Seksualiteit

Seksualiteit – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

As Christene is dit ‘n sonde om “seks speelgoed” te gebruik. Net jy en jou man. Hierdie is ‘n vraag wat baie tussen ons vrouens opkom en eintlik weet nie een van ons of dit reg of verkeerd is nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is nie so ʼn maklike vraag om te antwoord nie, veral omdat daar soveel opinies die rondte doen. As Christene het ons ʼn tradisie deur die eeue van sterk opinies oor seks en seksualiteit. Vroeër was Christelike selfdissipline dikwels daaraan gemeet hoe jy jouself kon ‘beheer’ op seksuele gebied. Dit was dan die manier waarop mense kon bewys dat hulle genoeg gehoorsaamheid gehad het om God te dien. Daarom het jy mans en vroue gekry wat hulle van die huwelik en seksualiteit onttrek het. Ons weet egter uit die geskiedenis dat dit nie altyd moontlik was nie. Ons seksuele drange is so deel van ons soos wat behoefte aan kos is. Dit is iets waarmee ons daagliks te doen het. Nou onlangs het een van die belangrike Duitse professore verklaar dat hy te swak is om priester (ongetroud) te bly en het tot skok van vele die priesterskap gelos. Dit gebeur algemeen.

In die tweede plek het ons ʼn beperkte direkte beeld van seksualiteit. Seks word gesien as uitsluitlik om kinders te verwek. Daarom is daar in die Ou Testament selfs ʼn verbod op mans wat hulle saad buite seksuele gemeenskap stort. Lewe is met die saad verbind en as jy saad stort, mors jy lewe. In die geval sit ons vandag met die probleem dat ons dit  nie meer so sien nie. Ons weet die proses van verwekking is baie meer ingewikkeld. Niemand sal voel hy vermoor iemand as hy saad buite die vrou stort nie. Die etiese vraag is dus of dit dan nog verkeerd is. Die verbod was veral daarop gemik om nie lewe te beskadig nie – ons weet ons beskadig nie lewe as ons dit doen nie. Is dit dan nog verkeerd?

In die derde plek sit ons met ʼn situasie dat mense vandag dikwels eers trou as hulle by die 30 is. In die ou tyd was dit vir vroue as jy ongeveer 12 jaar oud was. Vroue is verbied om buite hulle huwelik seks te hê, en die verbod was veral daarop gemik om die stam/familie suiwer te hou. Daar is geglo dat die karaktertrekke van ʼn familie deur die saad van die man oorgedra word. As daar nou ʼn man van ʼn ander familie of stam sy saad in die vrou stort, beteken dit dat die karaktertrekke van jou familie of stam verander. Dit mag nie. Daarom is die vroue op alle moontlike maniere teen ander mans ‘beskerm’ (Kyk maar hoe die vrouens met die klere toegemaak is. Jy kon dikwels net hulle gesigte of oë sien; Hulle is ook gedwing om meestal tuis te bly en nie in die openbaar rond te hang nie). Omdat die vroue jonk getrou het, is hulle seksuele behoeftes dus van vroeg af bevredig. Vandag is dit natuurlik nie meer so nie.

Etici (mense wat nadink oor wat reg of verkeerd is), vergelyk nou ons situasie met die situasie van die Bybel. Daar is belangrike verskille. Daar is sommige wat argumenteer dat ons maar moet bly by onthouding en niks vreemds doen nie. Hulle argumenteer dat reinheid ook op seksuele gebied beoefen moet word en dat ʼn mens dan jouself in die verband moet dissiplineer. Ander argumenteer wyer. Hulle vertrek van die standpunt dat jy niemand seermaak as jy byvoorbeeld jou seksuele behoeftes bevredig deur masturbasie nie. Die basiese belangrike vereistes van die Christendom gaan om die liefde en die  bewaring van lewe. As ek dus niemand skade aandoen nie, sou dit vir hulle beteken dat dit moeilik as verkeerd beskou kan word. (Ek gaan nie hier op die saak van [kinder]pornografie in nie. Die uitbuiting van mense, veral kinders, om pornografiese materiaal beskikbaar te stel, bly problematies. As mense egter nie uitgebuit word in die beskikbaarstelling daarvan nie, verander die argumente weer). Daar is dus argumente na beide kante toe.

