Die funksie en boodskap van die danksegging in 1 Korintiërs 1:4-9

Die funksie en boodskap van die danksegging in 1 Korintiërs 1:4-9 – Francois Malan

Die danksegging is eintlik ʼn inleiding tot die temas in die brief. Paulus vertel vir die gemeente dat hy God altyd dank omdat Hy die gemeente uit genade geroep het, met al die genadegawes toegerus het, en tot die eindgerig sonder blaam standvastig hou. God doen dit egter alles deur Christus, en sy gawes is verbind aan hulle verbondenheid aan die Seun van God.

Hierdie danksegging is nie ʼn gebed tot God nie, maar eerder ʼn inleiding wat van die hooftemas in die brief aanraak. Paulus vertel vir die gemeente in Korinte dat hy God altyd dank vir sy genade wat Hy aan hulle gegee het deur hulle innige verbondenheid aan Christus Jesus (v4). Genade is God se vrye en milde gawe. Paulus is diep bewus dat God se onverdiende gawe hom en sy hele bediening dra (3:10; 15:10). Die brief begin en sluit ook af met ʼn toesegging van die genade van die Here Jesus (1:3; 16:23). Teenoor die swakhede, misdrywe, dwalings en hoogmoed van die gemeente wat Paulus in hierdie brief aanspreek, wil hy hulle oortuig dat hulle slegs uit God se genade lewe. God het sy genade aan hulle gegee deur hulle aan Christus Jesus te verbind.

Paulus het Christus aan hulle verkondig. Deur sy verkondiging is hulle oortuig deur die kragtige werking van die Gees (2:4). God het Paulus se getuienis oor Christus laat wortelskiet in die gemeente. Die gevolg daarvan was ʼn rykdom van gawes in die gemeente. Die gawes ontvang hulle egter slegs deur aan Christus verbind te bly. Die waarde van die gawes hang af van die mate waarin die gemeente in Hom gevestig is (vv5a,6).

Die gawes van woord en kennis word uitgesonder (5b). Dit is twee van die gawes wat die Gees aan elke lidmaat afsonderlik gee soos Hy wil, om te dien en die gemeente daarmee op te bou. Daarmee moet hulle die kennis van God met verstaanbare woorde oordra (12:6-8;14:4,6). Hulle word gered as hulle vashou aan die woord/boodskap soos Paulus dit aan hulle verkondig het (15:2). Maar die Korintiërs se kennis het hulle verwaand en liefdeloos gemaak (4:19,20; 8:1-3; 10-11). Hulle is deur oorredende woorde van menslike wysheid bekoor (2:1,4,13), en het die spreek in tale hoog aangeslaan (14:2,23). Maar hulle het doof geword vir die woorde wat die Gees leer, die boodskap van die liefde van die gekruisigde Christus (2:2,13). Christus se liefdesoffer is juis die krag waarmee God red (1:18).

God het Paulus se getuienis oor Christus stewig in die gemeente gevestig. Daarmee het God gesorg dat hulle in geen genadegawe tekortskiet, terwyl hulle op die wederkoms/openbaring van ons Here Jesus Christus wag nie (v7). Die Korintiërs het vergeet dat die gawes van God kom, en spog oor die gawes wat hulle besit. Hulle handel asof hulle ‘oorversadig’ is van gawes, asof hulle reeds die volle openbaring van Christus het, en dat hulle klaar regeer (4:7-8). Hulle dink hulle praat die taal van engele wanneer hulle in tale spreek (13:1; 14:9-12). Hulle glo wel dat Jesus uit die dood opgestaan het, maar party van hulle verkondig dat daar geen opstanding van die gelowiges is nie (15:12-19). Daarom beklemtoon Paulus dat ons nou nog lewe in die verwagting van die volle openbaring van die verhoogde Christus by sy wederkoms.

Soos God Paulus se getuienis oor Christus stewig gevestig het (v7), sal Hy ook die gemeente tot die oordeelsdag standvastig maak in die geloof (v8), ten spyte van al hulle swakhede en oortredings. Vir dié genade van God aan die gemeente is Paulus altyd dankbaar. God sal sorg dat hulle sonder blaam is, al is daar tans verdeeldheid en onderlinge hofsake in die gemeente (hoofstukke 1-4 en 6). Daar is ook verregaande onsedelikheid (hoofstukke 5-7), afgodery (hoofstukke 8-10), en onreëlmatighede by die nagmaalsviering (hoofstuk 11). Baie betwyfel ook Paulus se kruisevangelie en etiese aanwysings (hoofstuk 4 en 9). Jesus Christus, deur wie God sy genade aan hulle geskenk het, is die Here, wat die seggenskap oor ons lewe het. God het Hom ook aangestel as die eindregter oor die wêreld (15:24-28). Alleen deur sy kruisdood sal die gemeente sonder blaam voor Hom staan. So lyk God se onverdiende genade waarvoor Paulus daagliks dank.

