God regeer?(1)

God regeer?  Deel 1

Die wêreld staan aan die begin van ‘n nuwe millenium.  En die Kerk van die Here Jesus deel met die wêreld ‘n infeksie wat tot hoë koors lei – milleniumkoors.  ‘n Koors waar die postmoderne mens yl dat die derde millenium na Christus die oplossing van al sy ekologiese en finansiële probleme gaan sien.  Die Kerk soek ook na ‘n oplossing – hy plaas sy hoop weer op die wederkoms.

Wat is die uitdagings wat ‘n nuwe millenium aan die Kerk stel?  En hoe kan die Kerk dit effektief beantwoord?

Ek meen die grootste nood van die mens aan die begin van die nuwe millenium is aan hoop.

Dit is ‘n wesenlike gevaar dat ‘n mens in krisistye perspektief verloor, dat jy aan perspektiefblindheid begin ly.  As ‘n mens met mense wat op die oomblik beplan om te emigreer gesels, is dit dikwels jou waarneming dat hulle alle perspektief verloor het.  Hulle skryf Suid-Afrika af.  Daar is niks goeds in dié land oor nie.  Hulle meen dat groener weivelde in ‘n ander land lê.

En as ‘n mens van die daaglikse nuus kennis neem, van misdaad en geweld, van ekonomiese probleme en inflasie, van korrupsie en bedrog, dan wil dit ‘n mens self ook maklik negatief maak, sodat jy dié mooi land ook wil afskryf.  Wat sal in die een en twintigste eeu met Suid-Afrika gebeur?

Wie was nie die afgelope jaar of twee slagoffer van misdaad in een of ander vorm nie?  Het die ekonomiese opdraende van die land nie ook ons verarm, in die vorm van inflasie en hoë rentekoerse nie?   Is ons nie almal bekommerd oor standaarde wat by hospitale en skole daal nie?  Het korrupsie in matriekeindvraestelle nie ons land geskud en elke leerling se hart met die vrees gevul dat sy of haar matriekuitslae nie veel werd gaan wees op die pad vorentoe nie?  En het die korrupsie nie ook oorgespoel na staatsdepartemente, waar talle spookamptenare vir jare ‘n salaris getrek het, en na die polisiediens en plaaslike owerhede nie?  En so kan ‘n mens aanhou.  As jy negatief wil raak, is daar genoeg in Suid-Afrika om oor te dink en te gesels.  En min om op te hoop.

Die krisistye waarin Suid-Afrikaners hul bevind, raak natuurlik ook gelowiges.  In dié omstandighede is dit baie maklik om perspektief te verloor.  En wat altyd daarmee saamhang: ons hoop vir die toekoms.  Dit is na my opinie te verstane dat talle mense negatief oor ons land en pessimisties oor ons toekoms geraak het.  Hulle begin defaïtisties dink en optree.

Israel was dikwels blootgestel aan krisisomstandighede, sodat hulle ook aan perspektiefblindheid begin ly het.  So gebeur dit dat die volk geleentheid kry om na hul eie land terug te keer ná die Babiloniese ballingskap, danksy die vergunning van die nuwe regeerder op die wêreldtoneel, koning Kores (of Cyrus) van Persië.  Hulle herbou selfs hul tempel, ten spyte van teenstand van die omringende volke, en veral hul halwe broers, die Samaritane.   Maar die heil realiseer nie, soos na-eksiliese profete belowe het nie.  Die volk wat terug in die land is, bly arm en gehaat, hulle word verdruk deur hul vyande en geteister deur natuurrampe.

Dit is moontlik gedurende dié tyd dat die verhaal vertel word van ‘n droom wat koning Nebukadnesar sou gehad het. Dit is dieselfde koning wie se magte Juda eers in 597 en daarna in 586 in ballingskap wegvoer, om in die vreemde te gaan bly.  ‘n Mens vind ‘n beskrywing van dié droom in Daniël 2. Volgens die beskrywing ontstel die droom die koning so dat hy nie kan slaap nie.  Hy laat roep die towenaars, voorspellers, goëlaars en sterrekykers. Iemand moet tog die droom kan verklaar!  Want as die koning droom, so het die mens in antieke tye geglo, is dit ‘n boodskap van die gode.  En die wyses aan die koning se hof word betaal om die boodskappe van die gode te ontsyfer.  Vir die een wat dit kan doen, word geskenke en eer belowe.

