Skeppingsverhale

Skeppingsverhale

Louis Fourie vra die volgende vraag:

‘n Vriend van een van my seuns studeer vir pastoor in die AGS. Hy sê dat aan hulle vertel is – ek weet nie of dit in ‘n handboek voorkom of nie – dat daar ook ‘n Babiloniese skeppingsverhaal bestaan het wat nog voor Genesis geskryf is, wat ook vertel van ‘n Skepper wat alles in sewe dae geskep het. Nou het ek al vantevore verneem dat die sogenaamde Mosaïese boeke in Babilon neergeskryf is tydens die ballingskap. Volgens wat ek hierbo na verwys, lyk dit of die Israeliete die Babiloniese verhaal oorgeneem het. Wat is die geval?

Antwoord:

Ja, die verwysing is korrek. Daar bestaan skeppingsverhale wat uit Babilon kom en gebaseer is op mites van ʼn stryd tussen die gode wat tot die wêreld gelei het soos ons dit ken. Maar daar is ʼn baie groot verskil tussen die Bybelse skeppingsvoorstellings en Babiloniese mites, waarvan die belangrikste is dat die Bybel slegs van een God weet, dat Hy die Skepper is en dat Hy skep deur te spreek. Daar is nie ooreenkomste tussen die twee tipes verhale nie.

Sommige Bybelwetenskaplikes beweer dat die Pentateug (eerste vyf boeke, wat vir Jode ook die meeste gesag dra) tydens die ballingskap finaal op skrif gestel is. Hulle ontken nie dat die verhale en wette vir eeue reeds gefunksioneer het nie, mondeling sowel as skriftelik om normatief vir gelowiges van die Verenigde Ryk en ook later vir die Suidelike Ryk (en tot mindere mate vir die Noordelike Ryk) te wees. Die verhale is weer ʼn keer oorvertel en geherinterpreteer met die oog op die enorme uitdagings wat die ballingskap aan Jode gestel het, wanneer hulle hul tempel, koning en land verloor. Die verhale is egter baie ouer en dateer uit die periode voor en tydens die lewe van Moses.

Het omliggende volke se verhale ʼn invloed op die Ou Testament uitgeoefen? Die antwoord is nie klinkklaar nie omdat sodanige ooreenkomste nie uitgewys kan word nie. Die meeste wat ons kan sê, is dat Israel die wêreld met hulle buurvolke gedeel het en alhoewel daar nie so iets soos globalisme was nie, het idees tog moontlik oor grense beweeg en mekaar beïnvloed.

Hoop dit werp lig op jou navraag!

 

Skrywer:  Dr Marius Nel 

 




Herkoms van die Hemel as nadoodse bestemming van gelowiges

HERKOMS VAN DIE HEMEL AS NADOODSE BESTEMMING VAN GELOWIGES

Die hemel bly nog ‘n gewilde manier om na gelowiges se nadoodse bestemming te verwys. Die vraag is waar hierdie uitdrukking vandaan kom. Dit hang saam met die antieke wêreldbeeld wat God se woonplek as bo die aarde, agter die uitspansel, voorgestel het. Na hulle dood gaan woon gelowiges dan saam met God in sy woonplek. Vandag sal ons egter “hemel” anders moet verstaan.

Die hemel bly ‘n gewilde manier om die nadoodse bestemming van gelowiges mee te beskryf. Maar waar kom dit vandaan dat ons sê ons gaan “hemel” toe?

Eers iets ter inleiding. Mens bespeur nogal deesdae ‘n terughoudendheid by teoloë om oor die hemel te skryf. Die saak lê natuurlik anders by die populêre leesmark. Hier verskyn daar kort-kort iets oor die hemel. Maar baie hiervan is wilde spekulasie wat selfs misleidend kan wees.