Paulus is seker van sy verwagting vir die gemeente, want hy is seker van God se betroubaarheid om wat Hy begin het, enduit deur te voer (v9, vgl. v2). God het die gemeente geroep om vir Hom te lewe in gemeenskap met Christus (vgl. 8:6). Dit behels dat ons saam met Christus sterwe aan onsself, en saam met Hom die sonde oorwin. Ons is lede van sy liggaam (6:15; 12:27). Hy is die Seun van God aan wie die Vader alles onderwerp het, om alle bose magte te vernietig (15:24-28).

Met sy voortdurende lof van God se genade wil Paulus die gemeente teruglok om uit dié genade te lewe. God se genade werk slegs deur Christus, wat vyf maal in hierdie inleiding genoem word. Die gemeente word deur Paulus se dankgebede opgeroep om, met die gawes wat hulle ontvang het, in afhanklikheid en in gemeenskap met Christus te lewe

 

Outeur: Dr Francois Malan

 




Die vroeë kerk

Die vroeë kerk – Jan van der Watt

Vraag:

Johann van Aswegen vra:

Ek sal graag meer te wete wil kom oor die vroeë kerk en veral bronne wat deur nie-Christene geskryf is en waar moontlik foto’s van die geskrifte met hulle vertalings.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dankie vir jou vraag. Uit jou vraag lei ek af dat jy belangstel om boeke te lees oor die vroeë kerk en wat mense in daardie tyd geskryf het. Dit is natuurlik ‘n baie breë vraag en daar is baie boeke. In so geval is dit altyd die beste om eers baie breed te begin, met ander woorde om iets te lees wat jou vertel van die geskiedenis sodat jy kan weet waar die skrywers inpas. (Die Bybel A-Z het so oorsig oor die geskiedenis agter in). Jy kan ook maklik Encarta, Encyclopedia Britannica of Wikepedia probeer. Hulle sal vir jou goeie oorsigte gee. Jy sal dan agter kom dat daar apostoliese vaders, kerkvaders en ander groepe soos die gnostici was. Dan gaan lees jy artikels oor hulle. Op die web sal jy dan ook (as jy hulle name intik) hulle boeke of ten minste vertalings daarvan kan kry.

Ek hoop dit help jou so bietjie.

Outeur : Prof Jan van der Watt

 




Abraham se offer

Abraham se offer – Marius Nel

Paul vra:

As mens Genesis 15:10-17 lees, en ook Esegiël 43:25 sien mens die ooreenkoms tussen die verbond en die tempel seremonie. In Esegiël 46:12 word gepraat van die regeerder wat vrywillig kan offer, is hierdie regeerder Jesus? M.a.w. het hierdie gedeelte van Esegiël, `n duidelike verband tussen God se verbond met Abraham en Jesus se nuwe bedeling? `n Ander opmerking: in Esegiël word hier gepraat van die regverdigheid ten opsigte van maatstawwe. Kan mens sê dat die maatstaf van die nuwe Jerusalem in Openbaring, `n simbool is van die feit dat almal met dieselfde maatstaf gemeet word?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Abraham se offer en die offer in die nuwe tempel wat Esegiël voorsien, stem ooreen in soverre dit offers betref.

Die regeerder verwys in die eerste plek na die prerogatief dat die regeerder ‘n spesiale offer mag bring maar ook die plig het om dit te doen.

Die gedeelte in Esegiël sluit aan by Openbaring omdat albei na ‘n tempel verwys wat gaan kom. Openbaring leun baie swaar op Esegiël vir sy beelde en metafore.

Regverdigheid as maatstaf is verseker ook in Openbaring en die oordeel ter sprake.

Dankie vir jou navraag!

 

Outeur: Dr Marius Nel

 




Teman en Paran – Vraag

Teman en Paran – Marius Nel

Liza vra:

Twee navrae asb:

1) Waar is Teman? Habakuk  3:3

2) Waar is Paranberg? Habakuk 3:3

3) Was dit gebruik in Bybelse tye dat mense na berge (heuwels) moet gaan om JHWH se aangesig te soek?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Teman en Paranberg roep vir die leser die assosiasie op van die uittog uit Egipte en die gebeure by Sinai. Albei plekke word slegs met dié gebeure in verband gebring en lê op die roete vanuit Egipte na die Beloofde Land. In dié sin moet die gedeelte verklaar word. Die presiese ligging van albei, soos meeste plekke wat rondom die uittog genoem word, is nie meer bekend nie. Trouens, ons weet nie eens presies waar Horeb/Sinai geleë was nie maar raai maar.

Dankie vir jou navraag!

 

Outeur: Dr Marius Nel