Die heidense koning word egter met ‘n ernstige probleem gekonfronteer: niemand kan die droom uitlê nie. Want die koning vertel nie vir hulle sy droom nie.  Is dit dalk omdat hy dit nie kan onthou nie, of omdat dit slegs as ‘n vae beeld in die koning se geheue agter gebly het?  Die koning is so kwaad hieroor dat hy die bevel gee dat alle wyse manne wat aan sy hof verbonde is, uitgemoor moet word.

Tussen die wyses is daar vier manne wat in ballingskap na die koning se hof weggevoer is, Jode uit Juda.  Hier in die vreemde het hulle opleiding as wyse manne ontvang, en so vorm hulle nou deel van die groep wat tereggestel moet word.  Daniël hoor van die koning se bevel, en sê sy vriende aan om saam met hom te bid dat die Here vir hulle die interpretasie van die geheim sal gee. Hul lewe hang immers daarvan af!

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Moderne Engele

Moderne Engele

Ons tyd sien ‘n groot belangstelling in engele.  Televisie-reekse word aan die onderwerp gewy, en talle boeke verskyn maandeliks wat vertel van mense se ervaring met dié bonatuurlike wesens.  Moet Christene bly wees oor dié nuwe belangstelling?

Christene betwyfel nie die bestaan van engele (en ander bonatuurlike wesens waarvan ons min verstaan) nie.  En ons twyfel ook nie daaraan dat engele by geleentheid aan Christene verskyn nie.  Maar die nuwe en diepgaande belangstelling in die bonatuurlike is nie as sodanig iets om oor opgewonde te raak nie.  Dit het veel eerder met die New Age-filosofie van panteïsme te doen as met die God van die Bybel.

Ongelukkig besef Christene dit nie aldag nie, en dra dan die vreemde idees wat deur die tydsgees versprei word, in die Kerk in.  Ek wil u daarteen waarsku.  Die nuwe belangstelling in engele word deur drie kragte gedryf, of deur drie veronderstellings gedra.  Die eerste is panteïsme, wat die hele skepping en alles daarin as god sien.  Die nuwe geloof is ook misties, deurdat dit waarheid beskou as iets wat in die mens is, en wat die mens slegs moet ontsluit.  Dit is ook sinkretisties, met ander woorde, dit beweer dat alle godsdienste idees ewe waardevol is, en dat die waarheid uit die somtotaal van alle godsdienste bestaan.

 

ELIZABETH KüBLER-ROSS

Elizabeth Kübler-Ross het bekend geword vir haar wetenskaplike waarneming van wat gebeur as mense sterf.  Haar boek, “On Death and Dying“, het met reg wêreldbekend geword.  As sy die vrede sien waarmee mense sterf, en hoor hoe die sterwendes getuig van ‘n liefdevolle Lig wat hulle bely, word sy ‘n gelowige.  In haar outobiografie, “The Wheel of Life“, vertel sy dat haar reis egter nie by geloof in God geëindig het nie.  Sy het begin glo dat engele mense begelei wat sterf, en sy het kontak met dié wesens begin maak.  Vandag lei sy seances waar geeste materialiseer en allerlei onheile uitbroei.

Onthou gerus die waarskuwing van Paulus in 2 Korintiërs 11:13-15.  Daar is vals apostels wat voorgee dat hulle deur God gestuur is, maar in diens van Satan staan wat hom as ‘n engel van die lig voordoen.  Moenie almal vertrou wat die taal van geloof gebruik nie!

 

VERSIGTIGHEID

As daar een eienskap is wat Christene in ons dag nodig het, is dit dié van die Bereaanse Christene.  “Die mense daar (in Berea) was ontvankliker as dié in Tessalonika.  Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê” (Hand 17:10).

Om die taal van die Bybelse Christendom te gebruik, is nog nie om ‘n Christen te wees nie.  Wees gewaarsku!