Vanwaar hierdie terughoudendheid by teoloë? Moontlike redes:

  • Ons het geen eerstehandse ervaring van die hemel nie. Dis nie deel van ons alledaagse ervaring nie. Uitsprake daaroor is dus baie spekulatief. En die Bybel gee geen inligting oor die hemel by mense wat uit die dood opgewek is nie (byvoorbeeld Lasarus).
  • Te veel klem op die hemel lei tot ‘n ongesonde hemelverlange. Die Bybel plaas die klem eerder op gelowiges se taak op aarde. Die hemel kan ons rustig in God se hande laat vir wanneer ons daar kom.
  • Tradisionele gedagtes oor die hemel is te egoïsties. Dis te veel ingestel op my en my geliefdes se behoeftes en voortbestaan (byvoorbeeld: “die familiekring sal daarbo weer voltooi wees”). Die Bybel gee ‘n veel omvattender perspektief op ons uiteindelike toekoms.
  • Die voorstellings oor die hemel in die Bybel is verweef met die antieke wêreldbeeld. Ons wêreldbeeld het egter verander. “Hemel” is dus vir baie nie meer ‘n realistiese manier om na die hiernamaals te verwys nie.

Dus, die teologie is minder spekulatief. Dit konsentreer eerder op die dinge waaroor die Bybel wel baie praat, naamlik wat Christenskap vir die hiernoumaals beteken, en nie vir die hiernamaals nie.

 

Waar kom die gedagte vandaan dat ons hemel toe gaan na ons dood?

Die antieke wêreldbeeld help hier. Die wêreld is soos ‘n drieverdiepinggebou gesien.

1. Die grondvloer is die plat aarde.

2. Die kelderverdieping (onder die aarde) is die doderyk (sheol).

3. Die eerste verdieping is die hemel. Laasgenoemde is ‘n blou koepel wat oor die plat aarde gespan is. Dit het sluise, waaruit die reën val. En die son, maan, sterre en wolke beweeg hier op hulle baan.

Onsigbaar agter die koepel is die woonplek van God – die hemel. Hier is sy troon; hier woon Hy met sy hemelinge (gerubs, serafs, engele) wat hom dien, baie soos ‘n oud-Oosterse koninklike paleis. Vanuit die hemel regeer God die hemel en die aarde. Dit is die koninkryk van die hemel/God. Die hemel self is in die Joodse voorstellings dikwels in verskillende vlakke ingedeel. Sewe was ‘n gewilde getal. Paulus weer maak in 2 Korintiërs 12 melding van ‘n man (waarskynlik hyself) wat tot in die derde hemel weggeruk is.

 

Wat leer ons uit hierdie antieke wêreldbeeld? Twee dinge:

1.            In die Ou Testament kry ons die voorstelling dat gelowiges na hulle dood na sheol gaan (onder die aarde), maar gaandeweg het daar ‘n verskuiwing ingetree. In die Nuwe Testament kry mens die gedagte dat gelowiges hemel toe gaan, byvoorbeeld:

  •          Ons is burgers van die hemel (Filippense 3:20);
  •          Christus sê vir die moordenaar aan die kruis: Vandag sal jy saam met my in die paradys (wisselterm vir hemel) wees;
  •          Johannes 14:2: Christus sê aan sy dissipels: In my Vader se huis is daar baie wonings, Ek sal julle kom haal en julle sal saam met my wees;
  •          2 Korintiërs 5:1: As ons aardse tentwoning afgebreek word, het ons ‘n vaste gebou in die hemel; en
  •          Openbaring 7: Die gestorwe martelare is in die hemel voor die troon van die Lam.

2.         Vandag het baie mense ‘n probleem met die begrip hemel, want ons deel nie meer die antieke wêreldbeeld nie. Dus, die hemel as fisiese woonplek van God (en as ons toekomstige woning) is problematies. Ons weet van die ontsagwekkende grootte van die kosmos. Die hemel as God se woonplek is kennelik nie bo die wolke, of selfs bo die aarde se atmosfeer, of op pad maan toe, of waar ook al nie. Jurie Gargarin, die Russiese ruimtevaarder, was dus destyds reg toe hy gesê het: “Ek het God nêrens gesien nie.” Hy sou ook nie. Daardeur het hy eintlik net sy onkunde en ongeloof geopenbaar.