Persoonlik dink ek dat ons seksualiteit nooit ʼn bedreiging vir onsself moet word nie. Die Here het dit vir ons gegee om te geniet, veral (ek dink selfs spesifiek) in die huwelik. Party mense sukkel om hulleself te beheer en masturbeer byvoorbeeld. Dan sit hulle met skuldige gewetens wat hulle hele lewe negatief beïnvloed. Dit hoef nie so te wees nie.

Nou ja, daar sal verskil van opinie bly bestaan. Jy sal altyd hoor dat verskillende mense jou verskillende raad gaan gee. Ek dink jy moet maar jou gewete in gebed volg in die lig van bogenoemde.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Prof Herrie van Rooy

Herrie (Herculaas Frederik) van Rooy is gebore in Kaapstad op 7 Augustus 1949 as die tweede seun van wyle dr en mev AJ van Rooy. Hy matrikuleer in 1967 aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria met 5 onderskeidings. Daarna studeer hy aan die P.U. vir C.H.O. en behaal die grade B.A. (1970, met hoofvakke Grieks, Latyn en Semitiese Tale), B.A. hons. (Semitiese Tale, 1972), M.A. (Semitiese Tale, 1974) en Th.B. (ook 1974, almal met lof) en die D.Litt (Semitiese Tale, 1977). Einde 1974 het hy ook die Kandidaatsertifikaat aan die Teologiese Skool Potchefstroom met lof verwerf.

In 1977 word hy predikant van die Gereformeerde Kerk Koster. Sedert 1980 was hy dus verbonde aan die P.U. vir C.H.O, tans die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Hy het einde 2014 afgetree.

Hy was lid van die bestuur van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Nabye Oosterse Studies van die stigting daarvan in 1988 tot 2000 en dien as voorsitter van 1997-2000. Hy het gedien as sekretaris van die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika van 1992-1998 en as voorsitter van 1998-2004. Hy is een van die vier lede van die redaksionele raad van Old Testament Studies, die publikasiereeks van die Nederlandse, Suid-Afrikaanse en Britse Ou-Testamentiese verenigings. Van 1994 tot 2001 was hy lid van die Tussenkerklike Psalmberymingskomitee wat verantwoordelik was vir die 2001-omdigting van die Psalms. Tans is hy lid van die Begeleidingskomitee van die Bybelgenootskap, wat die Nuwe Afrikaanse Bybelvertalingsprojek bestuur, asook van die redaksie vir die vertaling van die Ou Testament. Hy het die ds Pieter van Drimmelenmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang vir sy werk aan Bybelvertaling en Psalmberyming.

Hy is die skrywer van twee akademiese boeke en mede-redakteur van nog drie akademiese boeke. Verder is hy die skrywer van ongeveer 100 artikels in wetenskaplike tydskrifte, hoofstukke in akademiese boeke en gepubliseerde kongresreferate. Die twee boeke handel oor die Psalms in die ou Siriese vertaling van die Ou Testament. Sy Studies on the Syriac Apocryphal Psalms is in 1999 deur Oxford University Press in Brittanje gepubliseer en The East Syriac Psalm Headings: A Critical Edition deur Gorgias Press in die VSA in 2013. Hy hettalle voordragte gelewer by akademiese konferensies oorsee en by plaaslike akademiese konferensies.

In 2002 het hy ‘n C1-gradering van die Nasionale Navorsingstigting gekry en in 2007 was hy die eerste persoon uit die Geestes- en Sosiale Wetenskappe aan die NWU wat ‘n B-gradering (B2) van die NNS verwerf het. In 2012 het hy vir ‘n tweede keer ‘n B2-gradering verwerf.