 

ENGELE

Wat kan ons van engele sê?  Wanneer ons oor iets praat wat in God se dimensie bestaan, is dit belangrik om die beginsel te gebruik wat in Deuterononium 29:29 vermeld word: “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet”.  Sê wat die Bybel sê.  En bly weg van wat nie geopenbaar is nie.

Nehemia 9:6 noem dat God die hemelinge gemaak het – ‘n magtige leërmag wat in diens van God staan.  Die hemelinge word die seuns van die Magtige (Psalm 89), die seuns van God (Job), gode (Psalm 8), môresterre (Job), prinse (Daniël) en magte in die hemelruim (Efesiërs 3) genoem.  Iewers het ‘n belangrike leier van die hemelinge geval deur aan God ontrou te word, en hy en sy volgelinge is uit die hemel geban.  Die metaforiese taal van Jesaja 13 en Esegiël 28 vertel daarvan.

Wat doen die engele wat aan God se hof is?  Hulle dien God (Jesaja 6:1-4), funksioneer op ‘n vlak wat vir ons verborge is en word uitgestuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf (Hebreërs 1:3-14).

 

BELANGSTELLING

Waar kom die skielike belangstelling in engele vandaan?  Ek meen dit is die gevolg van die onsekerheid wat mense van ons dag beleef as hulle oor die toekoms dink.  Die wêreld het vir mense te groot geword om te hanteer.  Dink aan Suid-Afrika – jy kan enige dag die slagoffer van misdaad, geweld of regstellende aksie word.  Die mens wat bang en benoud, angstig en gespanne is, soek na iemand wat groter is en jou kan help.  Iemand wat jou kan beskerm en verantwoordelikheid vir jou toekoms kan aanvaar.

Kyk weer na Hebreërs 1:3-14.  Jesus Christus is ver verhewe bo die engele (vers 4).  Hy is die heerlike verskyning van God.  Deur sy Woord en mag hou Hy alles in stand.  En Hy bly vir ewig.  Hoekom verder soek?  Die moderne mens soek op die verkeerde plek.

Ken jy Hom?  Het Hy al die heerlikheid van God aan jou openbaar?  Hou Hy jou huis en huwelik en lewe in stand?  Is jy ewig omdat jy in Hom en Hy in jou is?  Daar is nie hulp by die “engele” te kry nie.  Slegs Jesus kan jou help en red, beskerm en red!
Skrywer: Dr Marius Nel

 




Die Kruis-en-die-Kroon(2)

Die Kruis-en-die-Kroon Deel 2

Binne die heiligheidsbeweging is daar verskeie groepe wat die kombinasie van die kruis-en-kroon as wapen of logo gebruik.  Pastoor Ollie Raper vertel so dat hy twintig jaar gelede in Edinburgh, Skotland in ‘n boekwinkel op ‘n kerkgroepering, Christian Mission, wat sterk op sendingwerk ingestel is, se wapen afgekom het.Die groepering het noue bande met Andrew Murray, Nederduits Gereformeerde predikant en bekende in heiligheidskringe as spreker by die Keswick-konferensies.  En hulle wapen is die kruis-en-kroon.  Ook by ander groepe is die wapen gebruik.

Uit die heiligheidsbeweging groei (onder andere) die kerk wat John Alexander Dowie stig, die Christian Catholic Church in Zion.  Dowie preek teen die gebruik van alkohol, tabak en varkvleis, en plaas groot klem op die leerstelling van goddelike genesing.  Hy verbied sy mense om enige medikasie te gebruik.  John G Lake word ‘n ouderling in hierdie kerk, en Dowie stel hom aan as bestuurder oor die boubedrywighede van die stad wat rondom die kerk groei.  Later word Lake ontnugter deur die grootheidswaan wat al meer by Dowie voorkom, en hy bedank uit die kerk.

Dowie stuur Johannes Büchler, en later Daniel Bryant na Suid-Afrika om Sionistegemeentes te stig.  Uit hulle werk ontstaan gemeentes in Johannesburg, Benoni en Krugersdorp.  Wanneer Bryant terugkeer na Amerika, vaar sy skip verby dié van Lake en Thomas Hezmalhalch wat op pad is om die Pinksterboodskap na Afrika te bring.  En die Sionistegemeente in Johannesburg ontvang die twee Amerikaanse sendelinge gulhartig, en hulle gemeente word die AGS se eerste gemeente.