Die punt is: Ons moet ons siening van “hemel” aanpas. Ons moet eerder sê: Die hemel is ‘n alternatiewe bestaanswyse. Dit mag ook tyd en ruimte beslaan, maar dan nie soos ons tyd en ruimte vandag verstaan nie. Dis ook nie ver weg, agter die verste sonnestelsels nie, maar ‘n ander dimensie van bestaan. Dis hier by ons, maar net aan die “ander kant” (Duits: jenseits) van wat ons kan waarneem, buite bereik van ons huidige waarnemingsvermoë.

 

Skrywer: Prof Hermie C van Zyl 

 




Die Wyse Manne

DIE WYSE MANNE

Die beskrywing van die Wyse Manne vind ons net in die Matteus-evangelie. Ons weet nie veel van hulle nie, behalwe dat hulle waarskynlik uit Persië gekom het. Hulle was die destydse sterrekundiges, maar het ook die toekoms probeer voorspel aan die hand van die sterre. Hulle het baie invloed gehad in die koninklike hof in Persië. Matteus teken hulle in ‘n positiewe lig en gebruik hulle om Jesus se koningskap te belig. 

Van hierdie misterieuse figure lees ons net in die Matteus-evangelie. Matteus 2 sê hulle het die pasgebore koning van die Jode se ster in die ooste gesien, toe die tog na Judea aangepak om aan hom hulde te bring, uiteindelik ‘n oudiënsie met die uiters ontstelde koning van die Jode, Herodes die Grote, in Jerusalem gehad, die baba Jesus in Betlehem vereer met hulle geskenke, en toe, na ‘n goddelike waarskuwing, nie aan Herodes gerapporteer nie, maar teruggekeer na hulle land van herkoms.

Wie was hierdie figure? Die kerklike tradisie het gou allerlei stertjies aangelas, soos dat daar drie was, met die name Kasper, Melgior en Baltsasar. Maar die getal drie is waarskynlik afgelei van die vermelding van die drie geskenke – goud, wierook en mirre. En die name is blote spekulasie.

Ons het egter meer sekerheid oor die beroep van die wyse manne, waar hulle vandaan gekom het, en veral, watter betekenis die Matteus-evangelie aan hulle heg.

Eerstens, hulle beroep en land van herkoms. Die 1933/53 Afrikaanse vertaling noem hulle “wyse manne”, in navolging van die ouer Engelse vertalings, wise men. Die 1983-vertaling noem hulle egter “sterrekykers”. Die meer tegnies korrekte benaming is “magiërs”, na luid van die oorspronklike Grieks, magoi. So verwys sommige Engelse vertalings na hulle as magi.

Die magoi was waarskynlik van Persiese herkoms. Daarom praat Matteus tereg van die magoi as komende “van die ooste”. Hulle was geleerdes uit die priesterkaste van Persië, en het baie invloed in die Persiese koninklike hof gehad, omdat hulle kenners was van die stand en beweging van die hemelliggame. Hulle het egter ook wyer as net in Persië voorgekom. Mens sou dus kon sê dat hulle die destydse sterrekundiges was.

Maar daar is ‘n belangrike bykomende element: Hulle was nie net sterrekundiges in die suiwer wetenskaplike sin van die woord nie, maar het ook probeer om belangrike tekens en kennis uit die stand en verskyning van die sterre af te lei omtrent toekomstige aardse gebeure. Daarom dat hulle soveel invloed gehad het aan die koninklike hof. Hulle is byvoorbeeld geraadpleeg oor die moontlike verloop van staatkundige gebeure en die uitkoms van oorloë. Baie waarde is aan hulle opinie geheg. In vandag se terme sou hulle dus ook as astroloë of sterrewiggelaars bekend kon staan, wat natuurlik by ons (tereg) ‘n negatiewe betekenis het. Maar in die antieke tyd is daar nie so ‘n skerp onderskeid getref tussen sogenaamde suiwer wetenskaplike kennis en die manipulasie daarvan nie. Dit is as een en dieselfde ding gesien. Nou kan mens ook verstaan waarom Herodes so ontsteld was oor die koms van die magoi, veral toe hy hoor dat hulle navraag doen oor die geboorte van die koning van die Jode nadat hulle sy ster sien opkom het.

