sy dood is sy egter vry om ongetroud te bly of te trou, maar net met ʼn gelowige.

 

Outeur: Dr Francois Malan