Ook Dowie se Sionistebeweging gebruik die kruis-en-kroon as wapen, naas verskeie ander.

Sover in die geskiedenis van die AGS teruggegaan is, kom die wapen voor.  Waarskynlik het Lake dit reeds gebruik.  Die amptelike maandblad van die AGS, Comforter and messenger of hope, het reeds in 1913 die wapen op sy voorblad vertoon.  Heel moontlik is die wapen van die Sionistebeweging van Dowie oorgeneem, wat dit weer by die breër heiligheidsbeweging geleen het.

Die ouer AGS-lidmate bring die wapen in verband met die slagspreuk, ‘Geen kruis, geen kroon’.

In die eerste helfte van die tagtigerjare doen die AGS aansoek by die Heraldiese Vereniging om die wapen amptelik te registreer.  In antwoord op ‘n advertensie wat die Vereniging plaas, teken ‘n kerk van die Aposteltradisie in Amerika beswaar aan en verduidelik dat dit grootliks met hulle wapen ooreenstem.  Die direkteur van die Vereniging stel voor dat ligstrale (‘n son) saam met die kruis gebruik word, en die wapen word dan ook so geregistreer.

 

KRUIS-EN-KROON EN VRYMESSELAARS?

Die kruis, kroon en son speel ‘n belangrike rol in die simboliek van Vrymesselary.  Die Vrymesselaars skryf die oorsprong van hulle tekens toe aan die antieke Egiptenare, en verduidelik dat elke teken vier onderskeie betekenisse het wat elk in die ander opgesluit is: ‘n morele, politieke, filosofiese en geestelike betekenis.  Die simbole word byvoorbeeld polities geïnterpreteer in terme van ‘n magstryd teen enige vorm van politieke of godsdienstige despotisme.

Die kruis het vir die Vrymesselaars nie ‘n spesifieke Christelike betekenis nie, maar is eerder embleem van die natuur en ewige lewe.  Die X-teken is die teken van kreatiewe wysheid of Logos, wat ook na die Seun van God kan verwys.  Die teken van die son verwys weer na die herskepping wat die son se strale vir die natuur inhou na die lang wintermaande, en verteenwoordig heilige vuur, wat waarheid en liefde is.  Die Vrymesselaar wat die dertigste graad bereik, trap op die kroon as teken dat hy hom wreek op kerklike en politieke gesag wat mense onderdruk.

Alhoewel die tekens van die kruis, kroon en son dikwels in Vrymesselaargeskrifte voorkom, kon die kombinasie van die drie nêrens opgespoor word nie.  En in elk geval verskil die betekenis wat hulle aan die tekens heg, soveel van die Christelike kerk dat daar nie van enige verband tussen die twee gepraat kan word nie.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Die Kruis-en-die-Kroon(1)

Die Kruis-en-die-Kroon Deel 1

VROEGSTE BETEKENISSE

Die kruis is seker vandag die bekendste van die simbole wat Christene gebruik.  Anders as wat ons dalk mag dink, was die kruis nie van vroeg af as simbool benut nie.

Die vroeë Christene wou nie die kruis gebruik om hulle identiteit aan te dui nie omdat dit vir die antieke mense ‘n groot skande was om aan ‘n kruis te sterf, byna soos ons vandag oor die galgdood dink.  En Christene het besef dat die kruis as simbool van hulle geloof maklik verkeerd verstaan kon word.  Die vroegste Christene is ook swaar vervolg vir hulle geloof, en wou seker nie herinner word aan hulle Saligmaker se gewelddadige vervolging en kruisdood nie.  Daarom vind ‘n mens die eerste tekens van die kruis as simbool in kerke en by begraafplase eers vanaf die vierde eeu.  Nou het die Romeinse staat die Kerk amptelik erken as wettige godsdiens en die vervolging van Christene is gestaak.   En Christene kon die kruis gebruik om hulleself te herinner aan wat hulle Heiland vir hulle gedoen het.