Hy is in 1971 met Jacoba van der Walt getroud, wat in 2008 ‘n doktorsgraad in Himnologie verwerf het. Hulle het vyf getroude kinders en nege kleinkinders.




1 Korintiërs 3:10 – 15

1 Korintiërs 3:10 – 15 – Francois Malan

Fransie vra:

Wat beteken die verse in 1 Korintiërs 3:10-15. Gaan ons ‘n beloning van Jesus kry vir ons goeie dade en wat is die beloning? Goud, silwer ens.? Sekere mense sê ons gaan bv. Krone kry en dit sal versier wees volgens die goeie werke wat ons hier op aarde gedoen het.

[10Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, 11want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. 12Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, 13elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. 14As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; 15as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.]

Antwoord:

Dr Fancois Malan antwoord:

In die paragraaf is Paulus bekommerd oor die leiers in die gemeente van Korinte, wat afwyk van die evangelie van Christus wat vir ons gekruisig is, om met hulle menslike wysheid die evangelie te vervals, en waarsku dat hulle huidige werk nie die vuurtoets sal deurstaan nie. Na die beeld van die gemeente as die saailand van God (3:5-9a), gebruik hy die beeld van die gemeente as die gebou van God en die tempel van God (3:9b-17) met Jesus Christus as die fondament van die gebou, en die Gees as God wat in die tempel woon.

Verskillende soorte materiaal word deur verskillende vakmanne gebruik vir die opbou van die kerk. Die gehalte van die werk sal getoets word, of dit met dankbare liefdesdiens, soos Christus se offer is, of met menslike wysheid om vir myself roem te verwerf, wat in die vuurproef verbrand word. Laasgenoemde se werk gaan verlore, maar hulle word self nog deur God se genade gered. Die wat die tempel van God afbreek, sal deur God afgebreek word.

Reeds in 3:8 is sprake van ‘loon’ vir die getroue werk van die apostels volgens hulle onderskeie bydrae aan die oes. In 4:5 word gepraat van mense wat te gou ander beoordeel en word gesê, met die koms van die Here sal die bedoelings van die hart blootgelê word en elkeen sal dan van God die lof ontvang (wat hom toekom). In 9:24-27 word verwys na die onverwelklike kroon/lourierkrans/prys wat die gelowige ontvang, wat homself soos ʼn atleet oefen en allerlei dinge ontsê. So oefen Paulus sy liggaam en bring dit onder beheer sodat hy nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie. Maar die kroon is ʼn simbool van wat ons sal ontvang, nie ʼn letterlike kroon nie, iets wat baie beter sal wees.

Die vraag is, hoe kan gelowiges, wat uit God se onverdiende genade lewe, nog loon ontvang? Volgens Romeine 4:4-5 ontvang die gelowige loon uit genade, en nie as iets wat hy verdien het nie. Vir Paulus is ons nou reeds verlos deur Christus. Dit is God se gawe aan ons. Maar ons moet volhard in die geloof en die nuwe lewe saam met Christus, deur te sterwe aan ons self, en vir God te lewe (Romeine 6:4-11). Die volharding is ook ʼn gawe van God wat met sy Gees in ons kom woon. En op die oordeelsdag word ons deel van Christus se heerlikheid, wat ook ʼn gawe van God aan ons is. 1 Korintiërs 3 verseker ons dat daar ʼn finale oordeel is, met ʼn ‘beloning’ en ʼn ‘verlies’. Maar waaruit die loon sal bestaan, word nie hier of in ander tekste uitgespel nie.

Daar word duidelik uitgespel dat die werk wat met menslike wysheid op die fondament gebou is, verbrand sal word, maar dat die arbeider self gered sal word. Hoe dit sal geskied, word met ʼn metafoor, ʼn beeld uit Amos 4:11; Sagaria 3:2 verduidelik. Die mens wat met wêreldse wysheid aanhou bou, is in groot gevaar. Op die oordeelsdag sal hy wees ‘soos ʼn stuk brandhout wat uit die vuur geruk is’ – ternouernood gered, deur God se genade. [Die stylfiguur het geensins die betekenis van ʼn reinigende vuur, soos bv. deur Origines verklaar is nie].