Hoe dit gekom het dat die magoi in die verskyning van ‘n besondere ster iets van die geboorte van die Jode se koning kon aflei, is nie duidelik nie. Maar dit klop met wat die magoi gedoen het, naamlik om die omringende nasies se lotgevalle te bestudeer aan die hand van die stand en verskyning van nuwe sterre. Moontlik was hulle bekend met die Joodse messiaanse verwagtinge, want ons weet dat die Jode sterk verteenwoordig was in Babilonië na die Joodse ballingskap.

En dit bring ons by Matteus se interpretasie van die magoi. Matteus sien hulle in ‘n positiewe lig. Hieruit moet mens nie iets aflei oor ‘n positiewe waardering vir iets soos astrologie nie. Ons moet onthou dat die magoi die internasionale intelligentsia van daardie tyd verteenwoordig. En dis juis hierdie geleerdes wat die baba Jesus vereer. Daarmee word Jesus ook as toekomstige wyse man gekenmerk – een groep wyses wat ‘n ander Wyse vereer.

Verder lê daar ook ‘n geweldige ironie opgesluit – dat die Joodse skrifgeleerdes wat moes geweet het van die geboorte van die messias, dit gemis het. Dit kos heidense geleerdes om hulle oë daarvoor oop te maak en te laat skarrel na die Skrifte se profesieë hieroor.

‘n Verdere ironie is die skrille kontras tussen Herodes se vals hulde en die egte hulde van die magoi (die magoi het gekniel = verering en aanbidding). Ook die geskenke spreek van koninklike verering: goud, wierook en mirre was destyds bekend as koninklike geskenke. Verder, dat die magoi heidene is, pas in by die boodskap van die Matteus-evangelie. In Matteus 28:19-20 sê Jesus die dissipels moet die evangelie aan die nasies verkondig en hulle sy dissipels maak. Die magoi se verering en aanbidding is dus ‘n voorteken van die hele wêreld wat tot aanbidding van Jesus sal kom.

 

Skrywer: Prof Hermie C van Zyl 

 




Jesus se geboortedatum

JESUS SE GEBOORTEDATUM

Kersfees veronderstel dat Jesus op 25 Desember van die jaar een gebore is. Die feite is egter dat ons nie weet presies wanneer Jesus gebore is nie. Die artikel beredeneer die gegewens rondom die geboortejaar en -maand van Jesus. 

Elke jaar op 25 Desember herdenk ons die geboorte van Jesus. Hieruit volg logies dat Jesus, volgens ons Christelike jaartelling, op 25 Desember van die jaar een gebore is. Reg? Verkeerd!

Ons bekyk eers Jesus se geboortejaar. Die Matteus-evangelie (2:1) berig dat Jesus tydens die regering van koning Herodes gebore is. Herodes die Grote is hier ter sprake. Uit buite-Bybelse bronne weet ons dat sy regeertyd van 37-4 vC gestrek het. Jesus is dus minstens voor die dood van Herodes in 4 vC gebore. Maar hoe lank voor 4 vC? Matteus 2:16 help ‘n bietjie. Volgens dié teks het Herodes die Grote opdrag gegee dat alle seuntjies onder die ouderdom van twee jaar doodgemaak word. So wou hy seker maak dat Jesus ook gedood word. Ten tye van die opdrag kon Jesus dus nog nie twee jaar oud gewees het nie. Dat hierdie gruweldaad nie te lank voor Herodes se eie dood plaasgevind het nie, word deur die verdere verloop van gebeure aangedui.