Die Griekse en Latynse woorde vir ‘kroon’ kan ook met ‘krans’ vertaal word.  Die krans het by die antieke mens ‘n belangrike rol gespeel.  Hulle het geglo dat as jy ‘n krans van ‘n jong boom se takke vleg, die lewenskrag van die plantsap op jou oorgaan.  En as jy so ‘n kransie in jou huis of by waterbronne ophang, weer dit die bose geeste af.  Hulle het ook kranse op hulle plaasdiere se koppe geplaas om vrugbaarheid te verbeter, en selfs op grafte om te verseker dat die dooies rus en vrede kon hê.  Ook bruidspare het sulke kranse gedra om die bose af te weer en vrugbaarheid te verseker.  Vandag nog dra bruide kranse, en hang mense kranse tydens Kersfees aan hulle deure op!  Dié gebruike het kerkleiers van die vroeë Kerk genoop om lidmate te ontmoedig om aan sulke gebruike deel te neem.

Ook wanneer vegtende soldate van die front terugkom, is daar lourierkranse om hulle nekke gehang.  Aanvanklik was die bedoeling dat die krans hulle van hulle bloedskuld sou reinig, maar later het dit die betekenis gekry dat hulle oorwin het.  Mettertyd het die gebruik ontstaan om aan die oorwinnaar in sport ook ‘n lourierkrans om te hang.  Dink hier aan 1 Korintiërs 9:24 en 2 Timoteus 4:8 wat na so ‘n krans verwys.

Die vroeë Christene het geglo dat martelare ook ‘n kroon sou ontvang omdat hulle in die aardse stryd hulle lewe verloor het.  Die vroeë Kerk het ook begin praat van die kroon wat die bruid dra, en dat die Kerk die bruid van Jesus Christus is.  Mettertyd het die kerkleiers begin preek dat aardse bruide ook ‘n kroon mag opsit, maar slegs as hulle maagde is, omdat die kroon aandui dat hulle die stryd teen immoraliteit gewen het.

Krone is ook met konings geassosieer.  Dink aan koning Dawid se kroon wat nie minder nie as 34 kilogram geweeg het (1 Kronieke 20:2)!  Die kroon as simbool het ook vir vroeë Christene herinner aan die Koningskap van Jesus.

En dan die bekendste kroon wat die een was wat die soldate uit dorings gevleg en op Jesus se kop geplaas het.  Die doringkrans is deur die eeue gebruik as simbool van Jesus se lyding, terwyl die kroon gedien het as uitbeelding van sy koningskap.

Teen die einde van die vierde eeu tref ‘n mens vir die eerste keer ‘n kombinasie van die simbole van kruis en kroon aan, en dan in verband met die wederkoms.  Die beeld kom in verskillende variasies voor.  ‘n Leë troon kom voor saam met ‘n kruis en ‘n kroon, en soms ook ‘n boekrol, lam, duif of Christusmonogram.  Die bedoeling van die gekombineerde simbool is tweevoudig: die stoel is leeg omdat Christus tussen die kruis en kroon is maar gou weer gaan kom, en die leë troon dui aan dat Hy hier en nou tussen ons teenwoordig is, al is dit op onsigbare wyse.

 

MEER MODERNE TYE

‘n Herlewing breek in die agtiende eeu in Amerika en Europa uit, deels as gevolg van die werk van die Wesley-broers, George Whitefield en Jonathan Edwards.  Dit word die Eerste Evangeliese Ontwaking genoem.  ‘n Eeu later lei Charles Finney, Dwight L Moodie en R A Torrey se werk tot die Tweede Evangeliese Ontwaking.  Teen die tweede helfte van die negentiende eeu beklemtoon leiers in hierdie herlewingsbeweging al meer die belangrikheid van heiligheid, en verwys na die ervaring dat ‘n mens onmiddellik of geleidelik geheilig word, as die doping met die Gees.  Die sterk klem lei tot wat vandag die heiligheidsbeweging genoem word, en wat tot die ontstaan van talle kerke en ander groepe lei.  Die heiligheidsbeweging beklemtoon bekering as ‘n krisiservaring wat die begin van die Christelike lewe aandui; heiliging as ‘n tweede genadewerk wat lewensveranderend van aard is; goddelike genesing; en premillenialisme.

 

Skrywer: Dr Marius Nel