Paulus waarsku met hierdie paragraaf dat daar gelowiges is wat probeer om die kerk te bou met menslike wysheid, wat teen die karakter van Christus of sy evangelie is. Maar  bouwerk wat pas by die aard van die fondament van die gebou, wat pas by die gekruisigde en opgestane Christus se selfverloëning en oorwinning oor die sonde, sal deel word van Christus se heerlikheid met sy koms. En die mense wat so meegewerk het aan die opbou van die kerk, sal hulle loon ontvang uit God se genade. Wat dit sal wees, bly God se verrassing (vgl. bv. Jesus se  gelykenisse van die 10 talente/goue muntstukke en 10 ponde/goue muntstukke wat groter verantwoordelikheid gaan beteken (Matt. 25:14-30; Luk.19:11-27). In 1 Korintiërs 6:2,3 praat Paulus daarvan dat die gelowiges oor die wêreld en die engele sal oordeel  (vgl. Matteus 19:28 vir die 12 dissipels wat op 12 trone sal sit; Lukas 22:30 se trone; Openbaring  3:21 om saam met Christus op sy troon te sit).

Ek veronderstel die idee van krone op die kop kom van Openbaring 4:4 se gesig van goue krone op die koppe van die 24 ouderlinge om die troon van God, wat hulle koningskap simboliseer. Vgl. 2 Timoteus 4:8 se oorwinnaarskroon (letterlik: kroon van geregtigheid wat God uit genade  gegee het deur Christus, en wat ons op die oordeelsdag ten volle gaan ontvang deur ons volharding) , Jakobus 1:12 se oorwinnaarsprys (letterlik: die kroon van die lewe, waar die kroon simbool is van die ewige lewe), 1 Petrus 5:4 die heerlikheid wat ons sal ontvang as onverganklike kroon, as simbool dat ons sal deel in die heerlikheid van ons Here. Al die gebruike van die woord kroon is figuurlike taal om die loon te verbeeld. Maar waaruit die loon of prys of kroon of krans sal bestaan, word nie uitgespel nie. Vir ons bly die versekering dat ons vir ewig by Christus en by God sal wees om hulle te dien, waar en hoe hulle ons wil gebruik. Daarom oefen ons nou reeds om hulle te gehoorsaam deur God en ons medemens lief te hê met ons hele hart en al ons kragte.

 

Outeur: Dr Francois Malan

 




Genesis 2 en 3

Genesis 2 en 3 – Marius Nel

Adri Swart vra:

Wat se Genesis 2 & 3 vir ons, vir vandag? Kan ons iets hieruit nog gebruik vandag? Is die “straf” wat God oor die mens en sy nageslag uitgespreek het, nog van toepassing na die verlossing van Jesus, solank as wat ons op aarde leef? Wat beteken die “straf” in hedendaagse taal, maw as ons daardie stuk in vandag se taalgebruik oor skryf, hoe sal dit lees? (gedeelte waar God vir Adams gesê het hul moet hard werk en Evas sal hunker na Adams en swaar kinders hê).

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Ek meen die verhaal in Genesis 2 en 3 is van toepassing ook op ons omdat dit vertel hoe die eerste mens ongehoorsaam aan God was en hoe ons steeds ongehoorsaam is, hoe God straf maar steeds tegelykertyd genadig is en kies om met ongehoorsame mense ʼn pad te loop. Die gevolge van sonde is ook nog met ons en sal met ons bly tot die aanbreek van die nuwe aarde. Intussen het God se genade nuwe kleure bygekry, met Jesus wat in ons plek sterf, maar solank ons op aarde leef, sal die vloek van sonde steeds met ons wees, soos uiteindelik gedemonstreer as die dood ons wegneem. God se genade is egter so groot dat hy selfs die straf gebruik om sy doel te bereik, soos wanneer hy die dood aan Hom diensbaar maak – om sy kinders te haal om by Hom te wees.

Outeur: Dr Marius Nel