Jesus het die dood vrygespring toe sy ouers met hom na Egipte gevlug het. Hulle het eers teruggekeer toe Herodes oorlede is en sy seun, Argelaos, hom opgevolg het (Matteus 2:22). Argelaos het van 4 vC tot 6 nC geregeer. Hoe lank Jesus en sy ouers in Egipte was, weet ons nie, maar die indruk word gewek dat Jesus nog klein was by hulle terugkeer. Ons kan dus sê dat Jesus nie te lank voor 4 vC gebore is nie, waarskynlik tussen 7-4 vC.

Die Lukas-evangelie het ook inligting oor die geboortejaar van Jesus. Oënskynlik is sy inligting baie presies. Lukas 2:2 sê dat Jesus gebore is tydens die volkstelling toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. Die probleem is egter dat ons uit buite-Bybelse bronne van geen volkstelling in die tyd van Herodes weet nie. Volgens die Joodse geskiedskrywer, Josefus, het die volkstelling onder Sirenius eers in 6-7 ná Christus plaasgevind. Dit maak Jesus se geboortejaar van tien tot veertien jaar later as wat ons uit Matteus kan aflei.

Dit is dus uiters moeilik om die gegewens van Matteus en Lukas met mekaar te versoen. Vermoedelik het daar wel ‘n sensus in Herodes se tyd plaasgevind. En in later tye is hierdie sensus toe met die meer bekende een onder Sirenius verwar. Dit bly dus nog die beste om die geboortejaar van Jesus tydens die laaste deel van Herodes se regeertyd te plaas, in 7-4 vC.

Maar hoe kom mens by ‘n vóór-Christus-datum vir Jesus se geboortejaar uit? Is Hy dan nie in die jaar een gebore nie? Hierdie toedrag van sake moet op die rekening van Dionisius Eksiguus geplaas word. Hy was ‘n monnik van Rome, afkomstig uit die provinsie Skitië. In 526 nC het hy die opdrag ontvang om eenvormigheid te bring in die verskillende kalenders waarmee destyds na kerklike feesdae verwys is. Dit het op ‘n nuwe kalender uitgeloop, beginnende by Christus se geboortejaar as die jaar een. Dionisius het Jesus se konsepsie bereken as die 25e Maart van die jaar 754 sedert die stigting van Rome. Dit is toe geneem as die jaar een van die Christelike era. Eeue later is egter ontdek dat Dionisius ‘n paar berekeningsfoute gemaak het en die geboortejaar van Jesus met ongeveer vier tot sewe jaar oorskry het. Niemand het egter daarvoor kans gesien om die kalender aan te pas nie. Dus, hoe onlogies ook al, bly ons by Jesus se geboortejaar as 4-7 vC.

Maar waar kom ons aan die geboortemaand van Jesus as 25 Desember? Die beste verklaring is die een wat 25 Desember neem as die ver-Christeliking van die ou heidense fees van sol invictus (die onoorwinlike son). In die noordelike halfrond is 25 Desember ongeveer die tyd van die son se verste suidelike draaipunt. En dit het altyd met groot feesvieringe gepaardgegaan. Algaande het die Christene hierdie fees vir Jesus, die eintlike onoorwinlike Son van geregtigheid, toegeëien. Vandaar dat ons nog steeds die geboorte van Jesus elke jaar op 25 Desember herdenk. Maar in watter maand Jesus werklik gebore is, weet ons nie. Dit was waarskynlik êrens gedurende die warmer maande van die noordelike halfrond, veral as ons Lukas se gegewens rondom die herders in die oop veld in gedagte hou. So ‘n situasie pas eerder in die warmer maande as in die koue Desember.

Ons weet dus nie presies wanneer Jesus gebore is nie. Maar dit maak nie regtig saak nie. Solank ons net glo dat die ware Lig wat elke mens verlig, na die wêreld gekom het. Hierdie Lig skyn in die duisternis, en die duisternis kan dit nie uitdoof nie (Johannes 1).

 

Skrywer: Prof Hermie C van Zyl